Vyftig jaar gelede, 1957, was die jaar van die Russiese Spoetnik, Gert Potgieter se eerste wêreldrekord in die 440-hekkies,karre soos die elegante Chev Bel Air en die Plymouth met sy enorme haaivinne, en Elvis Presley se treffers Jailhouse rock en I’m all shook up. Fliek van die jaar was The Bridge on the river Kwai. Die blyspel West side story het pas in New York geopen. Huisgenoot het ‘n sjieling gekos en ‘n pakkie Westminister 85-sigarette 1/3.

Op Potchefstroom se Hoër Volkskool was ‘n matriekklas van 81 wat uitgeblom het tot soliede pilare en pilaresse van die gemeenskap. Uit die klas get o.a. gekom twee regters (Willie Hartzenberg – wat duxleerling was – en Ferdie Preller van Pretoria), twee ouens met hul eie vliegtuie (dr. Anton Lombard, vlieënde dokter van Calvinia, en maj. David Malan, vlieënde boer van Fochville), twee spesialiste (Leon Engela en Mornay du Plessis van Pretoria), ‘n hand vol prokureurs, dokters, akademici, ingenieurs, boere en sakemense, BAIE onderwysers en onderwyseresse …. selfs een wêreldburger en een koerantman, naamlik die uwe.

Hierdie klas vier op 7 en 8 September sy “goue” herdenking 50 jaar nadat die 81 matrieks Volkies se skoolstof van hul voete geskud het en die wye wêreld in is met sterre in hul oe.

Die Klas van ’57 het destyds al gedink hy is nogal oulik. Nou bewys hy sy oulikheid op ‘n uitsonderlike manier. Hy gee naamlik vir die geleentheid ‘n baie spesiale boekie uit: 64 bladsye propvol nuus en foto’s oor klasmaats toe en nou. Die boekie is professioneel versorg en gedruk. Sy naam is ons boekie . Dis nie sommer ‘n hierjy-boekie nie!

ons boekie bevat o.m. boeiende grepe uit elkeen se lewe. Van die lief en leed wat in ‘n halfeeu beleef is, is plek-plek aangrypend, want nie almal se pad was altyd sonder dorings nie. Beproewings soos dood van lewernsmaats, kinders en kleinkinders en verrassend baie egskeidings word geboekstaaf.

Wat tog wel treffend is, is in hoeveel bydraes van buitengewone seën getuig word. Ondanks stampe en stote is die oorheersende indruk dat, in Bybelwoorde, ‘n pragtige deel vir ons klas afgemeet is – ja, wat ons ontvang het, is vir ons mooi.

Een van die mooiste stories is die van Piet Otto en Hettie du Toit. Hulle is in 1961 getroud en is – 18 jaar later – in 1979 geskei. In 1997 – ná nog 18 jaar – kruis hul paaie weer en vlam die ou liefde opnuut op. Hulle is weer getroud – en wat ‘n voorreg was dit nie, sê Hettie uit die hart.

Een skoolkys het gehou, gehou en gehou. Koos van Niekerk, hoofseun, en Ina van der Westhuizen is ou getroudes met drie suksesvolle kinders en vyf kleinkinders – n hegte familie.

‘n Teken van die tyd is hoeveel klasmaats kinders en kleinkinders in die buiteland het. Een se seun is getroud met ‘n Finse meisie. Hy praat met die kinders Afrikaans en sy Fins. Die kinders hoor hulle met mekaar Engels praat. Hulle was in ‘n Hollandse kleuterskool en het ’n Spaanse au pair gehad. ‘n Moderne toring van Babel.

Van die terugblikke op die goeie ou dae op die skoolbanke is nogal humoristies. Een onthou hoe hy in die Latynklas omgedop en uitgeskud is omdat hy nie kon onthou hoe skryf ‘n mens “na Rome toe” in Latyn nie. ‘n Ander roep in herinnering hoe twee maats as steelfotograwe of paparazzi ‘n ekstra geldjie verdien het – en stuur, as bewys, ‘n foto in van hom en ‘n (anonieme) meisie in vurige omhelsing voor die Biologieklas. ‘n Derde onthou ‘n klasuitstappie Pretoria toe, blink van die babelaas, nadat die vorige nag tot laat gekuier is. ‘n Vierde vertel van Volkies se eie “Mielieblaarklub” wat op debatsaande oor allerlei gewigtige skoolaangeleenthede diepsinnige gedagtes gewissel het.

Onder die handgeskrewe boodskappies wat in die boekie opgeneem is, is een van ‘n boer wat die klasmaats inlig oor hoe die skrywer oor sy handskrif pak gekry het – en voeg dan lakoniek by: “Soos julle sien was dit nie genoeg nie.” Niemand sal met hom stry nie! ‘

‘n Herinnering wat ‘n mens wil-wil laat skuldig voel, is hoe ‘n 70-jarige tantetjie, ‘n tydelike onderwyseres, roerend gebid het die seuns in haar klas moet haar tog nie so sleg behandel nie. Dit het hulle geruk. ‘n Mooi verhouding het daarna tot stand gekom.

In die boekie is o.m. ‘n foto-album uit die vyftigs – die mooie meisies uitgevat in hul kort swart skooljurke met lang swart kouse – foto’s van die ou klomp soos hulle nou lyk (en speel) en ‘n “muur van herinnering” waarop reeds 15 name van ontslape klasmaats uitgekerf is. Een was Dirkie Jacobs, grootbaas van Kanhym, wat jare gelede, nog in die ou bedeling voor die huidige vlaag misdaad, in sy huis in Johannesburg deur inbrekers doodgeskiet is.

In ‘n versie vir klas van ’57 dig ‘n DZN (dichter zonder naam) die volgende:

“Al is ons grys of bles of doof of krom,
party selfs dom van ouderdom;
in ons harte brand ‘n vuur:
‘n brokkie van ons hart lê hier.”

Ja, grys, bles, doof of krom – so kom die ou klomp op 7 September weer na Potchefstroom – “ons kom weer lag, ons kom weer droom”. HvD

Naskrif: Hierdie stuk is ‘n verwerking van ‘n bydrae vir die rubriek My storie op www.Beeld.com Foto’s uit my Volkie-album kan besigtig word in my Picasa-albums. ‘n Skakel na die albums is onderlangs op die tuisblad van my webwerf www.hennievandeventer.com

Deel dit: