Op my webwerf, www.hennievandeventer,com is ‘n balkie “KERK”. ‘n Kliek daarop bring ‘n mens by ‘n onvoltooide manuskrip met nog ‘n of/of-titel: Die een of is: Moenie skeur nie, dis ons kerk. Die ander is: Kerk op die voorblad.

Die boekie volg die pad wat ek met die Kerk geloop het sedert ek in 1957 op Potchefstroom in die moedergemeente (waar voor ek – voor die groot brand – op die foto staan) by die bekende dr. Beyers Naude belydenis van geloof afgelê het. Ek skryf oor my ervarings met die Kerk as ‘n gewone lidmaat vir 50 jaar – die langste verbintenis wat ek met enige instansie het – en as joernalis, uiteindelik dagbladredakteur, in turbulente tye.

In die manuskrip is heelwat oor my eie rol om die Kerk se denke, o.m. oor die netelige kwessie van kleur, te help verruim. Al moet ek dit self sê, kan ek klaarblyklik op grond van vorige bydraes kwalik beskuldig word dat ek ‘n remskoen vir groter eenheid is.

Iemand wat die moeite wil doen om daardie manuskrip te gaan lees, gaan dus waarskynlik my huidige standpunt oor veral die omstrede Belydenis van Belhar vreemd vind. Dit besef ek goed.

Ek raak egter toenemend vervreemd deur pogings uit die Verenigde Gereformeerde Kerk om Belhar as ‘n pistool teen die N.G. Kerk se kop te hou. Ek vrees ook toenemend dat Belhar die potensiaal het om die N.G. Kerk bitter seer te maak – dat ‘n groot wegstroming van daardie soort lidmaat wat die bestendige ruggraat van baie gemeentes vorm, kan voorkom.

Reeds in die manuskrip het ek na Belhar verwys as “‘n belydenis wat vir baie wit broers en susters alte veel politieke bagasie in hom omdra.” Ek het bygevoeg: “Die naam Allan Boesak is verreweg ook nie oral in N.G. kringe geliefd nie. Boweal skep die kwessie van ‘n bestaan in twee wêrelde met ingrypende verskille in kulture, standaarde en gebruike ‘n moeilik oorbrugbare kloof.”

Verlede week het ek n.a.v. ‘n rubriek uit die pen van dr. Allan Boesak in Die Burger se briewerubriek weer kommentaar op Belhar gelewer. Syne was ‘n poging – met verdienste – om Belhar se klem op die armes uit ‘n teologiese hoek te motiveer. My standpount was dat hy, met respek, nie die kernredes vir die groeiende verset teen Belhar aangespreek het nie.

Die Burger vereis briewe van 400 woorde of minder. Ek moes dus sny. Hier volg die volledige oorspronklike bydrae oor die redes vir die verset, soos ek dit sien:

“Soek die redes binne politieke konteks, in persepsies wat oor jare in die harte van baie N.G.-lidmate vasgegroei het, en in die simbool van bedreiging wat Belhar geword het vir ‘n laaste stukkie eie leefwereld van mense wat in net meer as tien jaar reeds baie moes prysgee.

“Feit is dat die belydenis in hul oë in ‘n politieke konteks ontvang en gebore is. In die tyd en omstandighede toe Belhar deur die ou Sendingkerk en die V.G.K. omhels is, was teologie en politiek inderdaad so verweef dat dit feitlik onmoontlik geword het die belydenis van sy sware politieke bagasie te bevry.

“Ten tweede die persepsie. Dat Belhar ‘n eiesoortige kerklike “anti–apartheidsvlag” is wat gehys het, is ‘n indruk wat, reg of verkeerd, uit die staanspoor posgevat het. Die V.G.K kan stry, maar deur die jare het hy nie juis uit sy pad gegaan om daardie persepsie uit te wis nie. Huidige strydvaardigheid oor die ononderhandelbaarheid van Belhar vir kerkhereniging en die onwrikbaarheid om dit, kom wat wil, aan die N.G. Kerk op te dwing, sal ingewortelde persepsies net nog vaster in sement giet.

“Ten derde, moet begryp word dat hul kerk vir ‘n groot gros N.G.-lidmate ‘n laaste uiters waardevolle bastion is waarin die eie identiteit, karakter, kerklike tradisies en kultuur, verwagtinge, gebruike en standaarde uitgeleef kan word. Belhar is vir hulle die belhamel van ‘n aanslag daarop en lok derhalwe, heel verstaanbaar, ‘n sterk emosionele weerstand uit.

“N.G.-lidmate is oor die algemeen nie weerspannig ekskluwisties nie, volgens my waarneming. Trouens, die strewe tot uitreiking, samewerking en selfs gestruktureerde insluiting van “nuwe” lidmate uit ander groeipole staan in verskeie gemeentes hoog op die voorranglys – solank dit net nie via Belhar hoef te geskied nie.

“Al spel hulle dit nie eens vir hulleself in daardie terme uit nie, voel lidmate immers instinktief aan dat Belhar die dun end van die wig is. Word Belhar maar ter wille van die goeie vrede en vir groter harmonie gesluk, beteken dit die einde van die N.G.Kerk in huidige gedaante. ‘n Groot Kerk soos sy lidmate hom ken en lief het, verdwyn. ‘n Geheel nuwe Kerk met ‘n vreemde naam en ‘n ander lidmaatbasis kom tot stand. Die laaste bastion het getuimel.

“Dit sou baie struikelblokke uit die weg ruim as N.G-.lidmate gerus gestel kan word dat hulle nie die verdwyning van hul Kerk, sy naam en sy modus vivendi hoef te vrees nie. Om dit te bereik, sal ander brugbou-modelle geprakseer en oorweeg moet word as die enkelvoudige eenwordingsmodel wat nou op die tafel is.

“Voordat daardie besef nie deurgedring het nie, gaan sogenaamde “hereniging” ongelukkig nog met baie stampe en stote gepaard gaan, en gaan die N.G.Kerk uiteindelik die lydende party wees, vrees ek.” (HvD)

Deel dit: