More uit Sabiepark
‘n Geskokte kollega van weleer rapporteer met rillings dat Die Burger Saterdag verskyn het onder die hand van ‘n gasredakteur, die nimlike Antjie Krog.
Dié het haar genadiglik kortstondige redakteursoordeel uitgeoefen deur onder meer die spotprent en ‘n pikos-artikel uit te gooi en ‘n strokiesprent in daardie ruimte te plaas of so iets.
Wat ook al die presiese gegewe, stuur die mededeling (en die blote idee) terstond ook ‘n rilling deur hierdie lyf.
Dis asof ‘n proefbuis met varkgriep-virusse telefonies, deur Telkom se lyne in die Kaap tot in my Nokia-handstel hier in Sabiepark, by my afgelewer is.
‘n Gasredakteur – bid jou dit aan!
Het iemand al gehoor van ‘n gas-chirurg, ‘n gas-vlieënier of selfs ‘n gas-sweefstokarties, ‘n gasvragmotorbestuurder of ‘n gaskassier by ‘n bank of supermark?
‘n Redakteur dink duidelik min van sy posisie as hy sulke studentikose grapjastery in ‘n koerant van betekenis toelaat. My probleem is dat hy ‘n beroep wat respek verdien, daarmee beroof van sy professionaliteit en op die swaargewig-tradisies van ‘n dagblad ‘n geringskattende soort rieldans uitvoer.
O wee, waar gaan ons heen?
Naskrif: Oorspronklik het ek geskryf me. Krog het die hoofartikel uitgegooi. Dit was nie die informant se skuld nie, maar die ge-informeerde wat vrot geluister het. Daar was ook ‘n onnodige geniepsige opmerking oor die redakteur wat by nadenke liefs verwyder is. (HvD)