Die maak van ‘n geleentheidsboekie kan nogal ‘n uitdaging wees. So kom ek agter terwyl ek spook om net so 60 A4-bladsye met die doen en late van ons matriekklas in die 50 jaar sedert 1957 sinryk te vul.
‘n Reünieboekie is natuurlik maar n ou vulletjie teenoor regte, egte groot gedenkboeke. Dit kan hoegenaamd nie in dieselfde asem genoem word as die menere van vername instellings en organisasies nie. Tog gee die poging om kreatief te wees en ‘n produk uit te bring wat aantreklik en informatief is – die moeite werd ten minste vir diegene met direkte bande – die samesteller ‘n effense insig in die probleme van dié soort literatuur.
Een probleem is dat jy konstruktiewe samewerking kry van sommige en eenvoudig skouerophalende afsydigheid van ander. Laasgenoemde noem ek die non-flocci-facio’s n.a.v. die Latynse uitdrukking “non flocci facio” – “ek gee geen duit om nie”. Jou ervarings met diesulkes kan nogal ontnugterend wees.
Maar ek wil nie ‘n klakous wees nie; wil eintlik maar net bely dat ek gaandeweg begrip opdoen. Dit sal help dat ek my tong in die vervolg nie so maklik met kritiek sal laat klap nie. Terselfdertyd groei my bewondering vir mense wat werklike voortreflike gedenkboeke die lig laat sien, soos die NG gemeente Berg-en-Dal van Bloemfontein se “’n halfeeu voor God se aangesig”. Dit is ‘n formidabele werk, soos ek voorheen opgemerk het.
Die Vrystaatse Universiteit het met sy eeufees ook (weliswaar laat) ‘n boek uitgebring wat hom waardig is – ondanks kritiek uit ‘n kundige oord (prof. Hennie van Coller) oor die oorheersende fokus op die hede.
Op my boekrakke en in kaste is ‘n verskeidenheid gedenkboeke oor die hele spektrum van my skool-, studente- en grootmenslewe. Party is aantreklik en boeiend, ander dof en vervelig. Elkeen beteken egter vir my iets spesiaals – ek bekommer my nou al oor hul lot as die dag vir “afskaling” aanbreek.
Oor een van hulle het ek amper drie jaar na sy verskyning iets meer op die hart. Dit is die “biografie” van Die Volksblad (nou net Volksblad) met sy eeufees in 2004 onder die titel “ ‘n Lewe van sy eie”. Die skrywers is twee Vrystaatse historici, Leo Barnard en die veel jonger Jan-Ad Stemmet.
Daardie twee het in opsigte knap werk gelewer. Die boek het ‘n vars aanslag, getuig van kreatiwiteit en maak ‘n mooi indruk. Ek het elke woord ingedrink en elke foto deeglik bekyk. Dit handel immers oor die dinamiese lewe van ‘n koerant waarvan ek 12 jaar lank redakteur was – vir my ‘n hoogs vervullende era – en is daarom des te meer vir my spesiaal.
Hoekom staan “n Lewe van sy eie” dan op my boekrak so ietwat eenkant? Hoekom spog ek liewer met Berg-en-Dal se bundel by besoekers? Dit is ‘n ingewikkelde vraag met ‘n omvattende antwoord – en myne staan opgeteken in ‘n memorandum van agt bladsye wat by die Argief vir Eietydse Aangeleenthede by die Vrystaatse Universiteit in my dokumenteversameling opgeneem is. Hopelik is dit eendag vir die een of ander navorser van waarde.
Dat ek beswaard was oor daardie boek, en dat die beswaardheid nie met die jare minder geword het nie, staan egter soos ‘n paal bo water. Ek moes dit eenvoudig van die hart kry – al is dit dan meer as twee jaar laat! ‘n Gerekende koerant het immers ten minste ‘n ewewigtiger – en ‘n flatervrye – eeufeesboek verdien.
‘n Ferm, rigtinggewende en moniterende hand was vanuit die Volksbladgebou nodig. Dit het ontbreek weens ‘n ongelukkige oordeelsfout om by ‘n belangrike baken soos die eeufees van die koerant op die kantlyn te bly. Te veel verantwoordelikheid is na buitestaanders gedelegeer.
Ek wil in elk geval graag glo dat die samestellers – as hulle ‘n tweede kans sou kon kry – uiters bedag daarop sou wees om hulle nie te laat misbruik deur mense wat byltjies wil slyp nie, boonop naamloos; dat hulle sensitiewer sou wees in hul hantering van sleutelmense, en dat hulle feite sorgvuldiger sou kontroleer en herkontroleer.
Hopelik sou hulle ook op my wenk reageer om hulp te vra by ‘n senior joernalis soos Sarel Venter, wat juis nou die laaste afronding doen aan sy gedenkboek oor Bloemfontein se Afrikanerklub onder die titel
“ ‘n Plek in die son”. Hy sou vele goggas in “ ‘n Lewe van sy eie” kon uitvang – soos dat Alf Ries redakteur van Beeld was (hy was nooit eens in Beeld se redaksie nie) en dat Frank Budd fotograaf van Die Volksblad was in 1947 met die koninklike gesin se besoek (dit was sy pa).
Genoeg gesê.
Groete
HvD
