Aan die een kant van die skokdraad ons, net aan die ander kant – drie, vier meter ver – ‘n olifantbul met tamaaie Mafunyane-agtige tande – so naby dat jy die slaap in sy oë kon sien; amper ook sy mangels wanneer hy die vars afgestroopte blare in sy oop mond prop. Jaco van Wyk van Pretoria het foto’s geneem wat hiervan die onweerlegbare getuienis lewer. Bo is twee daarvan – kyk net daai tande.
Ja, nader aan ‘n Grootvoet was die Van Deventers en/of hul gaste in Sabiepark nog nie as hierdie vakansie in onse piekniekplek nie – ons en die Van Wyks (Jaco en Lientjie) as’t ware in die voorste ry met ons opvoustoele en plastiek-wynglase vir ‘n skemerdrankie. Gelukkig was “Mafunyane” die rustigheid vanself, want die skaretjie kinders wat sommer plat op die grond daar teenaan hom kom sit het, het klaarblyklik nog nie gehoor net ‘n nat kol bly oor as so ‘n knewel op jou trap nie.
Langtand hou skynbaar van Sabieparkers se geselskap. Die vorige aand, Nasionale Vrouedag, was dit amper ‘n geval van selle storie, selle tyd. “Ons olifant” – die nimlike – het in die dalende skemer doelgerig aangeslenter gekom. Teenaan die plankieheining wes van die piekniekplek, het hy eindelik stelling ingeneem, ook bitter naby aan die opgewonde groepie gelukkige toeskouers.
Wat ‘n super-kwartiertjie was dit nie wat ingelui is met Tokkie (“Valkoog”) se uitroep tydens ‘n vrolike wyndrink-sessie: “Daar’s drie olifante”. Ons het net kameras gegryp en laat spaander, maar net een van die drie ou grotes het dit darem so naby gewaag.
Min het ons toe besef 24 uur later lê ‘n nog groter olifant-avontuur voor – by ‘n heininkie wat nog broseriger lyk (en inderdaad laer en broseriger is!) as die eerste!
Die twee olifant-episodes het die kroon gespan op die vrugbaarste Sabiepark-vakansie aan die olifantfront sedert 1998 – in die Van Deventer-annale as die “Jaar van die Olifant” gedoop. Nou, nege jaar later, was Langtand gereeld in die prentjie. Ek het ook ‘n foto van my en Pierre le Roux van Mosselbaai by die piekniekplek met hom in die agtergrond. Hy boer daar in die Krugerhek-kontrei en die Sabierivier voor die piekniekplek is klaarblyklik sy persoonlike drinkgat.
Een Sondag na kerk was ons en Dawie en Annatjie Strydom met die CR-V op pad huis toe. Op die S3-rivierpad draf twee olifante vinnig voor ons verby. Langtand se handelsmerk het dadelik sy identiteit verraaai. Omdat dit ‘n stillerige rit was, het ek stilgehou. Gelukkig. Die volgende oomblik begin die twee mekaar stampstamp. Hulle kry mekaar in ‘n kopklem beet en die slurpe knoop soos koesisters.
By my was min twyfel dat dit ‘n uitbarsting van olifant-aggressie is. Huismoles dalk? Ander teorieë is ook geopper. “Hulle speel net.” “Hulle gesels sommer”. “Is daar nie dalk romanse in die lug nie?” Wie sal ooit weet?
Wat is mooier as ‘n troppie olifante wat in die laat namiddag by ‘n skilderagtige watergat ontspan? Op die Salitjepad tussen Onder-Sabie en Skukuza het ons so ‘n pragtoneel gesien.
Oor daardie einste watergat het ek in Halfpad Hemel toe die volgende geskryf: “Eendag, eendag, glo ek, gaan daardie watergat langs die Salitjepad ons weer beloon.” Dit was oor ons ervaring in 1973 toe leeus en ‘n luiperd uit twee rigtings op bokkies by die water toegesak, maar ‘n krokodil uiteindelik die enigste geslaagde vangs uitgevoer het.
Dis ‘n Wildtuinstorie soos min waaroor ‘n ongelowige Chris van Rensburg van Bloemfontein nie ophou om Tokkie te terg nie. Gaan lees gerus HHT, bladsy 18.
In elk geval, die vakansie swaai ek weer by daardie watergat in om vir Ben van Rensburg en Rina Koen van Langebaan “Tokkie se plek” te gaan wys. Toe – 33 jaar later – beloon die gat ons ‘n tweede keer op ‘n besonderse wyse. Van die mooiste olifanttonele waarvan ‘n mens kan droom, het hulle daar voor ons oë afgespeel. T. het 20-stuks getel, groot en klein. Die getal is egter nie belangrik nie. Die hele prentjie was eenvoudig onvergeetlik.
Tien olifante op die laagwaterbrug tussen die personeeldorp en Skukuza was ‘n Van Deventer-eerste – en ons steek daardie brug seker vier, vyf keer ‘n week oor. By die Olifantdrinkgat het vier dors bulle ook die kameras laat oortyd werk. Die olifante het omtrent op hul tone moes staan om uit die hoë sementdam te drink.
By die Silolwenidam het ons twee olifante in die water raakgeloop wat met mag en mening met hul slurpe toutrek. Skynbaar was daar ook onenigheid oor iets. Die volgende oomblik ontbondel die twee en laat vat uit die dam dat jy net sien water spat. Dit was nie tien sekondes nie toe’s die olifante weg agter ‘n bos en die lui seekoeie in die water die enigste teken dat jy jou in die Wildtuin bevind. Die mense in die motor wat net na ons stilgehou het, het waarskynlik net die verdwynende agterlywe van die twee bulle gesien. ‘n Klassieke Wildtuin-situasie.
Die groot vraag is of ons die beroemde Duke op die H4-2 gesien het of nie. Mense het ons vertel van ‘n enorme olifant langs die pad met enorme tande wat tot teenaan die grond reik. Toe ons op die toneel kom, was die reusedier al dieper die bos in. Sy lyf was massief – dit kon jy sien.
Maar die Wildtuin bestaan nie net uit olifante nie. Van die hoogwaterbrug oor die Sabierivier op die Onder-Sabiepad het ons ‘n spannende leeujag dopgehou. Dit was onsuksesvol. Maar om die hele operasie van die brug af te sien ontplooi, was nogal iets om te onthou. Die naaste amper-vangs was by die Nyamundwadam op die Doispanepad waar ‘n luiperd oop en bloot halfpad om die dam geloop het (‘n halfmaan van ‘n goeie 200 meter) agter ‘n troppie rooibokkies neffens die parkeerplek aan. Sy teikens het hom net betyds gewaar en blasende gevlug.
By Lake Panic het twee seekoeie stomend en proesend vlakvoor ons gepaar – vet pret! Op die Phabenipad was vier cheetahs onder ‘n boom. Ons het twee keer swartwitpense en drie keer njalas raakgeloop – wat ook besonders is. Renosters was volop, met twee wat by die Delaporte-watergat naby Skukuza drink en twee in die middel van die Doispanepad die prima-renosterwaarnemings.
Op pad na Nhlanguleni het ons en Pierre en Esther le Roux twee groot troppe buffels raakgeloop. Die tweede, by die Lugmagdam, was ‘n fotograaf se droom. By die skilderagtige dam was ook sebras, waterbokke, seekoeie en wat nog – ‘n idilliese Wildtuintoneel so uit die boek.
Soos daardie olifant by Sabiepark se piekniekplek ‘n “naaste tot dusver” was, is ook op ons werf by Tarlehoet ‘n paar “naastes tot dusver” aangeteken. Kameelperde het een oggend so na aan die huis gestaan dat jy feitlik uit die kombuisvensters aan hulle kon vat. ‘n Stewige trop rooibokkies het tot teenaan die heining van die voorste lapa kom wei. Ander het uit die watergat gedrink. Vier loeries saam in die rooiboswilg by die watergat was ook ‘n baie spesiale eerste.
Die eerste Saterdag in Julie het ons jaarvergadering gehou met vier leeus wat op en af marsjeer oorkant die rivier – heel opwindend. Later moes ‘n trop sebras ‘n ent hoër op teen die rivier voor die vier laat spaander.
Hiënas het in Sabiepark met n nuwe laai vorendag gekom. Hulle peusel nou aan motors se syspieëltjies. Mercedesse, BMW’s, Camrys en ander sedanmotors het deurgeloop. Nie almal wat skade gely het, was juis geamuseer nie!
By Tarlehoet het ons en ons gaste gelukkig skade vrygespring. Groot opwinding vir die Malans van Pretoria (Cules, Dalene, Macus en Anel) was toe twee hiënas gelyk in die voëlbad kom drink. Cules en Marcus is met flitse die donkerte in.
Koedoes het opwinding besorg met periodieke besoeke aan die voëls se pitjies. Een middag was daar nie minder nie as 10 koedoes op die werf en by ons watergat. Die bosnagaap het weer sy verskyning gemaak, gelukkig betyds vir die tweeling Jacob en Thomas om ook met die gulsige meneer met die spoggerige stert kennis te maak.
‘n Bobbejaan het by ons kamerdeur ingestap (dit fluister ek maar saggies!) en by die eetkamerdeur uit, met (genadiglik!) min skade en/of gemors. Blykbaar het hy die deur net oopgeskuif en ingestap. Die skoonmaakvrou Lucy se advies was kort en kragtig: “Lock, lock, lock!” Beter advies ken ek nie.
Die eerste aand toe Esther le Roux in die kamer kom, roep sy verskrik uit: “Slang”. Waarlik daar lê so ‘n swartetjie opgekrul teen die skuifdeur. Pierre het hom met die opgevoude koerant uitgehelp.
‘n Tarlehoetrekord wat sekerlik lank sal staan, is die 249 foto’s wat Ben van Rensburg in twee dae op sy gedugte digitale Canon ingeryg het! (HvD)
FOTO’S: Vir foto’s van ons bosvakansie, klik eers op www.picasaweb.google.com/hennievandeventer
Klik vervolgens op die album van u keuse.
AANBEVEEL: Album 11, By die piekniekplek, Album 14: Sabiepark (2), Album 15: Wildtuin (2) en album 19: Jacob en Thomas (2).
HvD
