Kyk, jy kry re-unie-ouens en jy kry nie-re-unie-ouens. Ek is ongekwalifiseerd een van eersgenoemde. Tokkie beweer ek sal 1 000 kilometer ry om ‘n re-unie van my speelgroepie by te woon. Sy maak ‘n groot fout: daar was nie sulke goeters soos speelgroepies in my tyd nie!
Nietemin vir my matriek-re-unie 50 jaar nadat ons klas van 81 Volkies op Potchefstroom einde 1957 vaarwel gese het, het ek meer as as 1 000 kilometer gery – amper 1 400 (x 2 natuurlik). Op die koop toe het ek by Laingsburg ‘n boete van R300 opgetel vir ‘n nommerplaat wat TE GROOT en TE SIGBAAR is! By Warrenton is ek twee keer in twee minute (09:15 en 09:17) deur ‘n kamera betrap (njannies). Saam kos dit R950. Op Bloemhof is nog R150 vir my bygevoeg …
‘n Peperduur maar heerlike uitstappie. Tog wonderlik hoe maats mekaar na lang afwesighede die hand kan reik en kan voortgaan of geen water intussen onder die brug deur is nie. Sommmige kom op hul oudag inderdaad beter klaar as toe hulle kraak-jonk in matriek was!
Die foto bo van Willie Hartzenberg (nou regter Hartzenberg) en Wena de Kock (nee Louw) demonstreer hoe lekker daar gekuier en gelag is. Hulle was in 1957 saam by die matriekafskeid: twee skoongesig-kinders. Hy was duxleerling en sy hoofmeisie. Die fotonemery 50 jaar later het vanselfsprekend met allerlei kommentare gepaard gegaan, ook van die betrokke gades.
Op die foto onder is die Latynklas – die enigste wat met 100% bywoning kon spog. Van hulle bestaan ‘n storie wat hulle nie tot eer strek nie. In standerd nege het hulle ‘n nuwe Latyn-juffou gekry, Oumatjie van Schouwenburg. Sy was seker diep in die 70 en het soms maar met die woelige seuns gesukkel. In haar gebed aan die einde van ‘n skooldag vra sy toe op ‘n keer dat die seuns tog nie weer so met haar moet maak nie. Dit het ons geruk. Willie H. het mooi gevra: “Boys, gedra julle nou.” Ons het.
Ek dink Oumatjie sou in 2007 trots gewees het op haar klas: twee regters, allemintig! Die ander het nie een te vrot uitgedraai nie – as dit nie ‘n te onbeskeie aanspraak is nie!
Maar ingebore woeligheid skud ‘n mens nie af nie, nie eens in 50 jaar nie. Een van daardie vyf was dit wat ‘n taamlike waaghalsige klouter-beweging uitgevoer het vir die soveelste klasfoto van die Latiniste – twee verdiepings hoog op ‘n muur met ‘n boog aan die bokant. Hy het die vier ander uitgedaag om te volg. Ek was eerste om die gevaar van ‘n gebreekte been, pols of bekken uit te wys. Die ander wou ook nie byt nie. Sal liewer nie die naam (en hoge posisie) van die waaghals verklap nie.
Buiten die gemaklikheid waarmee ou bande opgetel is, tref die element van broosheid wat al ingesluip het, ‘n mens soos ‘n vuishou. Nie almal sou meer oor die tralies van die eerste verdieping kon klim vir ‘n foto nie! Trouens, party is al krom van ouderdom en loop maar sukkel-sukkel.
Uiteindelik het 37 van die 51 wat opgespoor kon word, opgedaag. Minstens 15 is al lang boompies toe. Daardie 37 sou meer gewees het. Maar toe gaan staan die hoofseun, Koos van Niekerk, dubbele longontsteking en kry. Hy bel uit die hospitaal met ‘n gans-stem. En hy is met sy matriekkys, Ina, getroud. Minus twee dus. Nog twee meisies laat weet hulle kan nie meer kom nie: een is pas gediagnoseer met longkanker en begin met chemo, ‘n ander se man het beroerte. Hartseersake.
My kamermaat in Jack Pauw met wie ek lank gespook het om seblief tog te kom – ek verlang na die bokker wat ‘n keer my meisie afgevry en haar toe in ‘n ridderlike oomblik vir my terugegee het – moes ook met ‘n grafstem telefoniese verskoning aanbied. Erge griep. Sal ek ou Wiekie nou ooit weer sien?
Na al die uitruil van adresse, e-pos-adresse, telefoonnommers en re-uniefoto’s – na al die briefies en oproepe om oor en weer dankie te se – is almal nou weer terug in hul ou patrone by hul blyplekke oor die land versprei. Die ene pas kleinkinders op; daardie ene is ‘n wereldreisiger, nog ene is midde-in ‘n egskeiding. Party swoeg nog om den brode. Ander stap met hul kieries langs die see. So is die lewe maar.
Maar ek het ‘n vermoede. Dit is dat die spontane warmte in die hart wat daardie September-naweek op Potchefstroom gegenereer het, by elkeen wat daar was, lewendig gaan voortleef as ‘n stuk brandhout vir die oudag se herinneringe (my studentemaat Manie Steyn se mooi uitdrukking).
To ons weer ontmoet! (HvD)
Naskrif: Ons skool bied die laaste jare elke tweede jaar ‘n sogenaamde “musical” aan wat vriend en vyand aan die juig en jubel het. Ons re-uniegangers was vanjaar bevoorreg om die Vrydagaand na die Puk op te ruk vir die 2007-opvoering. Wat ‘n skouspel! Maar hoekom het die skoolmeisies in die jare 50 nie so gelyk, so gedans en so aangetrek nie? Ai, my maat!
