Raai wie? Hulle is Melkbos-vriende en die foto is op hul silwerbruilof geneem, meer as 25 jaar gelede. Hul identiteit word verklap in die webjoernaal hieronder.

En jy was beautiful in Beaufort-Wes … En laas winter you tried to cut both of your wrists en nou skryf jy vir my.”

By die jonger garde sal hierdie lirieke dadelik twee asosiasies oproep: die digter Gert Vlok Nel (boorling van B-W) wat die woorde geskryf het (net so met die Afrikaans en Engels so deurmekaar geklits), en die growwestem-sanger Theuns Jordaan wat daarvan ‘n treffer gemaak het – ook in Nederland, Duitsland en elders in Europa.

My eie assosiasie is meer met die dorp as met die liedjie. Aan B-W het ek nogal ’n paar herinneringe. Kom ons begin met die goeies:

(i) Die Karoopark – waar is die Karoolandskap mooier? ‘n Juweel van ‘n oornagplek met springbokkies wat as ‘n bonus skemer voor jou stoep kom wei.

(ii) Die vriendelikheid van sy mense – hulle het ‘n ingebore iets wat hulle onderskei. Die ontvangs by die Karoopark se hek is altyd buitengewoon warm en hartlik. Die personeel gaan uit hul pad om jou tuis te laat voel. By die Chris Barnard-museum is dit ditto. Die houding is nie een van: “Og, maar jy’s lastig” nie. Dis veel eerder een van: “ Ai, maar ons is dankbaar dat jy ons kom vereer het met ‘n besoek.”

(iii) B-W is die plek waar ons goeie vriende Danie en Esbé op skool al verlief geraak het, en waarheen hulle later teruggekeer het om op 9 Junie ‘56 te trou. (Esbé onthou hoe ontsteld haar ma was oor die “hompe basaarkoek” by die oggend-onthaal. Mammie het uitdruklik fyn “fairy cakes” bestel. Danie skryf met groot deernis oor B-W in sy private bundeltjie ‘n Swaeltjie sonder vlerke…?)

˜n Lag-met-‘n-traan-herinnering gryp terug tot einde ’64 toe ek na my eerste sitting as parlementêre verslaggewer die aand dadelik in die Kaap in die pad geval het, en gery het dat dit bars om op B-W te kom vir ‘n oornagstop. Ek het met my blou Cortina ‘n ryloper opgelaai naby die Paarl en hy was vervoering oor die snelheid wat ons handhaaf – ons was net voor middernag daar. Maar o wee, die volgende dag toe ek in Bloemfontein aankom, brandend van verlange om my geliefde Tokkie weer te sien, is sy nie in die koshuis nie, en daag sy daardie aand glad nie op nie. O, die bitterheid en agterdog! Eers baie later sou ek hoor dis haar neef wat nie woord gehou het om haar betyds by die koshuis terug te besorg nie. In elk geval, my nagtelike jaagtog en vinnige slapie in ‘n hotel in die hoofstraat was toe pure verniet. Maar op 31 Desember ’66 het ons darem bruidegom en bruid op Bultfontein voor die kansel gestaan.

Wat sommer ‘n slegte smaak in die mond oor B-W laat, is veral twee dinge:

(i) Die Truman Prince-kirpatse. Kon nooit glo dat so ‘n nar Die Burger se voorblad so dag na dag kon oorheers soos die heer Prince in ‘n stadium met die mal perde wat hy opsaal nie. Koerante se nuusstandaarde is ook nie meer wat dit was nie.

(ii) B-W se verkeersafdeling. Na ‘n vier- of vyfstuks spoedboetes in ‘n ry (vinniger as 60 k/ph in ‘n 60-sone!) het ek begin wonder of jy deur die dorp kan ry sonder om ‘n boete op die hals te haal. Nou weet ek: jy kan nie! Wat my tot die besef gebring het, is die jongste koevertjie met die dreigende aanmaning: dok R200 op of …. Ek was so kwaad dat ek dit opgefrommel en weggesmyt het; weet dus nie eens of my oortreding weer daar aan die suidekant van die dorp was nie waar nie minder nie as vier kameras die pad bespied … Tokkie het hulle self getel. Al wat ek weet, is dat ek doelbewus daar gekruie het. Net iewers, waar weet ek nie, moes die voet geglip het en het die naald tot 75 opgeskuif. Toe het hulle my. Bliksems!

Ons het Chris en Annette van Rensburg van Bloemfontein oor ons nare ervarings met B-W-boetes ingelig. Vandag is hulle op pad terug Vrystaat toe van Kleinmond af. Flussies kom van Annette ‘n SMS: “Hou duim vas dat ons nie uit Beauf-W pos kry nie. Bespied die omgewing en beperkings met arendsoë.”

Chris en Annette, julle kan traai , maar die wind waai wes. Hou maar julle posbus dop. Glo vir ou Hennie.

Deel dit: