Waar’s ZOELOE ?
Waar is Lance Klusener nou dat ons hom so broodnodig het? Ek weet ek praat met die mure, maar na eergisteraand se foltering in Georgetown. Guyana, moet ek regtig die kritieke vraag van die hart kry.
Dis ook ‘n uiters relevante vraag, want so kan dit waaragtig nie aangaan nie. Die skande in Guyana was net te erg. Ek – en seker tienduisende ander Suid-Afrikaners – is bitter oor die kapitulasie van Graeme Smith se verlepte Proteatjies.
Wat ‘n pynlike gesukkel was dit nie nie: Vier paaltjies in vier verwoestende balle vir “Spook” Malinga! Die soveelste Justin Kemp-mislukking! Pollock wat die veld vol getimmer word! Die laer orde wat verkrummel…
So amper-amper het ons ou spannetjie nederlaag uit die kake van oorwinning gepluk – en sou ons nie verdien het om te verloor nie!
‘n Lance Klusener kon die verskil gemaak het. Daaroor twyfel ek nie. Kyk maar hoeveel keer het hy in sy gloriedae nie wel die verskil gemaak nie. Dan is ook maar voorlangs erg geploeter. Maar dan stap Zoeloe in en moker (nie krap nie!) hy die kastaiings uit die vuur.
Wil die een of ander slim statistikus nie Lance Klusener se Wereldbeker-bydraes in diepte gaan ontleed en in perspektief plaas nie? Ek glo dit sal bevestig hy was in Engeland omtrent in elke wedstryd ons ankerman, telkens die wenfaktor, en nie sonder rede nie Man van die Toernooi.
Maar toe smyt ons ons beste eendagspeler weg. Terwyl die Kemps en diesulkes spartel, is Lance ‘n uitgeworpene in die woestyn. Waarom? Blykbaar omdat hy en ‘n onvolwasse Graeme Smith kort na die begin van die Smith-era nie om een vuur kon sit nie. Nou sit Suid-Afrika in tamatiestraat!
Verskeie van Klusener se middelmatiger tydgenote is nog sleutelspelers vir hul onderskeie spanne. Ons lopiemasjien se kolf le egter en stof vergaar. Sy venynige boulwerk is vir die Proteas verlore.
Onthou Suid-Afrika se krieket-ghoeroes nog die gedreun as hy uitstap om te kolf: “Zoeloe, Zoeloe, Zoeloe?” Was daar na Lance Klusener se tyd ooit naastenby weer so ‘n heldeverering vir ‘n SA krieketspeler?
Onthou hulle die uitbundige vreugde van die skare as die balle so klokslag van sy kanonkolf oor die grenstoue seil?
Dink hulle ooit daaraan dat die Wereldbekler in 2007 binne die Proteas se bereik kon gewees het – as Lance Klusener maar net daar was?
Nou lyk die vooruitsigte maar droef. Hoe hierdie spannetjie van Graeme Smith die Black Caps van Nieu-Seeland gaan klop, of selfs die bleek rose van Engeland, weet ek regtig nie.
Miskien as Smith, A.B. de Villiers, Kallis, Gibbs en Boucher almal met die kolf gaan afkom, en Pollock sy ou ritme en boul-ekonomie terugvind. Anders sien ek net rampspoed en ellende.
Lance, ek huil lang trane oor jou.
HvD
(Naskrif: die foto hierbo is presies 50 jaar oud. Die drie musketiers is Wiekie Moolman, dienswillig die uwe en Willem Hartzenberg, deesdae regter Willem Hartzenberg. Nie een van ons was ‘n Lance Klusener nie. Maar ons was 50 jaar gelede in Potch Volkies se eerste krieketspan. Hopelik sien ons mekaar weer by ons 1957-matriekklas se reunie in September.)
