Dit was altyd die “Oom” (Johan van Wyk) se ironiese kommentaar as die trekkers die oggend na goeie reens in die landerye begin dreun. Dan is al die moederverlorenheid oor misoeste en ander ellendes skielik weg soos mis voor die son.
Hierdie “blerrie fool” blog ook al weer. Hoe anders kan ek “die volk toespreek” oor wat op 31 Desember 2006 gebeur?
Dis ‘n herdenking – die herdenking van die huwelik tussen Jakob Hendrik van Deventer en Gesina Susara van Wyk op ‘n snikhete Bultfontein op 31 Desember 1966. Ek, swetend in ‘n swart troupak, en Tokkie, my sprankelbruid. Die begin van 40 jaar se saamloop.
Daardie nag het ons in die Hotel Winburg ons slape geslaap. Of in die keuse van “Winburg” enige simboliese betekenis te lese is, is nie ‘n onderwerp wat ek verkies om hier aan te roer nie.
Nou is Sondag 31 ons robyn-herdenking (ja, ek het haar dit laat naslaan).
Die foto van my robynvrou het ek hierbo vervierdubbel – een foto vir elke dekade se huwelikslewe.
Ek het spesiaal ‘n foto gekies van Tokkie in ‘n guitige stemming met ‘n rooi volstruisboa om die nek. (“tooi jou in rooi, my rooibloedvrou, om my vir altyd aan jou voete te hou…”)
In die boek In Kamera verklaar ek plegtig: Tokkie is die beste ding wat in my lewe met my gebeur het. Lees daardie huldeblyk gerus ook op hierdie webwerf by die skakel Tokkie60.
Ander geheimpies word ook daarin verklap – soos die een van die vlieende piering met ‘n koppie Vyf Rose-tee. Die is ‘n haarbreedte van HvD se kop verby. Sy het haar teiken gemis!
Nietemin, ek verklaar graag – ondanks daardie geslingerde missiel en ‘n paar ander noue ontkomings – ook in hierdie ruimte dat sy inderdaad die beste ding is wat in my lewe met my gebeur het. Wat ek In Kamera geskryf het, en wat op www.hennievandeventer.com/tokkie60/html herhaal is, bly vas, waar en ten volle operasioneel. G’n rede om terug te krabbel nie.
Vir haar se ek vanoggend (hoopvol) ek dink tog sy het my ook lief – sy steek dit net dem goed weg! Toe lag sy darem, een van daardie vrolike laggies van haar.
Ou vriende, nuwe vriende, enigeen wat hierdie lees, klink seblief op HvD en TvD op Sondag 31 ‘n glasie – en dink tog maar in deernis aan my wat al hoe vinniger verouder terwyl sy skynbaar die resep vir ewigdurende jonkheid ontdek het.
HvD
