Gaste dam op voor jou hek. Jy druk dan hierdie knoppie, dan daardie een. Die hek bly bot-toe. Jou vrou raas al hoe harder oor jou onbeholpenheid. Verward druk jy later die “remoutjie” in haar hand. Dan ontdek sy genadiglik die regte knoppie….
Regtig met my gebeur. Verlede Donderdag in Welgemoed by Brent en Marisa se huis. Terwyl hulle in Sabiepark kuier, pas ons weer tweeling op – verlede week daar by Kommandeur 3 en van gister af terug in die bekende omgewing van Penguin Place 11 (dankie tog).
Vir ‘n ou met die minimum knoppies van sy eie en met ‘n diepe angs oor vele aspekte van die moderne tegnologie was Kommandeur omtrent ‘n vagevuur. Ten minste vir die eerste dag of twee. Ook nie net oor die balhorige veiligheidshek nie, al het die vir die donkerste oomblik gesorg en het ons en ons gaste (Piet en Petro Theron van Bloemfontein en ‘n paar ander oud-kollegas uit die goeie ou Volksblad-dae) so amper-amper op die sypaadjie moes piekniek maak!
Watter knoppie werk watter motorhuisdeur? Hoe keer jy die hek as hy onheilspellend op jou begin afpyl voordat jou motor nog veiligheid bereik het? Klink na simpel vrae met eenvoudige antwoorde. Maar heeltemal SO simpel is dit allermins.
Dan moes DSTV met sy spul kanale – wat ek van g’n adamskant ken nie -boonop onder die knie gekry word. Nogal ‘n fris uitdaging vir ‘n volslae oningewyde wat maar met sy SABC2 en M-Net nog doodtevrede is.
Marisa het ewe bedagsaam drie lewensgroot afbeeldings van die “remoute” gemaak met eenvoudige aanwysings – netjies genommer. So skakel jy die spulletjie aan, so skakel jy dit af. So rits jy deur die die kanale om by rugby, Sewende Laan of National Geographic te kom. Maar. boeta, al staan dit als op papier sorg die praktyk ook maar vir ongemaklike oomblikke. Soos wanneer jy 47 druk, druk en weer druk en elke keer net 4 op die plasmaskerm (nog ‘n nuwigheid) kry – of wanneer die kinders se dierekanaal skielik waarsku: nou word “viewer’s discretion” aanbeveel.
Om dan vinnig genoeg na die tweeling se sin ‘n alternatief te vind, verg vernuftige knoppiewerk en hare op die tande.
In my 66 jaar op die ondermaanse was hierdie die eerste keer alleen saam met kleinkinders in Pa en Ma se huis. Om gewoond te raak, het werklik ‘n tydjie gevat – en dis wat die Engelse noem ‘n “understatement”.
By die eerste ete is sout, peper en ‘n bliksnyer nodig. Eersgenoemde twee kan Jacob en Thomas dadelik op die speseryrakkie gaan uitwys. Laasgenoemde slaan hulle ‘n rukkie dronk. ‘n Vingerbeweging oor die blikkie se rant laat egter ‘n lig opgaan. Die regte laai word oopgepluk en daar le ta.
So leer jy afhanklikheid, en dit van twee kindertjies wat nog nie drie jaar oud is nie!
Jy leer ook nuwe kulture, soos ‘n radiowekker wat in die stikdonkerte skielik vrolike musiek begin uitdawer. Vervaard druk jy dit dood. Vyf minute later is dit dieselle storie. Al raad is om die bed weg te skuif en die muurprop uit te trek.
Met jou drarekenaar loop jy van vertrek tot vertrek. Later kom jy in die woonkamer geholpe met ‘n muurprop en ‘n telefoonboksie wat na genoeg aan mekaar is. Maar dan moet jy plat op die vloer sit en werk, wat liefs nie oordoen moet word nie as jy hoop om sonder hulp orent te kom.
Jy leer om vroeg te roer vir die Sondagkoerant. As Sasha, die yslike labrador, hom voor jou in die hande (pote!) kry, is dit klaar met kees, en kan jy maar vergeet van lees.
Jy leer ook om oordeelkundige roetes vir jou oggendwandelinge uit te soek. Want Welgemoed is nie Melkbosstrand nie; dis heuwel op heuwel en die stremming op jou kuitspiere kan erg raak as jy te oorambisieus raak.
Terloops, die bome is darem baie groter en die mure baie hoer as tien jaar gelede toe die Van D’s nog in O’Kulisstraat gewoon het. En sak die vliegtuie nie deesdae laer nie as hulle met oorverdowende gedruis oor die huise se dakke heen skeer? Voel so, klink so.
Maar die indrukwekkende Bolandse berge – die het darem nie verander nie. Gelukkig nie. Elke oggend is jy opnuut verruk as die sonnetjie die lug bokant die donker pieke begin kleur. En Welgemoed se kerk, bra onaansienlik van buite, maar binne vol gewyde atmosfeer, is darem ook nog ‘n vaste baken. Dis nog presies soos jy dit onthou – ‘n ware Godshuis. As jy instap, voel jy dadelik weer tuis.
Toe kom sit langs my in die kerkbank Bernhard Louw, wie se naam ek na ‘n rukkie eers uit ‘n stotterende geheue kan opdiep. Hy was in 1960 Matie-redakteur toe die uwe Perdeby-redakteur was. Ons het op ‘n ASB-kongres op Stellenbosch ontmoet, waarheen die Tukkies met ‘n trein opgeruk het. Maar net vier en ‘n halwe dekades gelede!
Op die foto is ek en Thomas bo in die dammetjie aan die einde van ‘n l-a-a-a-ang glybaan wat Johan vir die kinders gehuur het om hulle te bederf. Onder spuit Jacob sy oupa nat, en kraai natuurlik van die plesier. Die foto’s is nie in Welgemoed geneem nie, maar op Melkbos – lekker ou plek – se gras.
Lekker ou Melkbos, ja. Ook lekker ou eie bed en lekker ou eie stoel. En lekker ou PC waar ‘n mens gerieflik ‘n blog-gie kan komponeer.
HvD
