Die kindertjies in die swembad is maar die begin van die storie. Dis by hul swemles geneem. In Durbanville. Ek en Tokkie moes die twee verlede Vrydagmiddag daar besorg omdat hul pa en ma vir die naweek Mosselbaai toe was. Ek neem toe my kamera saam en kom met ‘n pak swemfoto’s huis toe.
In elk geval, toe hulle Maandag moet terug Welgemoed toe is Oupa se beursie weg. Ek is maar agtelosig met sulke klas dinge, maar die keer kon ek sweer ek kan my spore volg totdat ek die beursie in die woonkamer op ‘n tafeltjie neergesit het.
Ons keer die huis om. Ek. Tokkie. Lydia (huishulp). Die twee word ondervra, maar kom net vorendag met: “Oupa, bursjie.”
Nou-ja die feesdae le voor en vroeg in die Nuwejaar wil ons pad vat met die ou CR-V. Die word nou ons Bosbus. Ek laat neem dus dadelik foto’s vir ‘n rybewys; ek ry AA toe en reel vir ‘n nuwe kaart; ek bel Infinity – en hou tot in die “infinity” aan voordat iemand antwoord – om ‘n nuwe Wildkaart te bekom. Ek reel met die bank om van elke transaksie ‘n sms te stuur, dag en nag.
Die Dinsdag hang onweerswolke nog in die lug. Ek is ongelukkig want ek glo my beursie het in die huis weggeraak, Tokkie is ongelukkig want sy se ek beskuldig maklik ander terwyl my eie rekord maar power is, Lydia is ongelukkig want sy vermoed haar onvermoe om die beursie op te spoor, reflekteer sleg op haar.
Die Woensdagoggend roep Tokkie uit die kamer. Hier is die beursie, waaragtig. Onder haar fyngoedjies op ‘n lae rak in die kas. Die scenario wat homself aanbied, is nie moeilik om te ontrafel nie.
Op my program vir die dag was om in Milnerton te gaan toustaan vir ‘n rybewys. My nuwe AA- en Wildkaarte was reeds op pad, Die sms’e kom in, selfs elke keer as T net melk en brood koop. Nou die verligting! Ek was so bly, ek was niks kwaad nie – nie eens toe T bely sy onthou vaagweg iets van Jacob wat beursie in die hand by haar aangekom het nie. Toe se sy net: “Gaan bere dit.” Toe gaan bere hy dit gehoorsaam, soos sy ouma gese het. Soet seuntjie!
Ewenwel, nou pas ek daardie beursie omtrent op, hoor. Kontroleer minstens twee keer per dag of ek weet waar dit is.
Laas het ek gedreig met die storie oor TY24. Kom ons bere dit vir Januarie as my nuwe nommerplate opkom. (Maar die nuwe CRV ry darem wonderlik!)
Intussen ‘n kort bulletin oor die Kaapse Volksbladmense se welstand nadat ek gister telefonies die ronde van Vader Cloete gedoen het:
CHRIS MOOLMAN: Hy was gister by sy artse. Die behandeling is op spoor. Hy is daar weg met nog R8 000 se interferon vir die volgende maand. Die goed maak hom naar en moeg, maar die dokter meen in die lig van die dosis wat hy kry, is die reaksie nie te erg nie. Die goeie nuus is dat die behandeling nie die witbloedselle aanval nie. Dus is dit volstoom voort.
PIET GOUWS: Hy was die vorige dag in die tonnel vir ‘n “cat scan”. Nou moet bepaal word presies waar en hoe hy bestraal moet word. Die behandeling sal waarskynlik a.s. week begin.
FRED SCHNETLER: Hy kla hy is maar erg kortasem. Word gou moeg, en soek dan dringend ‘n bed vir so 20 minute. Die wakker FS-verstand werk steeds oortyd. Hy het ontdek wat almal vergeet het: dat Afrikaans op plate vanjaar 100 jaar oud is. Die resultaat was ‘n rubriek gister in Volksblad. Ek moedig hom aan om vir By iets te maak dat die res van die land ook daarin kan deel.
CHRIS KOOLE: Hy is in remissie tot middel Januarie. Die behandeling word dan hervat. Hy klink goed en rapporteer dat hy goed lyk en goed voel.
BEN VAN RENSBURG: Perdfris na ‘n nag in die hospitaal met ek weet nie presies wat nie.
Nog Kaapse nuus is dat Salie en Lisa de Swardt se jaarlikse Beeld-party vir oudgediendes vanaand op hul pragplasie by Stellenbosch gehou word. Dis altyd ‘n feestelike geleentheid. Gerda Pienaar en Salome Iemand (ek ken haar nie) het vir die geleentheid ingevlieg. Ben en Rina Koen ry van Langebaan af. Piet Gouws ruk op uit Muizenberg. Ek sny vanjaar daardie koord deur. Raak te oud om in die aand te ry op ‘n pad wat my plek-plek die horries gee – en dit boonop met ‘n lyf vol wyn. Gaan dus maar hier op Melkbos die huweliksherdenking van vriende in ons portuurgroep bywoon.
‘n Laaste dingetjie is ‘n algemene ekskuus aan almal wat ek die laaste ruk onder e-posse begrawe het, party glo taamlik veeleisend om af te laai. Jammer, vriende, dis net dat ek so lekker met al die nuwe goeters speel. Sal vorentoe groter selfbeheersing aan die dag probeer le.
Dis dan dit. Gesondheid in die rondheid.
HvD
