Dat ‘n aardse onderwerp soos lappe om voete ‘n heerlike fonteintjie van herinneringe tussen volslae vreemdelinge kan oopboor, klink bra onwaarskynlik. Lees hier:

Gister gesels Tokkie, my gade vir 40 jaar plus, met ‘n vrou wat deur ‘n vriendin aanbeveel is vir ‘n bepaalde doel. Die gesprek kom uit by kinders wat in kinderhuise grootword.

Tokkie vertel van die kinderhuis-seuntjie wat rondom 1970 naweke en vakansies by ons deurgebring het. Sy onthou hoe lief hy altyd was vir ” ‘n vleisie met ‘n beentjie aan”. Sy onthou ook hoe opgewonde hy was oor hoe hulle by die inrigting vloere skoonmaak. Lappe word om die kinders se voete gedraai, het hy vertel. Dan skaats hulle uitbundig heen en weer. Siedaar, weldra is die vloere skitterblink.

“Klink of jy van Bloemfontein praat,” se die vrou.

“Bloemfontein inderdaad,” antwoord Tokkie. “Maar hoe op aarde het jy geraai?”

Die vrou lig Tokkie in haar man was in die sewentigs ‘n student aan Kovsies. Sy moes die skoorsteen aan die rook hou. Toe kry sy werk by die Kinderhuis. Sy is trouens self ingespan om die gange se vloere te “doen”. Maklik. Gaan sit net op ‘n stewige lap. Dan sleep die groter kinders haar op en af.

“Wat was die naam van die seuntjie?” wil sy weet.

“Donny Montgomery.”

“Ou Donny, wonder wat van hom geword het,” mymer die vrou. “Julle weet seker sy boetie is vlakvoor die skool deur ‘n motor doodgery?”

Ons weet, antwoord Tokkie. Ons het gehoor kort nadat ons in 1974 Johannesburg toe getrek het vir die stigting van die dagblad Beeld, waarvan die uwe die eerste nuusredakteur was. (Terloops, daardie stoere ou Beeldgebou in Millerstraat, Doornfontein, is nou net ‘n hoop rommel. Sic gloria transit!)

Maar Donny – ek sou ook graag wou weet waar hy is en hoe dit met hom gaan.

Die foto van die kerkie hierbo hoort nie direk by die Donnystorie nie. Dit is Babanango se kerkie waar HvD in 1941 gedoop is. Wat maak die ou swart-wit-foto’tjie dan op die ereplek bo-aan die blog? Dit spruit uit ‘n inskrywing gister in die gasteboek op die Van D-webwerf. Anri de Beer het op die foto afgekom op hennievandeventer.com, op die kerkblad.

Ditsem, laat weet sy toe. Dis presies hoe die ou kerkie gelyk het toe sy 40 jaar gelede op Babanango gewerk het. “Dis eintlik ongelooflik.”

Hoop die tema van vandag se blog begin stadigaan duidelik word. Dis herinneringe. Dit gaan oor hoe ‘n klein volkie soos ons eintlik maar een groot familie is wat sommer maklik op raakpunte en gemeenskaplikhede afkom. Daar is hope sulke stories. Elkeen het egter sy/haar eie stories: hoe soms in die onverwagste gesprekke en vreemdste situasies allerlei onthou-jy-nogs opduik. Gemeenskaplike kennisse en ervarings skuil amper om elke draai. Ek haal maar hierdie twee brokkies aan omdat hulle vars is.

Dit bring my by landgenote wat Suid-Afrika se stof van hul voete geskud het. Net Maandag lees ek in Maureen Joubert se Van Alle Kante in Die Burger weer oor die dingetjies wat daardie ouens se monde laat water. Dis Marmite en appelkoosjem, Mrs. Ball se blatjang, Ouma se beskuitjies, Peppermint Crisp, boerewors, biltong, selfs snoek. Londenaars met ‘n SA aksent ry maklik 75 km per trein na die dorpie Milton Keynes vir sulke inkopies, skryf Maureen, wat lank self daar gebly het toe haar man, Fritz, in die sewentigs Nasionale Media in Londen verteenwoordig het.

Dis mooi en goed, natuurlik, dat die “old boys” (en “old girls”) steeds so graag Suid-Afrikaanse smake op die tong proe. Maar in die stilligheid wonder ek tog wat is dit wat daardie mense so aan hierdie goeters vasknoop. Is dit ‘n smagting na ‘n onvervangbare smaak? Is dit dalk iets geheel anders? Nostalgie na wat was? ‘n Soeke na iets wat bind? ‘n Plaasvervanger vir die een of ander gemis? ‘n Gemeenskaplikheid doer ver in die vreemde?

Kom ons los die onderwerp maar daar. Ek soek nie baklei nie. Maar dat dit lekker is om gedurig bande met ou vriende te ontdek en te herontdek, of om nuwe vriende te maak op grond van ervarings wat sinchroniseer, is ly darem geen twyfel nie.

Nou wil ek vertel van twee skakels wat pas op die tuisblad van hennievandeventer.com aangebring is. Die een is na www.dieknoop.co.za ; die ander na www.soek-afrikaans.co.za

Eersgenoemde noem homself die poort na duisende Afrikaanse bestemmings. Kom snuffel rond op die webwerf waar Afrikaanse skakels saamgeknoop word, nooi hy. En elke dag word nuwe skakels bygevoeg. Gister was dit o.m. Spel.co.za (Afrikaanse speltoetser en tesourus) en Skooltake.co.za. Nog ‘n relatiewe nuweling is Bok van Blerk. De la Rey, De la Rey…! ‘n Ou staatmaker is my vriend Ollie Olwagen se Mieliestronk.com, ideaal vir skooltake en propvol hope pret.

Soek-Afrikaans nooi op sy beurt: kry die internet in Afrikaans. Ek meen daar is iets soos 1544 skakels. Is fotografie jou geit of godsdiens jou passie? Is jy op die spoor van skrywers of kunstenaars? Beoefen jy ‘n besonderse stokperdjie? Van alles onder die son kan jy daar raakloop – in jou eie taal. (Terloops, hennievandeventercom is nommer 121.)

Vir baie lesers van hierdie blog verkondig ek seker nou ou nuus. Jammer en askies, mense. Maar vir diegene wat hierdie twee poorte nie ken nie: doen julleself die guns – gaan kyk. Dis nuwe werelde wat voor ‘n mens oopval. Die twee versamelwerwe is boonop propvol dinge wat die groot “familie” van Afrikaanspraters saambind, of hulle nou hier vasskop of elders gaan nesskrop het.

Groetnis

HvD

Deel dit: