Ja, Tafelberg staan nog waar hy staan. Vandag is die fokus egter nie op die berg nie. Dit is op daardie muur en tralies (die duskantste) wat my eiendom omring om fisieke indringing van my persoonlike domein te probeer verhinder. Oral (veral in Gauteng, liewe Gauteng, maar dan verreweg ook nie net in Gauteng nie) leef mense mos maar toenemend agter tralies om gevaarlike elemente uit te hou.

“Ingehok soos watse gekke
agter tralies en hoe hekke
met pistole by ons kole,
hou ons dikbek
ons blink bekke.

(Uit Polisie, Polisie …..)

Geestelike inbrekers raak deesdae ewe onuitstaanbare peste as die ouens wat oor jou mure klim, vensters uitbreek en jou goeters wegdra. Die rekenaar, die selfoon en ander nuwerwetser kommunikasiedinge waarvan hierdie ou gryse weinig kennis dra, het ‘n skare weerlose slagoffers geskep wat nie weet hoe om teen hierdie “oorlog” doeltreffend wal te gooi nie.

Ek onthou nog hoe blootgestel en veronreg ek gevoel het toe ‘n inbreker op ‘n Sondag tydens die erediens meer as tien jaar gelede daarin slaag om O’Kulisstraat se huis in Welgemoed binne te dring en onder my beste drank (plus twee paar ou tekkies) te oes.

So voel ek nou oor die misbruik van my rekenaarskerm en selfoon deur allerlei smouse, kwaksalwers, werwers en agente wat hul aanbiedinge aan jou opdring en/of hul produkte aan jou probeer afsmeer – van politiek tot pornografie.

Ek onthou (met ‘n meewarige glimlag) hoe ontstel ek was oor die aanbreek van die faks-era in die jare tagtig – die finale groot deurbraak, het ek in my naiwiteit geglo – vir geestelike geweldenaars wat skaamteloos, verby alle normale maniere van beskaafde kommunikasie, direk en onmiddellik tot hul teiken wil deurdring.

Ja, ek het ook in die onstuimige dekade tagtig met sy politieke woelinge via die Poskantoor se telefoondiens hope dreigoproepe ontvang, en ‘n man soos regter Albie Sachs is die lewende bewys van hoe ‘n briefbom jou liggaam kan stukkend ruk. Maar in die algemeen was die brief en die telefoonoproep beskaafde, beheerbare kommunikasiemiddels wat jy redelik doeltreffend kon laat filter.

Gebruikskodes en -kulture het die gebruikers beskerm. ‘n Sekretaresse besluit byvoorbeeld watter oproepe om deur te skakel. ‘n Postafel sorteer watter briewe by wie beland, ens. Maar die faks met sy skyn van dringendheid en belangrikheid kom toe en bars summier by die gewone filters verby. Woeps land hy in jou in-mandjie voordat iemand ‘n vinger kan lig. En jy’s magteloos, want jy is ook maar nuuskierig…

Toe kom die e-pos en die sms, tegnologiese ligjare verwyder van die “primitiewe” faks en met ‘n des te meer diaboliese vermoe om persoonlike skanse plat te loop – en mense se privaatheid binne te dring. Enige e-pos-gebruiker kan sekerlik ‘n ellelange lys van sogenaamde “spams” opstel.

Aankondigings van groot pryse wat in allerlei eksotiese loterye “gewen” is en uitnodigings tot ander “maklike geldmaakskemas” laat ‘n oningewyde dikwels huiwer. Se nou net dis eg! Onsubtiele aanmoedigings om die kwaliteite van Viagra op die proef te stel, het ongetwyfeld ook al daardie produkkie se verkope aansienlik opgestoot (as dit ‘n goeie woord is).

Ons bou natuurlik op rekenaargebied ook ons “firewalls”; ons laat ook kwaai waghonde in die vorm van ‘n grote verskeidenheid virusjagters op ons werwe los, ons kodeer ‘n fyn stel siwwe met streng keuringsmaatstawwe…maar tog. As jy jou oe uitvee, is die goggas daar op jou skerm – lewensgroot.

Waarheen ek mik, is na wat (vir my altans) na ‘n bose nuwe aanslag van gewetenlose uitbuiters lyk: die los van geheimsinnige kodeboodskappe op die gasteboek van jou webwerf.

So twee weke gelede het die eerste ene by my opgeduik. Al wat ek kon uitmaak, was “lalala” en “I hope you will like it.” Soos ‘n aap het hierdie drommel voor die versoeking geswig en op die “lalala” geklik. Toe ek my weer kom kry, huppel ‘n “daily sample” van ‘n “virtual stripper” elke dag op my skerm rond in verskillende stadiums van ontboeseming. Verbeel jou die verleentheid as die dominee langs jou sou staan wanneer Mej. Daily Sample haar ware begin wikkel!

Gister was daar ‘n nuwe boodskappie tussen die vriendelike woorde van bona-fide besoekers. My eerste embarrasserende ervaring en die feit dat ek hierdie keer duidelik die woord “porn” tussen al die vreemde kodes kon ontsyfer, het waarskuwingsligte helder laat flikker.

‘n SOS uit Melkbos het ‘n bedrewe vriendin (‘n ware engel) tot my redding laat kom. Sy het vinnig sommer van haar huis af daarvan korte mette gemaak. Maar ‘n mens ys maar; weet nie wanneer glip iets weer verby wat vir jou skade, skande of ander droefheid kan beteken nie.

Wie het raad?

Hennie van Deventer

Deel dit: