Die gewese Superman Christopher Reeve het sy vrou Emma die lof gegee dat sy ‘n hoender kan gaarmaak dat dit ‘n eer vir die hoender is.

Op Melkbos het ons Sakkie Bruwer(onderste foto). Hy kan ‘n tjoppie braai dat dit ‘n eer vir die betrokke skaap is. Sakkie is ‘n baasbraaier, ook van enige ander vleis, en al jare lank onbestrede die sosiale kommandant van die Probusklub van Blouberg. Hy is, trouens, onvervangbaar in daardie sleutelpos.

In die Probusgeledere is hy nie die enigste voorslag by die kospotte nie. Daar is potjiemeesters, visbraaiers, broodbakkers, afvalbereiders, pasteimakers en wat nog wat almal hul kosmaak ken. Party ouens is behendiger agter die kroegtoonbank. Hulle skink ‘n glasie dop dat dit soos die spreekwoordelike engeltjie-piepie proe.

Saam kuier die klomp ‘n hond uit die bos – soos Hennie Jonker, Danie Grundlingh, Henri van Biljon en die uwe op die boonste foto.

Wat is Probus? Die naam verklap dat dit ‘n samestelling moet wees van “professional” en “business”. Maar dit is “ex-pro” en “ex-bus”. Dit is ‘n klub vir afgetredenes – die manne wat kwalifiseer om verniet by Hermanus se hawe in te gaan en 15% afslag op die eerste Woensdag van die maand by Boland-Kelders te kry. (Laasgenoemde is dalk die lekkerste byvoordeel van senior-burger-status!)

Probus is die skepping van die Rotarier-diensorganisasie. Sy lede is egter ‘n diverse klomp. Party kom wel via Rotarie. Ander uit allerlei uiteenlopende oorde. Party is of was – verrassing, verrassing! – eerbiedwaardige lede van die Afrikaner-Broederbond (nou Afrikanerbond).

Probus is nasionaal – wel, eintlik internasionaal. Melkbos se Probusmense is lede van die Blouberg-klub. Onlangs is gestem dat Blouberg die naam bly – al woon 80% of meer hier in onse Strand van Melk (bos) en Heuning. Wat is in elk geval in ‘n naam?

Maar een ding is nie twee nie: Blouberg- Probus is ‘n Probusklub met ‘n verskil – so dink die lede van die klub graag. Die grootste verskil van die gewone Probusklub is waarskynlik in die Bloubergers (Melkbossers) se buitengewone, informele, onortodokse – soms selfs avontuurlike – uitstappies.

Blouberg Probus laat hom nie geografies vaspen nie en afstande skrik hom nie af nie. Bestemmings soos Swakopmund aan die soom van die Namib-woestyn, die Kgalagadi- oorgrenspark in die Kalahari (Tweerivieren), Sabiepark en die Nasionale Kruger-wildtuin (Olifants, Letaba en Tambotie-tentkamp) is met groot welslae besoek.

Die manne is versot op braai. ‘n Kenmerk van ons uitstappies is dat minstens op een aand – soms meer – die braaivleisvure aangesteek en die roosters te voorskyn gehaal word. Sakkie vat natuurlik voor. Gewillige hande ontbreek egter nie om te help met die slaaimakery, skinkery en dies meer nie. Ons is ‘n groep wat in ‘n lekker gees soos ‘n span saamwerk. Kamerade. Vriende.

Die gebruik om vleis grootmaat te koop en self te braai, het natuurlik die voordeel dat dit uitstappies bekostigbaar maak vir selfs vir diegene wat nie van hou om hand in die sak te steek nie

Ons reis per vliegtuig, per trein, per bus, per motor — watter vervoermiddel in die omstandighede die aangewese is. Na die Krugerwildtuin is byvoorbeeld met ‘n hele konvooi motors opgeruk. Die eerste aand is by die Gariepdam laer getrek vir die tradisionele braai. Die tweede aand was die groep in Sabiepark waar my bostuiste gelee is. Op ‘n keer is met die Trans-Karoo-sneltrein Johannesburg toe gery vir ‘n kuiertjie van 3 nagte by Carnival City.

Van ons uitstappies is uit-en-tuis-geleenthede wat net een dag of ‘n dag en ‘n aand duur. Soms is ons vier of vyf dae uithuisig, soos met Swakopmund (waar die casino groot aftrek gekry het!), Kgalagadi en die Kruger-wildtuin, asook ‘n uitgebreide Oos-Kaaplandse toer wat ons o.m. na die Addo-olifantpark die Nasionale Tsitsikamma-park geneem het.

Ons blyplekke verskil soos ons vervoermiddels. Ons is baie lief vir selfsorg-huisies, -chalets en -rondawels. Soms is dit heel nederig. Ander kere val die keuse egter op deftige hotels (Die casino in Swakopmund, Carnival City, ens).

Van die ander uitstappies wat al deur Blouberg Probus onderneem is, is die volgende:

* ‘n Besoek aan Witsand vir 3/4 dae waar ons self gebraai en een aand gaan uiteet het by ‘n restaurant;

* ‘n Twee-dae-uitstappie na Swartriet. Ons het die Vlakvarkgat, Patermoster en Mykonos besoek en tweemaal lekker gebraai;

* ‘n Hele paar uitstappies na Montagu waar ons op spesiale aanbiedings drie dae bly en net vir twee dae betaal. Ons koop elke keer ‘n halwe skaap, braai een dag en maak potjiekos die volgende dag. Die uitstappies sluit gewoonlik ‘n wynproe by die Weltevredewynplaas by Roberston in.

* ‘n Besoek aan Plettenbergbaai (Keurbooms- chalets) waar ons gebraai het en ook gekuier het by Robberg en by die Knysna-waterfront waar ons middagete geniet het.

* ‘n Twee-dae- uitstappie na Tulbagh se woonwapark plus uiteet by ‘n wynhuis, een na Hermanus en Stanford, een na Citrusdal een na Saldanha , asook een na Matjiesfontein en Sutherland. (Oral lekker gebraai!)

‘n Gewilde daguitstappie is ‘n jaarlikse besoek aan die Kenilworth-perdewedrenbaan waar ‘n geldjie op ‘n perdjie of wat gewaag word en waar die tafels kreun van kos. Ander kuierplekke vir etes saam met ons vroue sluit in die KWV in die Paarl, Jan se Gat (Koeberg), Gansekraal, die Ou Meul, Philadelphia, die Durbanville Hills-wynlandgoed, asook die Koeberg-rolbalklub (waar ons gereelde vergaderings plaasvind) en die Ou Skip-kampterrein (waar ons gereelde vergaderings voorheen gehou is).

Ons glo die gereelde saamkuier met ons vroue – ons “vennote” en almal vriendinne van mekaar – dra grootliks by tot die sukses van die klub.

Die klub het selde sprekers by sy vergaderings. Twee sprekers wat egter met vrymoedigheid aanbeveel kan word, is dr. Frans Hugo, hoof van die geheuekliniek van die Panorama Medi-Clinic, oor alle aspekte rakende geheue (021-930-2177) en dr. Leopold Scholtz, historikus en adjunk-redakteur van Die Burger, oor enige aktuele onderwerp (021-406-2222).

Maar wag, ek moet groet. Dis tyd om die vuurtjie te begin pak….

Hennie van Deventer

Deel dit: