Ek sit op my stoep in Sabiepark en lees Beeld toe ek op die vreemde storie afkom van die vurige Blou Bul-ondersteuner wat deur ‘n genaakbare metropolisieman oorgesien is toe hy oor ‘n rooi lig ry. Sy verskoning was vrees om gekaap te word. Wat die geregsdienaar se genaakbaarheid vinnig laat verdamp het, was ‘n plakker op die ou se nommerplaat.
Die plakker was blou met twee onmiskenbare wit bulhorings – die kenteken van die Blou Bulle. Vir dié oortreding was geen genade nie. Die bedremmelde man moes maar ewe gedweë sy linsensieskyfie ingee, sy nuwerige Raider-bakkie vir ‘n (onnodige) padwaardigheidstoets neem wat hom R227 gekos het, en met groot moeite en persoonlike ongerief ‘n nuwe lisensieskyfie bekom. Hy was boonop sy Blou Bul-plakker kwyt, wat hom die hartseerste gestem het.
Die storie herinner my om klaarblyklike redes aan die grappie van die spietkop en die donderweer. Vraag: wat is die ooreenkoms tussen ‘n spietkop en donderweer? Antwoord: as jy die blik… gesien het, is dit klaar te laat!
Nie baie lank daarna nie onthou ek weer die grappie toe ons net buite Laingsburg op pad noorde toe in ‘n padblokkade voorgekeer word. Die aanvallige inspekteur F. Molligan (Fiona? Fleur? Frederika?) buig laag oor die voorste nommerplaat en kom kopskuddend orent. Ek sien aan die verbete trek om haar mond hier kom moeilikheid. Inderdaad. Ons moeilikheid is dat die nommerplaat (derhalwe ook die nommer) te groot is.
Tokkie wat agter die stuur is, moet van haar ID-nommer tot haar volle name tot haar ouderdom verstrek. Sy kry ‘n boete van R300. As ons nie betyds opdok nie, is die hof op Laingsburg haar voorland. Ek sien my vrou kriewel. Sy het al tevore oor die nommerplaat gal afgegaan. Ek (die wettige eienaar van die voertuig) sit suutjies voor my en uitstaar.
Toe ons ry, bars ek uit. Watter onsin! Hier word ons beboet omdat ons nommer TE groot en TE sigbaar is. Vir baie ander s’n het jy omtrent ‘n vergrootglas nodig. En vanwaar die onheilige drang na absolute eenvormigheid? Sal alle ligte, flikkerligte en wat nog ook nog eendag eenders moet wees (“aan SABS-norme voldoen”)? Waarom nie slegs voorskryf dat die nommer op ‘n afstand van 50 meter leesbaar moet wees nie?
Toe ons Beaufort-Wes binnery, is ek so opgewerk dat ek die provinsiale verkeersafdeling gaan opsoek. Dis in ‘n woonbuurt, goed versteek. Mnr. Van Rooyen, die baas, kom uit vir ‘n inspeksie ter plaatse en gee my gelyk. As dit nou in sy gebied gebeur het, sou hy saamry aanklaer toe om die kaartjie op te skeur. Maar Laingsburg is nie sy gebied nie. Ek sal maar vertoë moet rig.
Tuis word foto’s geneem en die maatband uitgehaal. Dit blyk inspekteur Molligan se wrewel is ontketen deur ‘n plaat wat 105 x 520 mm is teenoor die vereiste van 110 x 515 mm – iets geweldig! Die letters is .052 x .075 teenoor die voorgeskrewe .028 x .075.
Ek skryf vir die aanklaer die plaat is GROTER en die letters DIKKER as die vereiste. Sigbaarheid is dus BETER. Die beweerde oortreding is na my oordeel van onbenullige tegniese aard. Die bedoeling was nie om die wet te omseil nie. Die Honda het egter twee gaatjies op sy kattebak wat ek wou wegsteek. Die rede vir die geringe afwyking is dus kosmeties sowel as funksioneel. “In die lig van bogenoemde word vertoë hiermee gerig dat die boete opgeskort en die saak van die hofrol geskraap word.”
Toe begin die wag, een oog op die almanak, want die boete gaan ek waaragtig nie betaal nie, maar die lus vir ‘n uitstappie na die “haai Karoo” ontbreek eweneens. Ek bel, bel en bel. Elke keer is die antwoord eenders: “Nog niks van die aanklaer gehoor nie.”
Twee dae voordat T. in die hof moet gaan pleit oor haar “onbesonnenheid” breek die lig deur. Die nooi gaan slaan na wat van 5216350/900/033652 geword het en kom kondig aan met ‘n stem wat klink of sy persoonlik daaroor injuria gely het: “Meneer, die saak is teruggetrek”.
Die goeie nuus is dat T. nie ‘n misdaadrekord kry nie. Dit beteken blydskap omdat ek nie graag langs ‘n misdadiger sou wou slaap nie. Die slegte nuus is dat sy sterk druk uitoefen dat ek die nommerpas-nommerplate met die normpas-nommerplate moet vervang. Dit sal beteken daardie twee gaatjies steek uit. Ek skop dus vas. Maar ek ry nou die “wettige” plate oral saam. As ek weer voorgekeer word, sal ek wel ‘n storie hê hoekom hulle binne die voertuig is en nie op die bestemde plekke aan die voertuig nie.
Intussen verval ek maar in residivisme (as ek reg onthou uit Krim 1 in 1958) en oortree keer op keer die wet sonder om te blik of te bloos. (HvD)
Naskrif: Op die foto sit die uwe by die onbehoorlike nommerplaat wat inspekteur Molligan van Laingsburg so aanstoot gegee het, en met die wettige plaat in sy hand.
