Sondag, Oujaarsdag, veertig jaar gelede is die jongeman Jakob Hendrik van Deventer en die jongevrou Gesina Susara van Wyk (toe nog nie 21 nie) op Bultfontein in die eg verbind.
Veertig jaar – dis ‘n stywe skof. Daardie lag-met-‘n-traan-grappie oor ‘n lang huwelik kan by so ‘n geleentheid seker afgestof word:
Twee gryskoppe sit en gesels oor die getroude lewe. Die een ou wonder hoe dit moet wees om 40 jaar ongelukkig getroud te wees. Die ander ou antwoord: Wel, dit moet hel wees. Ek is 40 jaar gelukkig getroud en dis erg genoeg!
Dat dit so erg sou wees, is seker oordrewe. Elke huwelik het vermoedelik maar sy goeie en sy minder goeie tye. Vir my is die groot toets opgesluit in ‘n eenvoudige vraag: sou jy weer?
As jy sukkel om daarop “ja” te antwoord, kyk jy waarskynlik terug op ‘n stuk groot onaangenaamheid.
A.G. Visser (een van my gunstelinge) het ‘n oulike versie gemaak oor Die Katkisasieklas (veertig dae lank gereen, veertig nagte agtereen…). Hier is my poginkie tot ‘n parodie:
Veertig jaar getroud met een,
Veertig jaar van ryke seen;
Dis ‘n lang skof tot op hede;
Oom, mag ek vir Oom iets vra?
Maar alte seker, seunie, ja:
Is die Tante daa’m tevrede?
Klink Sondag ‘n glasie op my en Tokkie. Veral op Tokkie. Sy moet maar hare op haar tande gehad het.
HvD
