Mayafudi loop weer. In my twee Mayafudiboekies, Mayafudi (Afrikaans) en Mayafudi – memories of an elephant neem die olifantbul Mayafudi se swerftog na ‘n reeks beproewinge hom op ver paaie in die Krugerwildtuin. Hy dek ‘n stewige stuk van die Park, van die Sabierivier by die Krugerhek tot anderkant Shingwedzi, amper 300 kilometer.
Presies waarheen hy nou oral op sy tweede tog op pad is, weet ek nog nie. My raaiskoot is egter dat hy ‘n aansienlik groter oppervlakte gaan dek – ook buite die Wildtuin.
Dis dieselfde Mayafudi (maaifoedie) waarvan ek hier praat – dieselfde maar ook nie dieselfde nie. Die een Mayafudi is natuurlik die die hoofkarakter in die twee boeke wat in 2005 en 2006 onderskeidelik verskyn het, so herdoop nadat hy die ondeunde bulletjie ‘n veldwagter met ‘n goed gemikte maroela-missiel van sy dikwielfiets laat tuimel het.
Die tweede een is die boeke self, die ene met ‘n stemmingsvolle olifantskildery van David Cubbin van Kaapstad op die omslag en die ander een met oulike foto’s wat in Oktober 2006 deur my skoondogter, Mariza van Deventer, in ‘n ongekende olifant-geilte by Sabiepark se piekniekplek geneem is.
Dié twee boeke, plus my ander bosboek Buurman van die Wildtuin is deur die winkelgroep Tiger’s Eye aangeskaf vir verspreiding dwarsdeur die Wildtuin en in ander nasionale parke. Hullle kom dus op die rakke waar hulle, volgens my, werklik hoort en onder die aandag van ‘n veel groter gehoor as tot dusver.
Natuurlik is ek in my noppies, want waarvoor skryf ‘n mens tog maar in die finale instansie ‘n boek? Dis om by die meeste moontlike “regte” lesers uit te kom; diegene vir wie jou skrywes genot kan besorg. In die geval van hierdie drie boeke (foto hierbo) is daardie “regte” lesers duidelik definiëerbaar. Dis natuurliefhebbers – mense met die bos in hul bloed – van alle ouderdomme, geslagte en herkomste.
Om Tiger’s Eye se bestelling uit te voer, is herdrukke (derde herdrukke en meer) van al drie die boeke nodig. Dit woel op die oomblik by Imaging Data Solutions in Bellville-Suid met die druk en die bind. Binne ‘n week tot tien dae behoort die pakke boeke by Tiger’s Eye se pakhuis in Kaapstad te wees, en dan is die verspreiding in sy hande.
Sal dit nie vir hierdie ou bos-betottelde Melkbosser lekker wees nie as Mayafudi of Buurman in ‘n paar Kerskouse van Berg-en-Dal in die suide tot by Punda Maria, 400 kilometer noordwaarts, kan beland! (Punda Maria is die kamp waar my ontslape kollega Gideon Engelbrecht ‘n spoedkaartjie gekry het. Die balju bring toe die dagvaarding en deel Gideon se oorblufte vrou, Rinie, mee dit het klaarblyklik iets met ‘n Portugese vroumens Maria te make!)
Vir diegene wat nie van hierdie HvD-bosboekies kennis dra nie, kan ek verwys na my webwerf, www.hennievandeventer.com, waar meer oor hulle vertel word. Daar is selfs die volledige Afrikaanse weergawe van die manuskrip wat deur my vriend George Holloway van Melkbos in die Engelse Mayafudi – memories of an elephant herskep is. Die aanpak en verpakking verskil ietwat van die oorspronklike Mayafudi.
Die storie is egter in wese dieselfde: die fiere bul Mayafudi, kleinseun van die beroemde Mafunyane met die verskriklike tande, raak toenemend ontnugter deur ‘n reeks rampe wat droogtes, vloede en brande insluit; ook die dood van sy pa, sy ma, die edelmoedige matriarg Ukuthula, en tweelingsuster, Nkosikazi (Klein Prinses) in ‘n uitdunningsoperasie. Hy breek bande met sy trop, swerf noordwaarts op soek na sy oupa se voetspore en raak daar gevestig. ‘n Krisis ontstaan. Na ‘n konfrontasie met brandstigters uit Mosambiek en daarna met onskuldige toeriste in ‘n safarivoertuig, vlug die onstuimige bul terug na sy wortels aan die Sabie… en ‘n heerlike oudag-verrassing.
Mense wat weersin het in antropomorfisme moet tog maar wegbly. Ek gee my olifante menslike insigte, denke en emosies, en die resensent Cecile Celliers het daaroor rillings gekry. (Moet erken ek het nie geweet wat antropomorfisme is nie, en moes my na die HAT haas nadat die nimlike CC se afkeurende resensie in Beeld verskyn het!)
Buurman handel oor die lewe in die Van D’s se “hoekie van die hemel” in die Bosveld, Sabiepark. Ek skryf oor mense, diere, bome en voëls; oor wedervaringe, amusant en benouend; oor allerlei verleenthede en penaries; oor anekdotes, kampvuurstories en wat nog. ‘n Galery van my eie dierefoto’s dui op die intieme interaksie tussen mens en dier in daardie “Laeveldse Eden” aan die Sabierivier. ‘n Luiperd op ‘n stoep; ‘n koedoebul wat die voels se pitjies kom gaps, twee kameelperde in ‘n ongemaklike erotiese oomblik, ‘n gulsige vlakvarkie wat pens en pootjies oor ‘n muurtjie duik op soek na krummels van die vorige aand se braaibrood – geeneen kom skotvry nie.
Buurman is genadiglik nie deur CC geresenseer nie. ‘n Ander Cilliers, Stoffel, het in Volksblad geskryf: “Van Deventer vertel gemaklik, pittig en met fyn aanvoeling. ‘n Knap geskrewe boek dié.” Jeanne Hugo bevind in Die Burger: “In vergelyking met die (Wildtuin-)stories wat ‘n man vertel wat eintlik reg in die Wildtuin woon, moet die res van ons maar stilbly.”
Hopelik beleef die nuwe lesers wat my boekies in die Wildtuin (of in ander parke) op die rak aantref, hulle op soortgelyke wyse. En onthou: Volgende keer as ‘n olifant in die Wildtuin vir u knipoog, is dit dalk een van Mayafudi se nasate. Wie weet? (HvD)
