Die Van D’s het heel ingenome van die KKNK af weggery.

Die keuse van produksies is altyd maar ‘n dobbelspel. Hierdie keer het ek en Tokkie goed gekies. Ons pakkie was solied, met ‘n lekker verskeidenheid. Stewige drama soos Festen (maar, ai, wat ‘n ongelukkige naam – dalk die groot rede vir al die onverkoopte kaartjies!) en Die Twaalfuurwals; Zorada Temmingh en Elna van der Merwe se dinamiese Blondines, Bach en Beatles op twee klaviere; die energieke (en getransformeerde) Libertaskoor met sy unieke repertoire; onopgesmukte humor soos in Die Vals Snor (met die Sewendelaners Ryno, Oubaas en Paula), ‘n baldadige klug soos Lawwe Geluide; die rasperige Dana Snymanhumor in Die uwe, Pottie Potgieter ….. ‘n Mens kan die genietinge bly opnoem.

Ons groot teleurstelling was om Die Storm (‘n Afrikaanse weergawe van William Shakespeare se Tempest) met sy gedugte rolverdeling mis te loop, omdat ons eers op 4 April op O’hoorn opgedaag het. Vir vele was dit die drama-hoogtepunt. Die vraag is of so ‘n spesiale aanbieding werklik net die eerste vier dae op die planke moet wees. Dis mos diskriminasie!

Natuurlik moes die uwe (Broer 12951) eenvoudig net na die Gys de Villiers-kabaret Afrikaner 300 gaan kyk. Dis plek-plek ‘n ongewone en bra oneerbiedig blik op die Afrikanergeskiedenis (safaripakke, kam in die kous en Glenda Kemp met haar luislang!) As jy nie vir jouself kan lag nie, bly weg. Maar ek stem darem nie saam met die jong Matie-resensent Dora Scott wat dit in Krit “spookasem” genoem het wat waarskynlik “binne ‘n dag of twee” vergete sal wees. Trouens, ek dink die AB het hier ‘n goeie (boer-)perdjie opgesaal wat nog lank gaan galop. Gehore (ook die jonges) gaan dit wyd geniet.

Buuurvrou Una Beukman het van die 13de KKNK (die Van D’s se tiende!) teruggekom met weemoed, rapporteer sy, vir eers weens die totale oorheersing in die strate van ‘n duisternis bekende en onbekende musiekmakers se plakkate (Juanita, Kurt, Theuns, Robbie, Amore. Dewald, Jaco, Ghapi, Jakkie en so) en ten tweede weens die kuiertent-kultuur wat al oorweldigender raak.

Una beskryf dit so: “Na Die Storm gaan sit ons almal buite in die soel aandlug met ‘n lekker glasie koue wyn. Toe bars die storm eers los. Uit die ooste kom daar golwe musiek uit die Kango-Wynhuis oor die Karoo aangerol. In die weste doem woeste klanke van die Huisgenootverhoog op en, wil jy glo, reg in die middel staan die ABSA-tent en RSG-verhoog waar daar net so gelawaai word. Manies-kakafonies hou dit aan doef-doef tot lank na middernag.”

Una vra hoopvol: “Sou ‘n mens die fees kon opbreek in twee dele? Die eerste 3-4 dae is net verhoog- produksies [drama, woordkuns, dans en kontemporêr] en die laaste 3-4 dae net musiek [mainstream commercial]?”

Una, ek hoor jou, en ek is nie onsimpatiek nie. Die gevaar word inderdaad al hoe groter dat die “kuier” die “kuns” by die KKNK heel insluk. Die kunstekabinet sal daarteen moet rug styfmaak. Anders gaan die (“manies-kakofoniese”) musiek die fees al hoe meer oordonder.

Maar om die KKNK in twee te verdeel? Jy kan “traai, maar die wiend waai wes”, dink ek. Die KKNK is nou maar een maal (vir “botter” of vir “wors”) die KKNK, waar die plesier en die hogere kuns al so ineengevleg is, soos die koesisters wat jy in Baron van Reedestraat kan koop. Wie die ernstiger dinge eerste stel, moet maar op hul tande byt en hul ore toedruk. Hulle sal wel hul weg vind tussen al die baldadige joligheid deur – of Aardklop toe moet gaan. (En dis nie ‘n kwaadwillige opmerking nie.)

Tyd vir ‘n belydenis. T. en ek is selwers ‘n slag Absaplein toe – vir Bra Elvis, wat volgens die program “op ‘n unieke manier” wou hulde bring aan die koning van rock ‘n roll. Meen, Elvis is darem ons sestig-plussers se werklike bra!

Dis die hardste musiek wat sy nog gehoor het, was T. se kommentaar (Harder as Bok van Blerk se De la Rey, De la Rey elke aand?). Ongelukkig is Robbie Wessels maar ‘n liggewig Elvis en sy banalerige Leeuloop in so ‘n produksie heel onvanpas. Kevin Leo het op sy beurt die stem, maar sy lyfie lyk komielik in ‘n blink pak. Ou Elvis-treffers oos Heartbreak Hotel, Blue Suede Shoes en Don’t be Cruel bly egter immergroen. En nou weet ek ook dat It’s now or never regtig by O Sole Mio gekloon is.

Ten slotte ‘n paar los pluimpies:

(i) Aan die Burger – vir sy stylvolle “glastent” met gratis internet-toegang, salige lugversorging, gemaklike banke, gawe spyskaart en vriendelike diens. Dit was ‘n oase.

(ii) Aan mnr. Arnie Maree (63) van Ridgeworth, Bellville, wat tot 2 600 pannekoeke ‘n dag (gemiddeld 2 000 per dag) vir honger feesgangers gebak het, elke dag van 09:00 af tot omstreeks 23: 00. Dis nou flukse entrepreneurskap!

(iii) Aan Kusmark-staatmakers uit ons Bloemfontein-dae soos Kobus Kotze en Este Mostert (landskappe van albei hang in ons huis op Melkbos) vir treffende galerye. (Ander Kunsmark-vriende, Jona en Alet Coetzer, bedryf die vooruitstrewende Bottega-galery in Baron van Reedestraat).

(iv) Aan die jong bruin opportuniste wat hulle hees gesing het aan De la Rey, De la Rey, terwyl die muntstukkies dankbaar inrol.

(v) Aan “Ryno”, “Oubaas” en “Paula” wat op die verhoog so deeglik kon ontsnap aan hul simpel sepiebeelde in Sewende Laan (julle sal nie kan raai hoe oulik “Paula” regtig is nie!) – en ook aan Frank Opperman wat in Die uwe, Pottie Potgieter weer gewys het van watter stoffasie hy gemaak is.

Daarmee tot siens, KKNK. Ons tiende KKNK was (voorlopig?) ook die Van D’s se laaste. Nie omdat ons kwaad is nie. ‘n Mens moet egter nie te diep in ‘n groef beland nie.

HvD

(Naskrif: ‘n Koerantman wat ‘n week na die fees eers pen op papier sit? Jammer, hoor. ‘n Geldige rede bestaan darem Ons het na O’hoorn eers ‘n draai in Bloem gaan gooi. H.)

Deel dit: