Vir Volkies se matriekklas van 1957 lei alle paaie die naweek na Potchefstroom. “Ons kom weer lag, ons kom weer droom.!” Ons sal seker darem ook ‘n wyntjie of wat geniet op die goeie ou dae saam met lekker maats en mooi meisies.
Die Van D’s val more vroeg-vroeg in die pad. Die eerste stop is by my Kollegemaat Johan Bekker en sy vlytige vrou, Antoinette, by Jacobsdal. Hoop die skaap en die ganse is so mooi soos laas. Vrydag stoot ons aan Potchefstroom (Tlokwe!) toe.
As die Kaap soos vandag lyk, sien ‘n mens sommer dubbel uit na die reis, want vandag is dit hier winter. Dis grys, nat, koud en in die algemeen mistroostig en onplesierig – hoewel ‘n strepie sonskyn op hierdie oomblik deurbreek..
Maandag vat ons die pad via my Kollegemaat Manie Steyn en Sannie aan die Wes-Rand Sabiepark toe – hoop net nie die Wildtuin is nog so ‘n pikswart stuk verbrande aarde soos op die twee foto’s hierbo nie. Hulle is begin Augustus geneem op die Doispanepad op pad na die Phabenihek nadat ‘n mal Britse toeris glo in ‘n woedebui jeens sy vrou met ‘n vlammende kardoes die veld aan die brand gesteek het. Wonder wat het van die vent geword.
In Sabiepark wag ‘n tweede re-unie: die van ‘n hand vol lede van my eerste hoofredaksie by Die Volksblad in 1980: Herman le Roux, Sarel Venter, Piet Theron en Paul Marais en hul gades, Rina, Liesbeth, Petro en Cora.
Ook daar gaan die byle huil so tussen die sebras, koedoes, nagapies en wat nog.
Ons is eers op 1 Oktober terug op Melkbos, want Jan Scholtz se 70ste le ook nog in Bloemfontein voor.
‘n Lang storie – net om besoekers mee te deel hierdie webjoernaaltjie (blog) se gordyn sak hiermee tot so die 2de, 3de Oktober. Hopelik het ek dan ‘n storie of twee om oor te vertel!
Mooi loop.
HvD
