Een feesdag verby; vier om te kom. Dis die situasie by die Van Deventers hier aan die einde van 2006/begin 2007.

Kersfees was ‘n familie-besigheid: Ons en ons kinders en kleinkinders; ouma, swaer en skoonsus Fanie (Tokkie se broer) en Maretha, skoonsus Mimi (Mariza se ma).

Ons Kersete was iets van die bos en iets van die see. Van die bos was gebraaide vlakvarkboud. Mimi het dit in haar (oorgewig) bagasie uit Johannesburg saamgebring. Skitterend! Van die see was daar kreefsterte en calamari (Tokkie en Mariza se spanpoging). Ook koningskos!

Die middag het ge-eindig in Johan en Mariza se nuwe swembad. Vide die foto van die twee swaers plus Jacob en Thomas in die water. Wat ‘n vrolikheid!

Saterdag 30 Desember is Brent en Mariza 6 jaar getroud, en Oujaarsdag ek en Tokkie 40. Glo ons “robynherdenking”. Gelukkig het ek vir haar jare gelede ‘n robynjuweeltjie uit Rusland saamgebring. Saak afgehandel.

Ons nooi ons vriende vir ‘n korter of langer inloer Sondag na kerk. Hier sal wyn wees. Johan gaan wors braai vir worsbroodjies. Ek hoor ook iets van hoenderslaai en koue waatlemoen.

Ons fees van die jaar was egter op 15 Maart toe Tokkie 60 geword het. Hierdie is sommer maar net.

Woensdag 3 Januarie is die ou gryse 66. Die volgende dag gaan haal ek my nuwe registrasienommer: TY 24 WP. Die storie kom nog. In elk geval, ‘n lekker verjaardagpresent.

Saterdag vertrek ons op ons eerste skof Sabiepark toe, via die Karoopark, Sarel Venter-hulle in Bloem en Ben Smith-hulle in Randburg.

My kruisbande en baadjieknope begin waarsku dinge loop verkeerd – en hef-aan le nog voor.

Ai, dis lekker om mens te wees!

Groetnis – en mag 2007 ‘n GROOT jaar wees.

HvD.

Deel dit: