In Buurman van die Wildtuin skryf die uwe oor bobbejane: “…laat ander mense maar by hulle stilhou om hul manewales te bekyk. Vandat ek die ou nasie op ‘n harde manier beter leer ken het, ry ek dikbek by hulle verby met ‘n permanente wraaklus in my boesem.”
Kanselleer, kanselleer! Sedert die vakansie saam met die kleinkinders in die bos is daardie gevleuelde woorde alles verlede tyd. Was gewees. Tokkie noem dit my “Finale Inbreek”: ek moes stop vir bobbejane. As ek wil ry, kla Jacob: “Aa mooi sien.” Dan sit ek die CRV mooitjies in trurat. Ek mag nie wegtrek voor die blessitse bobbejaan by die boom “uitgeping” het nie. Apies kry dieselfde ere-behandeling. Eers “ping” – dan mag ek verder ry.
Ek wil vandag meer vertel van daardie kuier – wees tog maar geduldig met die entoesiasme van ‘n oupa wie se oupaskap as’t ware nog in sy kinderskoene staan. Maar watter genot was daardie boskuier nie vir ons almal nie, ondanks periodieke klein opskuddinkies, ook onderling – soos die keer toe Jacob besig was om te bid. Sy flitsie het langs hom gereed gestaan vir die nag omdat dit bra “donter” raak in Sabiepark.
Hy begin toe bid: “Ek is n kindjie klein ….” Op daardie kritieke oomblik praat Thomas tussenin. Jacob maak toe sy oe oop, gryp die flitse en gee Thomas drie, vier houe. Daarna maak hy dadelik sy oe toe en vervolg …: “maak my hartjie rein, o Heer.”
Iets wat ons gou moes leer, is hoe absoluut onverbiddelik vasgeskop word dat alle klere eers ge-inspekteer word of dit T of J gemerk is. In die oggendskemer het Thomas selfs daarop aangedring dat Jacob met sy flitsie in ‘n skoen lig om doodseker te maak die allerbelangrike T is wel daar voordat hy dit aan sy voet sou duld!
Veral Jacob kon nogal veeleisend wees. Sy ouma beweer hy is uitgeknip sy oupa! Thomas het ook sy minder maklike oomblikke gehad. Hy was die een wat dit eerste gewaag het om teen streng vermaninge in die swembadseil as ‘n trampolien te benut. Maar stout ? Nee, darem nie regtig nie.
Wat ‘n belewenis was, was om hul ontdekking van dié vreemde wêreld met al sy andersoortige inwoners, nuwe gebruike en etiese kodes mee te maak. Juis die nuuskierigheid oor hoe alles werk en die gretigheid om te verken en eksperimenteer, laat ‘n man soms in die pekel beland. Maar die moets en moenies van die bos het ook byvoordele, soos om BINNE Sabiepark sonder veiligheidsgordel te mag ry en eie malvalekkers op stokkies en broodjies te braai – hoewel Jacob darem erg benoud was dat die broodjies as plaasvervanger vir sy geliefde “vleisie en ‘n worsie” opgedis gaan word!
Teen ons verwagting in, het hulle selfs sonder murmurering twee keer ‘n dag die ent piekniekplek toe gestap, rugsak en al. Jacob wat aanvanklik bra teensinnig die ongewone lang tog aangedurf het, het gou die afstand lag-lag kafgedraf, ente vooruit. Ons moes ons hees roep om te keer dat die gaping tussen voorbok en agterosse te groot word.
Aan die dierefront was genoeg opwinding om die twee sonder ophou te laat gons. Twee renosters het die eerste dag op pad na Phabeni breed en bonkig uit die bos gestap en lank genoeg geparadeer om deeglik bekyk te word. Twee olifante by die piekniekplek het vir n geleentheidsfoto gesorg wat ek op drie kameras verewig het – my Canon met sy lang lens, Tokkie se Pentax en die klein, nuwe digitale HP Photosmart. Dié twee het laatmiddag reg oorkant die uitkykdekke kom drink en in die water “mors”, aldus Thomas. Tokkie moes net ronddraf, ‘n beurende seuntjie op elke heup, om vir die fotograaf in die vinnig verswakkende lig die beste hoeke te bied (foto bo).
Die laaste wildritte het uiteindelik ook ‘n paar “wows” (leeus) opgelewer. Die beste was op die Onder-Sabiepad waar vyf agter ‘n troppie rooibokkies se bloed aan was. Die naaste amper-vangs was egter by die Nyamundwadam op die Doispanepad waar ‘n luiperd halfpad om die dam geloop het (‘n halfmaan van ‘n goeie 200 meter) agter ‘n troppie rooibokkies aan. Sy teikens het hom net betyds gewaar en blasende gevlug.
Helena die hiena het vir die twee se grootste skrik gesorg. Toe sy die eerste keer dreigend van haar laat hoor, wat in die “donter” klaarblyklik bloedstollend was, het hulle rillend na die beskutting van ouma se skoot gestorm.
Die nagapies (“nasapies”) het van die eerste aand in ‘n konstante stroom gekom. Dit was vet pret as dié piepklein diertjies so uit die pendoringboom toesak op die piesangskyfies wat die twee vir ouma help kerf het. (“Onthou, ‘n mens dra ‘n mes altyd met die lem na onder, hoor!”) As die bokkies (“botties”) so lewensbly hul spronge spring, het Jacob geskater van plesier. Witnek (ja, die bejaarde ou Witnek met sy een horing en al) het telkens kom pitjies soek, en Thomas was gou ‘n bedrewe verspieder – “bottie, bottie!”
Die bosnagaap het weer sy verskyning gemaak, gelukkig betyds vir die tweeling om ook met die meneer met die spoggerige stert kennis te maak. Koedoes en blou apies het gereeld kom pitjies soek Sebras (“sebas”) het vroegoggnd in die watergat kom suip. Die stoute bobbejane was op die stoep. (“Bobbejaan byt?”)
Ondanks al Ouma se voorspooksels oor hoe stout bobbejane kan wees (hulle is aan die grootoog-gehoor afkeurend geskilder as plegers van nare dinge soos om lekkers by kindertjies te gryp) was dit toe ‘n koedoe wat die prys vir diere-stoutheid gevat het (op ‘n vernuftige manier wat aan ervare inwoners van Tarlehoet nie onbekend is nie).
Die koei staan eers behoedsaam nader, haar opgeskote kalf so ‘n entjie agter haar, skuil ‘n rukkie ragter die Transvaal-katjiepiering, en stap dan doelgerig vorente na die voëls se vars pitjies in die Transvaal-saffraan by die watergat (net die vorige aand uitgesit). Dan begin sy dit oplek totdat die kosbakkie blink van die koedoespoeg.
Eindelose boomplesier is verskaf deur ‘n blinkblaar-wag-‘n-bietjie op die onderste punt van die motorpad. Elke keer, maar elke keer, as ons in Wildevy links draai piekniekplek toe moes Ouma eers toelaat dat die boom se dorings haar klere vasgryp. Ouma reageer dan berispend: “Nee, wag-’n-bietjieboom, ek gaan nie ‘n bietjie wag nie. Ek stap nou saam met Jacob en Thomas.”
Die twee het gou ‘n worsboom leer ken en was baie geïmponeer deur die yslike trosse piesangs aan die piesangbome. Blykbaar het daardie reuse-trosse as aansporing gedien om self soveel moontlik piesangs te “verorber” – soos Ouma Malan so beeldend sou gesê het. Jacob se rekord is 11 piesangs ‘n dag, Thomas het ingeklok op 10. Oupa was hulle dankbaar. Hul piesangverbruik het sy wynverbruik oortref!
Buiten betrokkenheid by die kosmakery (selfs om wortels te help kerf vir ‘n hoenderpotjie), het ouma die manne geleer van spore en mis, voorsorg teen malariamuskiete en ander “goggas” (wat skaars was, dankie tog!), voëls met “ghooi” vlerke (die bloukuifloerie) wat kok-kok-kok roep, volstruise en patryse (wat soms verwarring veroorsaak het) en ‘n boel ander wetenswaardighede wat ‘n driejarige verstandjie seker laat duisel het.
Jacob en Thomas het in hul maand in die bos werklik baie en ‘n groot verskeidenheid wild gesien, met die immergroen Witnek en die nagapies groot gunstelinge. Thomas kon net nie verstaan hoekom die ou duikertjie op die foto in die sitkamer twee horings het en in lewende lywe slegs een nie. Sê iets van sy waarnemingsvermoë!
Vir oupa en ouma was een heerlikheid van die saamkuier om hul kleinkinders se onderlinge kommunikasie intensiewer waar te neem as ooit tevore. Eindelose debatte het voorgekom. In watter omstandighede sal ‘n “nasapie” byvoorbeeld byt? Konsensus was dat ‘n lollery met sy piesang daardie klein diertjie moontlik tot sulke aggressie sal uitlok.
Thomas was net erg ongeduldig toe Oupa die vraag of ons kerk toe gaan verkeerd verstaan het. ‘n Uitstekende manier om dit by die stadig van begrip oupa tuis te bring wat die vraag behels, was om dadelik verduidelikend by te voeg: “Kom mense, kom” (die boodskap van die kerkklok). Geen ruimte vir twyfel daarna nie!
En is Thomas se beeldryke beskrywing van Oupa se verkyker as sy “groot oë” nie ‘n treffer nie!
Na aanleiding van die hoeveelste luidkeelse rendisie van “Twinkle, twinkle little star” (en “Happy birthday to you” ) het ek my geroepe gevoel om my eie geleentheids-kleuterrympie te skep – hoewel “skep” seker ‘n oordrywing is in die geval van ‘n parodie. Hier volg dit:
“Ou Tarlehoet, reuse-plesier,
Die beste plek vir mens en dier,
Want waar het jy al ooit gehoor
van ‘n lapa van agter en ‘n lapa van voor?”
HvD
