Drie soorte leuens is deur Benjamin Disreali onderskei ( aldus Mark Twain se outobiografie, altans): “Lies, damn lies and statistics.”

As vriend Benjamin korrek had, is Frikkie van Rensburg ‘n liegbek by uitstek. Hierdie oud-sportredakteur van Die Volksblad, kan statistieke uitspoeg soos ‘n turbo-dorsmasjien.

In die tamaaie boek Vrystaaat! 100 Jaar van hardlooprugby wat Frikkie en Herman le Roux so saam-saam geskryf het – A4-formaat, 822 bladsye! – sorg Frikkie o.m. vir die hoofstuk oor Statistieke (hulle spel dit sonder die “e” aan die einde, maar dis nie soos ek by Hiemstra geleer het nie).

Dis ‘n verbyserende hoofstuk (van bladsy 791 tot bladsy 818) met elke denkbare feit oor Vrystaatrugby in ‘n statistiese kleed verpak. Wil jy weet wie het die meeste wedstryde in die verskillende posisies gespeel? Blaai na Frikkie van Rensburg. Wonder jy oor broers in dieselfde span? Ditto. Ek kan, met FvR as gesag, selfs die nuus meedeel dat drie Van Deventers deur die jare vir die Vrystaat opgedraf het: Jan, Willie en Jaap. (Hierdie ene se beste was derdeliga in Bloubul-land!)

Nou moet ek darem eers vertel dat niemand minder nie as Dok Craven in my tyd op ‘n keer die twee Volksbladmanne bestempel het as die twee beste rugbyskrywers in die land. Dit het nogal argwaan gewek by die vername here by sekere groter koerante, maar ek het verstaan wat Dok Craven bedoel het – hulle was kundige, eerlike en toegewyde joernaliste, onberispelik met feite, betroubaar en van rotsvaste integriteit.

Dok Craven had dit nie mis nie. In elk geval, Die Volksblad het daardie tyd nie net die twee beste rugbyskrywers gehad nie. In vele joernalistieke opsigte was hy sy groter sussies voor. Maar dis ‘n ander storie.

My punt is net: Frikkie en statistieke is sinoniem. As jy iets uit die sportgeskiedenis wil weet, klop gerus by hom aan. Vinnig-vinnig kom die antwoord.

Sy eie statistieke as sportskrywer is gedug: tussen 500 en 600 provinsiale rugby- en krieketwedstryde, 15 SA senior swembyeenkomste, 12 Cravenweke, meer as 30 rugbytoetse en 29 jaar lid van DV se sportredaksie – ‘n rekord. Hy was op drie buitelandse sporttoere. Onhou, dit was in die isolasietyd.

Frikkie is ‘n mede-Noord-Nataller. Vryheid se bloed loop in ons albei se are. Hy kan dus nie ‘n slegte mens wees nie!

Maar hoe onthou ek hom? Baie bepaald as die man met die ensiklopediese sportkennis, met ‘n magdom agtergrond en met ‘n hart vir kleiner sportsoorte. Hy was gedurig aan’t druk en spook om vir sportsoorte soos swem, skyfskiet, vyfkamp, boks en wat nog ‘n groter kleim in DV af te pen. Vele van die sportsoorte het hom met erekleure bekroon.

Hy was ook verre van net ‘n droe statiskus – hy was inderdaad ook anekdotis. met sy stories oor mense en insidente kan hy jou ure boei.

Toe ek hom nader oor die groot sport van 1957 (my matriekjaar, onthou) kom hy toe dadelik met twee belangrike wetenswaardighede.

Nommer een is dat Gert Potgieter in 1957 die eerste keer die wêreldrekord in die 440 treë-hekkies op Queenstown met ‘n tyd van 50,9sek. oortref het. Nommer twee is dat Clive van Ryneveld se Springbokkrieketspan die toetsreeks met die gedugte Engelse span onder aanvoering van Peter May met 2-2 gedeel het.

So ver Frikkie die sport-statiskus. Nou skop Frikkie die sport-anekdotis in.

Ek stel hom eers oor Gert Potgieter se rekord aan die woord:

“Daar is eers in daardie naweek besef dat Gert wel die wêreldrekord oortref het, toe onse Arrie Joubert bietjie speur/delfwerk gedoen het. Ek onthou nog die groot opgewondenheid dié Maandag in die skoolsaal toe mnr. M.P. Marais, ons skoolhoof, van die verhoog af aangekondig het dat die oud-leerling Pottie die wêreldrekord oortref het. Gert het ‘n rukkie later die skool besoek. Mnr. Marais het destyds spesiaal gereël dat Gert op ons atletiekbaan in ‘n wedloop teen ons 440 treë-kampioen, Swys Ferreira, te staan kom, met dié verskil: Swys sou aan die gewone 440 treë deelneem, waarin hy die skolekampioen was, terwyl Gert hekkies gehardloop het! Swys het nog ‘n voorgee van 10-15 treë gehad! Voor die pylvak egter, het Gert vir Swys onder oorverdowende applous uit die paviljoene verbygesteek!”

Oor die krieket onthou hy:

“Nadat Engeland die eerste twee toetse redelik maklik gewen, het ons Bokke – tog só lekker om te kan praat van Springbok-krieketspelers en nie die verlepte Blommetjies van vandag nie! – mooi reggeruk, die derde toets het onbeslis geëindig met die Bokke wat die laaste twee toetse gewen het om die reeks met 2-2 te deel. Dit was veral Hugh Tayfield – hoe mis ons nie deesdae ‘n draaier van sy gehalte in ons nasionale span nie!? – wat dié ommekaar bewerkstellig het deur op die eerste dag van die derde toets in Durban 137 opeenvolgende balle te boul, sonder dat ‘n enkele lopie teen hom aangeteken is – wat steeds die wêreldrekord is! Sonder om jou te verveel met té veel statistiek: In daardie laaste drie toetse het Tayfield se ontleding soos ‘n sprokie gelees: 3de toets: 61.7-31-90-9 (wat 8/69 ingesluit het); 4de toets: 74-26-192-13 (wat 9/113 ingesluit het); 5de toets: 46.3-14-121-6 (wat 6/78 ingesluit het). Sy totaal vir dié drie toetse alleen was: 182-71-403-28 (gem 2.21 lopies per beurt afgestaan en gem. 14.39 lopies per paaltjie afgestaan!

My beskeie mening is dat hierdie 1957 se grootste sportgebeure was!

Ten slotte enkele Frikkie-herinneringe aan Noord-Natal:

“Die jare 50 was inderdaad iets groots in die geskiedenis van ons kontrei in die noorde van KwaZulu-Natal.

Dit was die jare dat veral drie Potgieters ons streek op die ”map” gesit het:

Gert Potgieter

Ewart Potgieter

én

Danie Potgieter.

Gert het die atletiekbane aan die brand gehardloop – al was hy tóé in die Polisiekollege in Pretoria – hy was steeds ons beste uitvoerproduk (saam met my groot maatjie Thys Lourens natuurlik).

Groot Ewart het hom destyds in dieselfde klubklub op Vryheid voorberei waar ons as jong kannetjies ook geoefen en ons ons vir bokstoernooie op Ladysmith, Newcastle, Pietermaritzburg en Durban voorberei het.

Oom Danie, soos ons hom maar almal in dié streek genoem het, was weer die Afrikaner wat aan die voorpunt van die NP in Natal was om die Sappe op hul baadjie te gee. My vader was in 1953 en weer in 1958 oom Danie se verkiesingsagent. Dit was lekker, spannende politieke jare daardie. Ek, as st. 7-seuntjie, was geensins veronderstel om aan enige politieke bedrywighede deel te neem nie. Maar ek hét, totdat ou ”Afrika” soos ons mnr. Marais genoem het, my op ‘n goeie dag uitgevang het!

Dit was ook die dae van ‘n E.G. Jansen, Klasie Havenga (hy het terloops op dieselfde dag as ek verjaar) en ‘n Theo Gerdener.”

Absoluut verstommend, die man se geheue en aanvoeling, nie waar nie?

Dan het Frikkie homself nie in sportboeke en –statistieke begrawe nie. Hy was ook gesinsman soos ek in die joernalistiek maar selfde teengekom het. Hy en sy vrou (en steunpilaar) Elsie, op die foto, en hul mooi dogtertjie, Erika, se gehegtheid was amper te goed om waar te wees. Frikkie het inderdaad bewys: jy kan koerantman EN gesinsman wees, statiskus EN storieman. Hy is egter NET Vrystater en Cheetah. Geen dubbeloop-lojaliteit aan hierdie front nie!

Groete

HvD

(Hierdie blog is blou – kom die Bulle, my geld is op julle Saterdag! – HvD)

Deel dit: