Die manjifieke Du Toitsklooftonnel het nou wel die pad na Worcester heelwat korter gemaak, maar ‘n onlangse uitstappie Montagu toe viadie ou pas was verfrissend – o.m. weens die panoramiese uitsigte, die afwesigheid van voortsnellende swaar vragmotors en, les bes, ‘n mooi storie.

Die storie kom uit die mond van ons vriendin Alida Fourie van Durbanville. Sy en haar man, Pieter, was saam Montagu toe. Een van die lede van die “klein groepie” van die NG gemeente Kenridge waartoe hulle behoort, ene Oom Koos, is klaarblyklik ‘n baas-storieverteller met die slag om sy gegewens so in te klee, met selfs die name van al die dramatis personae, dat dit voel jy lees dit in die koerant. Dit is sy storie wat, weliswaar ietwat afgewater, hier weergegee word.

‘n Beter plek en tyd om die verhaal aan te hoor, bestaan nie as juis wanneer jy tussen die ontsagwekkende berghange van die ou pas deur koers kies. Dit is die plek waar Oom Koos se storie hom afspeel.

Die begin lê ‘n taamlik ent terug, toe ‘n oulike seuntjie in ‘n jagongeluk saam met sy pa sy oog verloor. Sy ouers laat dadelik vir hul kind ‘n glasoog insit, en besluit om vir niemand daarvan te vertel nie. Hy word ‘n hubare jong man sonder dat iemand ooit snuf in die neus kry oor die egtheid van daardie oog.

Hy begin later trouplanne maak. Toe dit sulke tyd word, maan sy moeder dat hy sy bruid tog maar in sy vertroue sal moet neem. Anders is die ontdekking dalk ‘n skok. Hy stem in, maar bly uitstel en uitstel. Op sy troudag belowe hy opnuut aan sy besorgde moeder dat hy wel ‘n geleentheid sal maak om sy jarelange geheim in die skulpoortjie van sy lieftallige bruidjie te fluister.

Op pad oor die pas om die huweliksnag op Worcester te gaan deurbring, besluit hy: nou en hier moet dit uit. Hy sit sy hand vertroulik op haar knie en maak keel skoon.

Op daardie oomblik snork n motorfiets verby. Die motorfietsryer lê plat op sy ysterperd soos hy die draaie vat. Skielik tref sy voorwiel ‘n klip. Reg voor die wittebroodspaar. Die slag weergalm deur die klowe. Motorfiets en ryer tuimel teen ‘n afgrond af.
“Bly net hier”, sê die bruidegom vir sy bruid. “Ek sal gaan kyk.”

Hy is seil-seil teen die hang af, maar toe hy op die toneel kom waar die kragtige fiets se wiele nog tol, sien hy die man wat so manhaftig deur die pas se draaie geseil het, is morsdood. Net ‘n oomblik weifel hy. Toe pluk hy die linkeroog van die kêrel uit sy oogkas en ruil dit vir sy eie kyker van glas.

By die bruid gekom, vertel hy nie die hele storie nie. Oor daardie stukkie van die oogruilery trek hy ‘n sluier. Nooit, ooit rep hy daaroor ‘n woord nie. Maar dit bly hom kwel. Kom 1994, die “demokrasie” en Desmond Tutu se Waarheids- en Versoeningskomissie, begin ‘n biegseisoen deur die land swiep. Ons held voel die tyd vir ‘n eie belydenis het ook nou aangebreek.

Hy ry Worcester toe om die waarheid aan die polisie te verklap. Die nuwe sersant het egter nie juis erg daaraan om geduldig end-uit te luister nie. Hy’t hope ander hooi op die vurk. “Wag, wag,” keer hy. “Die ou sersant het daar oorkant die pad afgetree. Hy het baie oor daardie ongeluk gepraat en oor iets wat hy daarvan nooit kon ontrafel nie. Gaan vertel vir hom.”

So gesê, so gedaan.Die kerelmet die gewig op sy gemoed kom by die ou sersant en begin vertel. Halfpad stop die oubaas hom. “Man, “ sê hy, “ek wil eintlik net een ding weet. Klink my mos jy sal vir my die raaisel kan oplos wat my nog al die jare kwel. Sê my tog: hoe de duiwel het daardie ou op sy motorfiets daar bo gekom met twee glasoë!”

Groete

HvD

Deel dit: