Hierdie keer was dit die Afrikanerklub wat die Van D’s geroep het – na sy goue jubileum op Donderdagaand 25 Oktober, met die bekendstelling van Sarel Venter se gedugte gedenkboek, ‘n Plek in die son, die spilpunt van die viering.
Ek is genooi as geleentheidspreker en ons het om vier redes met ‘n lied in die hart op Mango se propvol Boeing 737 Bloemfontein toe geklim:
(a) Omdat dit juis kollega Sarel se boek is wat bekend gestel is. Ons het by Die Volksblad ‘n lang pad saamgeloop en ek het vir sy joernalistieke vaardighede en integriteit groot respek.
(b) Omdat elke besoek aan Bloemfontein ‘n heerlike tuiskoms is na my en Tokkie se heimat waar soveel persoonlike goue herinnerings hul ontstaan gehad het.
(c) Omdat ek my so volkome vereenselwig met die Klub se uitgangspunt van Trots Afrikaans en sy veldslae vir Afrikaans, soos oor eentalige munisipale rekenings.
(d) Omdat die okkasie so ideaal was om keel skoon te maak oor die besoedeling van Afrikaans met allerlei Engelse mode- en gebruikswoorde, en die rysmiere wat hom van binne koloniseer. Soos van diegene Afrikaans en Engels sommer goedsmoeds deurmekaar kan klits, is vir hierdie paar ore eenvoudig te erg om te verduur.
P.G. du Plessis het al verklaar: “Dis nie die regering wat ons taal wil dooddruk nie. Ons vermoor hom self! Ons vermoor hom in elke huis en kombuis en hoër skool … as ’n taal se trots gesterf het, dan gaan hy vrek. En dan kan jy nou maar baklei en verenigings stig.†Ek sluit my 100% by P.G. aan.
Hy kon gerus die kerk bygevoeg het by die huis, kombuis en skool. Vir my is onsuiwer taal van die kansel af een van die grootste irritasies. Dis nou mos nie meer net shows/songs wat vir die sogenaamde celebs en cool jongmense amazing, spectacular en/of exciting is nie, dis nou selfs al God en sy wonderwerke – sy miracles! – vir dominees op die kansel.
Daaroor het ek al in Die Kerkbode gekla en ook ‘n paar persoonlike potjies geloop. Een was met ‘n byderwetse jong leraar, voorheen van Melkbos, met die griewende gewoonte om Afrikaans en Engels ewe jollie ( “jollie†kom voor in die HAT) te “mieks†(“mieks kom nie voor in die HAT nie!)
Hy het een Sondag van die kansel verduidelik dat hy in sy preek ‘n Engelse woord gebruik omdat hy nie aan ‘n Afrikaanse ekwivalent kan dink nie. Ek ry toe na kerk huis toe en raadpleeg my HAT. Dié bied ses uitnemende Afrikaanse alternatiewe. Dieselfde oggend nog gaan gooi ek ‘n briefie in sy posbus.
Hy het hom vervies. Dat ek hom kort tevore voor stok gekry het omdat hy met ‘n T-hemp op die kansel verskyn het, het hom nie liewer vir my gemaak nie. Hy begin toe wyd verkondig, en skryf dit selfs later in Die Kerkbode, dat op Melkbos gryskoppe is wat liewer nou maar op die stoep moet gaan sit en vir die see kyk! Ek het geweet hy het my in die visier. Dit daar gelaat – ek wil nie op die dominees pik nie.
Mag ek darem net twee aanhalinkies uit my Bloemfontein-toespraak hier herhaal vir wat dit werd is:
Nommer een: “Om ‘n kampvuur het ek die idee gehoor dat ons ophou om please en thank you te sê. Ons kap daardie woorde uit ons woordeskat. Ons sê net asseblief en dankie, soos die France silvous plaiz en merci se – diegene wat nie weet wat dit beteken nie, sal gou agterkom.â€
Nommer twee: “Een van die uitdagings is om, in die idioom van die dag, die persepsie te swaai dat dit die bad guys is wat besorg is oor Afrikaans. Tong in die kies: dalk moet ons die regte bad guys aan die kaak stel soos die modekenners jaarliks die tien swaksgekledes vroue aan die kaak stel en die besgekledes ‘n pluimpie gee.
“Moet iemand met aansien nie die voortou neem om die tien vrotste Afrikaanspraters in Afrikaanse geledere en die tien beste jaarliks by die naam te noem nie? Dalk is die idee nie so tong in die kies nie!â€
Nommer een is Tokkie proefondervindelik aan’t toepas in die praktyk, bv. by motorwagte. Sy rapporteer gunstige resultate.
Van nommer twee sal natuurlik niks kom nie. Maar dis nogal pret om so ‘n lysie in jou eie gedagtes te begin opstel!
Wat ek nie geweet het nie, is dat die Afrikanerklub se grondwet inderdaad in ‘n stadium voorsiening gemaak het vir die toekenning van ‘n sogenaamde Galbitter-prys vir “die instansie en/of individu wat Afrikaans die afgelope jaar met minagting behandel het en sodoende Afrikaans die grootste skade berokken het.â€
Sarel Venter het laat weet: die deel oor die Galbitterprys is ‘n jaar of wat gelede op ‘n jaarvergadering geskrap. “Dalk moet die Klub dit maar weer instel.†Puik idee, Sarel. Ek sekondeer!
Sarel is nie net die outeur van die boek nie. Hy en sy vrou, Liesbeth, was ook my en Tokkie se wellewende gasheer- en vrou in hul gastehuis Komweer in De Jagerstraat, Fichardtpark. ‘n Meer vanpaste naam kon hulle nie vir daardie gastehuis uitgedink het nie. ‘n Kenmerk van die Venters se gaste is dat hulle weer kom en weer, en weer…
My eie Vrystaatse wortels is al in 1992 uitgetrek en Tokkie s’ n twee jaar later. Mense wat toe flinke 70-jariges was, is nou 85-jariges in wisselende grade van broosheid. Een, Oom Danie Pienaar, vertel hy het al 20 keer geval.
Diegene wat “jeugdige†55-jariges was, is nou die 70-jariges. Een van hulle is ‘n ander gewaardeerde oud-kollega, Jan Scholtz. Sy 70 is onlangs gevier, en hy glip die aand vinnig uit die saal om ‘n pypie op te steek. ‘n Vierjarige kleindogter van sy vrou, Marlene, se suster loer toe by die deur uit, kyk na hom en se: “Jy lyk soos die duiwel.â€
Uit die mond van die suigeling…
Jan se kommentaar: “Self het ek natuurlik nog nie die duiwel gesien nie, maar ek wonder op 70 of die kindjie nie iets beet het nie!â€
Ja, hoe ouer jy word, des te ruimer humorsin het jy nodig. (HvD)
FOTO: Volksblad se foto van die okkasie. Van links is Gert Terblanche, Sarel Venter, Francois Retief en HvD.
