Nou sous dit! Die Kaapse winter is hierso met al sy streke. Sabiepark, hier kom ons (ek en Tokkie vlieg – vlug! – Donderdag cum Jacob en Thomas). Vra die manne waar sit ons in die vliegtuig, antwoord hulle kordaat: 3c, d, e en f.

Ouma sit natuurlik op 3e met enetjie weerskante. Oupa is oorkant die paadjie, relatief veilig op 3c. Op my bekommerde opmerking dat ons (in die lig van ‘n aktiewe maagvirus) dalk te ver van die toilet sit, stel skoonseun Brent my gerus: “Net een glips, dan ry julle eersteklas tot in Mpumalanga!”

Nietemin, oor daardie reis sal ek eers later, baie later kan rapporteer. Op Sabiepark is nie kommunikasiegeriewe waarmee ‘n blog in stand gehou kan word nie. Kerskrag help nie vir internet-prosedures nie.

Ek wil ook nog later vertel oor die matriek-plus-50-jaar-re-unie wat vir ons Volkieklas van ’57 (dis nou Potch-Volkies) voorle. Danksy die hardnekkigheid van ‘n Koot Bosman van Pretoria vorder ons mooi met die opsporing van verlore kalwers.

Met Koot se hupstote vorder ons ook mooi met ‘n boekie van sowat 60 bladsye oor ons klompie se lief en leed. Dit maak wonderlike leesstof, met vele verrassings.

Koot praat van ‘n boekie met baie sentimentbelading – dis ‘n mooi beskrywende woord.

Die foto’s hierbo is ‘n lusmaker vir ons boekie wat in September verskyn. Op die collage is vier klasmaats wat lukraak gekies is.

Bo is:

Willie Hartzenberg, ons Dux-leerling. nou regter Willem Hartzenberg; en

Wiekie Moolman, my kamermaat, afgetree op Krugersdorp na ‘n lang loopbaan in die mynbedryf.

Onder is:

Eveleen du Plessis (nou Nel), een van ons mooies. Sy bedryf nou ‘n eksklusiewe gastehuis, Buttercup, op Stilbaai; en

Ina van der Westhuizen (nou van Niekerk), getroud met haar skoolkys Koos van Niekerk wat hoofseun was. Die twee woon in Pretoria – as hulle nie op reis is iewers heen nie.

Ek sal later nog baie gesels oor hierdie klas. Nou moet ek eers spook om die boekie in die bed te kry voordat die Van D’s Donderdag op Nationwide se Boeing-kie klim.

Die boekie is ‘n heerlike oefening wat die herinneringe op ver, ver paaie laat loop!

Groete

HvD

Deel dit: