Perry Como sing van Magic Moments. M-Net verklaar breed: “We won’t stop the magic.” In vriend Hennie Jonker van Melkbos se woordeskat is “magic” ‘n ankerwoord. Maar hoe vertaal ‘n mens “magic” in hierdie sin? Dis nogal moeilik. “Magic moments”? Oomblikke van betowering? Oomblikke van soete betowering dalk?

Soos elke keer, het die Van D’s se somerbesoek aan Sabiepark ook sy kwota goue oomblikke opgelewer.

Die subliemste ervaring van die kuiertjie was waarskynlik die middag toe ‘n olifant kom maroelas soek het waar Solly, die opsigter, dit by die piekniekplek op ‘n hoop hark. Ons en die Louwrense van Skukuza (ds. Carel en Sarah) was op die uitkykdek met twee bottels Tall Horse sauvignon blanc. Die jongerige bul waad toe eers rustig oor die rivier in die namiddagson – ‘n treffende foto. Toe stap hy doelgerig die stegie in tot vlak teen die bruggie waarop ons in vervoering staan – Sarah met skoene in die hand, gereed om te hardloop.

My film was op. Gelukkig was Tokkie se Pentaxie in haar drasak. Want nader was Tarlehoet se mense nog nie aan ‘n olifant nie; nie eens destyds op die wandelpad nie. Die harte het gebons. Ook vir ons eie “Mayafudi” was die teenwoordigheid van mense hier vlakvoor hom klaarblyklik ongemaklik. Sy gesteurdheid is met afkeuring te kenne gegee.

Aanspraakmaker nommer twee op die titel Groot Oomblik was gewis ons eerste middagbraai in die verruimde”braaihok” by ons voorstoep. ‘n Ekstral paneel latwerk is bygesit. Nou staan “Manie se braaier” (sien Buurman van die Wildtuin) in die koelte van die maroela-jakkalsbessie-kombinasie, met ‘n onbelemmerde uitsig op die watergat. Die “veld-gevoel” is terug. Die middagbraai was op die ingewing van die oomblik, maar lank en lekker. Laatmiddag-koffie in die swembad het die okkasie afgesluit.

Nog ‘n kandidaat vir die titel is ‘n tipiese Bosveldse donderstorm Sondagaand 4 Februarie, met vooraf ‘n lang blitsespel en die geruis van ‘n sterk wind. Toe begin die water uit die donker hemel giet. Vir die veld was die 40 mm ‘n verkwikking. Oornag was die groen en die sprankel terug.

Januarie wou-wou vir ‘n droogterekord sorg. Op die nippertjie, Woensdagnag 31 Desember, het uitkoms gekom. Die maandsyfer is met 19 mm tot 46 mm opgeskuif – nog ver agter ‘n nat Januarie soos 2006 (222 mm!), maar darem nie meer in die geselskap van die heel droogstes nie. Die gemiddelde vir Januarie is so 120 mm.

Ons kon die bos Woensdag groet so lowergroen soos ons hom ‘n maand gelede gekry het. Dit sit vreugde in die hart. Lees gerus Psalm 65: 10 en 11.

Die naguitljies se roep van alle kante was hierdie keer werklik treffend – onoortreflike “surround sound” uit die bos. Die nagapies wat lank, lank voor donker hul nekkies begin rek in hul grasneste doer hoog teen die muur van die voorstoep was ook (weer) ‘n hoogtepunt. Volmaan (Vrydagaand 2 Februarie) was verruklik – soos altyd. Die rooi kleed van die sterkbos en die vlaktevlam was vir T. ‘n fees. My rooi-groen-kleurswakheid was egter ‘n persoonlike struikelblok.

Slegte nuus was dat nie net een kameelperdjie in ons afwesigheid roofdier-kos geword het nie. Spikes en Lulu is albei platgetrek – een deur leeus, die ander deur ‘n luiperd. Bedink dus ons vreugde toe ‘n nuwe langnekkie sy verskyning maak – in die voorlaaste nag van ons vakansie. Die hans-outjie (Careltjie) wat nog in Cheryl Sterk se pleegsorg is, het darem weer ‘n maatjie. Sabiepark het nou 12 kameelperde. Wens hulle wil vinnig meer word.

Witnek die duiker het nie opgeduik nie. Die opvolger is nog wild. Hy kry omtrent ‘n vaartrukking as hy jou net gewaar, en Tokkie se pitjie-presentasie breek nie deur sy skans nie. Nou die middag was daar ‘n vinnige duiker-kommosie by Tarlehoet – seker die opvolger wat ‘n nuwe kroonprins moes verdryf.

‘n Jong bosbokrammetjie het telkens doekvoet om die huis beweeg. ‘n Koedoekoei wat haar kalfie ( twee bakstene hoog!) in ons geweste versteek het, het die kleintjie gereeld gebring vir ‘n paar slukkies water uit die voelbadjie.

Vier vlakvarke, waaronder ‘n tweeling, het vir konstante plesier gesorg – en vir fotogeleenthede, soos wanneer die japsnoetjies van weerskante inval om te drink. Hulle het ons na die (heelwat mooier) tweeling in Welgemoed laat verlang!

Helena die hiena het helder oordag die voelbad besoek. Ook twee dwergmuishondjies. By die watergat was ‘n enkele waterskilpadjie. ‘n Gewone bergskilpadjie het oor ons motorpad geskarrel.

Bobbejane het geboggom vir ‘n vale, maar Tarlehoet het die keer ‘n volskaalse bobejaanbesoek gespaar gebly. Dankie tog!

Elders in Sabiepark het ons gereeld ‘n mooi troppie wildebeeste met drie kalfies gesien. Sebras was skaarser as gewoonlik. Rooibokkies, rooibookkies, rooibokkies was oweral in groot getalle. Vir hulle was dit klaarblyklik ‘n geil jaar.

By die piekniekplek was o.m. buffels, olifante en ‘n keer vyf fiere koedoebulle (drie en twee). Oorkant die rivier op die S3 het ons ‘n luiperd aangetref – ongelooflik gebalanseer op ‘n dun takkie. Ook ‘n stewige trop buffels, seker dertig of meer.

In die Wildtuin het ons in die algemeen nie te vrot gevaar nie, ondanks die somerweligheid. Die Vyf Grotes is almal op ons kerfstok. Die Doispanepad het twee keer vir leeus gesorg. ‘n Witrenoster en haar kalf het ons naby Afsaal raakgeloop en ‘n tweede luiperd naby Malelane. Olifante en buffels was volop.

In T. se voelboek is twee nuwe inskrywings: die swart koekoek (Tarlehoet) en die gewone ruiter (piekniekplek). Die voellewe by die piekniekplek bly ‘n fees. Saalbekooievaars skeer oor die water. Reuse- en ander reiers konsentreer roerloos op ‘n moontlike vangs. ‘n Verskeidenheid visvangers duik hul duike. Visarende roep en roep.

Steven James-hulle van Abu Dabi was op besoek met ‘n span voelkykers. Teen 17:00 was hul totaal vir een dag al 116. Laat ‘n mens skoon minderwaardig voel. Hul rekord vir ‘n dag staan nog op 146 (meen ek). Die Sabiepark-voelgids (sy baba) spog met 311 soorte. Ons sal moet roer!

Die nimlike Steven het hom op ‘n Sondagoggend op sy werf (erf 270), al soekende na voels, in ‘n leeu vasgeloop, vertel parkhoof Gerard van Niekerk. Steven het een kant toe gespring. Die leeu, ewe verskrik, gelukkig anderkant toe. Gerard en sy mense is ontbied. Hulle het skaars die leeu verdryf, toe rig Steven al weer sy allemintige verkyker op die bome!

‘n Hartseer-episodetjie in die reenboognasie van die gevleueldes het hom by die kantoor afgespeel. Paradysvlieevangers het daar ‘n nessie aan ‘n dun takkie gebou (‘n perfekte stukkie konstruksiewerk) en twee kleintjies uitgebroei. Op ‘n buitengewone warm dag het die besorgde moedertjie ure oor die kleintjies gestaan om met haar vlerke koelte te maak. Die volgende oggend was die tweetjies weg. Pa en ma het verslae rondgemaal met die kossies wat hulle gebring het. ‘n Slang (boomslang of takslang) het in die nag besoek afgele.

Dit bring ons by die berugte Laeveldse somerhitte. Almal wil mos ljimmers weet: hoe hou julle dit?

Laat my maar erken. die dag toe die Bosbus se nuwe eienaar, mnr. Dennis Mkhabela, sy ryding kom haal en ek en T. in bloedige hitte (tussen 13:00 en 14:00) onder ‘n sambreel van die hek af Tarlehoet toe moes aanstryk – Oubaas in die lang pad! – het ek self hitte-uitputting begin vrees.

Ja, die kraaie gaap maar in Januarie in die bos. Een middag het sewestuks buffels ure lank by die piekniekplek in die water gele. Omtrent net koppe en horings het uitgesteek. Een Sondagoggend het ouderling Willie Crowther met kortbroek en tekkies uit die konsistorie gekom. Drie bokse Robertson Light het van lank staan in die hitte ondrinkbaar geword, en is die een na die ander op Sabiepark se hetige aarde uitgetap. Hoop die miertjies het dit geniet!

Maar ons ou swembadjie – primitief soos hy is – was weer ‘n lewensredder. In die somer is dit bosgenot soos min! Die dakwaaiers het gewoer. Heelwat bewolkte weer het ook gehelp om die temeperatuur in toom te hou, en elke buitjie was natuurlik ‘n lafenis. Na die 40 mm was dit met die sesuur-koffie op die stoep selfs ietwat koel!

Nietemin, die hitte is ‘n klein prys om te betaal vir al die betowering – soete betowering – wat die Van D’s weer daar “Halfpad hemel toe” beskore was. Ons sal weer in Januarie gaan, en ons gaan NIE Sabiepark toe om ons te straf nie!

Dink net, op 15 November sal dit al tien jaar wees sedert ons die deur van Tarlehoet – toe nog Ukuthula – die eerste keer oopgeskuif het. Tien jaar! Wat ‘n grenslose, onverdiende genade!

HvD

Deel dit: