Die een of ander slim kerel het die volgende wysheid kwytgeraak: Hoe ouer ‘n mens word, des te swaarder word jy, want jy dra meer inligting in jou kop. Ek haal hom graag aan oor my eie teenspoed met die skaal. Maar dit daar gelaat.

Op die oomblik is ek aan die versamel aan wetenswaardighede oor 1957 – die jaar toe ek in matriek was. Ons matriekklas van Volkies, Potch, hou in September on M+50-re-unie. Ek wil ietsie opstel oor die jaar 1957, ons oesjaar.

Vier name het dadelik by my opgekom as die mense wat ek ken wat die meeste bruikbare inligting in hul koppe ronddra – nie dat dit noodwendig almal se gewig nadelig beinvloed het nie!

Daardie vier is Fred Schnetler, hierbo by sy beroemde 1941-Packard wat hy gerestoureeer het, Frikkie van Rensburg, Herman le Roux en Leo Kritzinger. Oor elkeen kan jy ‘n blog skryf. Ek dink ek moet. Vanoggend begin ek die “reeksie” met die formidabele Fred.

Fred woon deesdae in Malmesbury in die Swartland. Afgetree en nie gesond nie. Hy is gekoppel aan suurstof en beweeg beswaarlik uit die lekker ruim woonstel wat hy en Marie bewoon. Hy bly bedrywig met die twee groot “emme” in sy lewe: motors en musiek. Het pas ‘n omvattende skedule opgestel van al die veteraanmotors wat by die nuwe Franschhoek-motormuseum uitgestal gaan word. En bevoorregte vriende wat ‘n bakenverjaardag vier, kry van hom ‘n uitsonderlike geskenk: ‘n bandjie met die topmusiek van sy of haar geboortejaar. Ek het ene. Dis ‘n kleinood.

Ek wou by Fred meer te wete kom oor die motors en die musiek van 1957, en ry toe oor vir ‘n teetjie, wonderlike gebak uit Malmesbury se Dorpskombuis (probeer dit!) en ‘n verfrissende gesprek.

Fred se keuses rakende sy twee groot liefdes volg later.Eers iets meer oor die Man – en die hoofletter M is geen tikfout nie, hoor!

Fred was ‘n Flinkdinker (Edwill van Aarde,onthou?). Hy is ook die outeur van ‘n omvangryke en wonderlike motorboek, A Century of Cars (1997) – waar ek voorin elkeen van die 22 motors in my eie lewe aangeteken het – “lest I shall not forget”. Hy het nog twee ander boeke geskryf: Motors en hul Makers (1975) en Ford: Gister, Vandag en More (1978). Ek gaan dit egter nie eens waag om ‘n kort CV op te stel nie. ‘n Kort CV sal onvermydelik ‘n lange word!

Fred het in my lewe gekom toe ek circa 1972/73 vir Die Volksblad gaan redaksielede werf het in Johannesburg. Fred was toe interne ouditeur by Phil Morkel. Ek onthou voor in sy motor het ‘n Gesangeboekie gele – dit het my nogal beindruk (Later het ek agtergekom hy kan sing ook, die kerel!).

Nietemin, Fred het Volksblad toe gekom. Van 1974 af was hy motorredakteur. Later was hy lid van die hoofredaksie. Hy kon ‘n hoogs leesbare rubriek vinniger uit ‘n tikmasjien tower as die meeste ander joernaliste. Oor enige onderwerp onder die son. Hy was in Engels ons meester.

Soos ek hom leer ken het, het Fred se wye spektrum talente (hy kon ook afval kook soos min ander) ‘n al hoe dieper indruk op my gemaak het. Hy was ‘n merkwaardige kollega. Nou, na 70, sukkel die liggaam maar bly hy een van die groot geeste wat ek ken.

Fred kom van die ou Oos-Transvaal. Hy is in nou se idioom dus ‘n Mpumalang-gees. Toe hy in matriek op Lydenburg was, was sy klasmaats uitskieters soos Andre P. Brink, Adrio Konig en Ken Owen. Fred was een van die slimmes in ‘n slim klas.

Hy het verslaaf geraak aan motors en alles wat met motors te make het nadat sy ouers hom vir sy vyfde verjaardag in 1939 ‘n stel van 12 Tootsietoy-modelkarretjies present gegee het. Binne ‘n jaar of so kon hy sy gunstelinge bekwaam teken, o.m. die Bulldog Mack-vragmotor en die Graham Blue Streak van 1932.

Sy obsessie met motors het in sy latere lewe nie ge-eindig met skryf en lees daaroor nie (sy eerste artikel, terloops, was vir Die Huisgenoot – oor Rolls Royce). Hy het ‘n ekspert oor veteraanmotors geword en self, benewens, die deftige swart Packard met witwalwiele hierbo, ‘n 1958-Lancia en ‘n 1935-Adler Diplomat gerestoureer. As motorredakteur het hy groot hoogtes bereik. Hy was o.m. lid van die internasionale “jurie” wat die Internasionale Motor van die Jaar in 1999 moes aanwys.

Ag, ek kan nog baie oor Fred vertel – van toeka tot vandag. Hy is waarlik ‘n man vir alle seisoene.

Kom ons volstaan egter met sy aanbevelinge vir my 1975-lys.

Motors: Spontaan, die ’57-model Chev Bel Air – wat ‘n sierlike kar. Later kry ek van hom ‘n boodskap:

Daardie Chev is darem te mak vir “See you later, alligator” en “All shook up”. Die sensasie van ’57 was die Chrysler-produkte met hul stertvinne, soos die Plymouth wat ek hierby aanheg. Toe jy nog redakteur was, was daar twee sulkes in Bloemfontein. Die een het aan Philip Kridiotis se skoonseun behoort en die ander een aan Hennie van der Walt, die bourekenaar. Dink jy nie dis ‘n beter keuse nie?

Musiek: Wat Fred se groot treffers van ’57 betref, hier’s hulle:

Elvis Presley: All shook up

Elvis Presley: Jailhouse rock

Bill Haley: See you later, alligator (Rock around the clock was 1955 se grote)

Billy Vaughn: Sail along, silvery moon.

Bing Crosby en Grace Kelly: True love

Harry Belafonte: Banana Boat Song

Pat Boone: Love letters in the sand.

Debbie Reynolds: Tammy

Europese treffers was:

Georges Guetary: Caballero

Edith Piaf: Hymne de l’amour

Carlo Buti: Bella ragazza

‘n Mens kan saamstem of jy kan verskil. Ek gaan dit waag om die Groot Fred oor sy motorkeuse aan te vat. Nee, Fred. die Bel Air bly bo. Die Chrysler-vinne is wel groter, maar styl, boeta, styl, die had die Bel Air soos min.

Ek het ‘n foto van myself by ‘n rooie – ‘n afslaankap nogal – in ‘n motormuseum in Amish-kontrei in Philadelphia. Og, begeerte, begeerte ….

HvD

Deel dit: