So breek die bewoë dag toe gister aan dat ons moet gaan teëls, matte, kaste en ligte uitsoek vir die nuwe oudaghuisie wat dakhoogte gemessel staan in ‘n Toskaanse (reg geraai!) aftreedorpie wat in Durbanville se wyke verrys.
Dit is ‘n taak wat ek met ‘n bepaalde swaarmoedigheid van gees aanpak. Ek bewonder tydgenote wat met geesdrif na dié nuwe fase in hul aardse bestaan uitsien en hulle met geesdrif in die projek werp om hulle, vir die laaste skof, met mooi dinge te omring. Ons is nie almal so nie – die uwe allermins.
Daardie huisie-in-wording sien ek as noodsaaklike euwel, elke baksteen ‘n dreigende herinnering dat die akute volgende stadium van die brille-en-pille-fase (hierbo uitgebeeld) met allerlei fisieke en geestelike kastydings gepaard gaan – nie die minste nie om die vertroude huis en haard op te skop, goeie vriende vaarwel toe te roep en na vreemde oorde met ‘n nuwe lewenstyl, dissiplines en ontberings te verkas.
Ek is – laat my maar gerdedelik erken – bitterlik negatief oor die plek. Ek sou verkies om nooit soontoe te verhuis nie. ‘n Reeds ontslape vriend wat die eienaar was van ‘n indrukwekkende herehuis op ‘n Noord-Vrystaatse plaas, het vir hom ‘n beskeie vakansiehuisie opgerig en meermale die suspisie uitgespreek dat sy vriende agter sy rug vra: ” Nou watse ou …huisie het ‘ou Karel’ nou hier gebou? ”
Wyle ‘Karel’ se …woord vertolk my eie gewaarwordinge rakende my “eenheid” presies. Dat teëls pleks van matte vir die slaapkamers uitgesoek word – dit hou makliker skoon en ruik nie so gou sleg nie! – dat die sogenaamde Toskaanse styl as vyeblaar gebruik word om liederlike pleisterwerk te probeer verdoesel, en ‘n straataansig waaroor die argitek tronkstraf sonder die keuse van ‘n boete opgelê behoort te word, help nie om my verharde hart teenoor eenheid 55 te verteder nie.
Ewenwel, ‘n vaste afspraak word met Colleen gemaak, want daar is ‘n lang ry gryse ou ooms en tannies wat eindeloos opruk om hul voorkeure te kom uitstippel: hierdie teëls vir die kombuis, asseblief, daardie kaste (beskikbaar in allerlei skakerings van donker tot lig), hierdie handvatsels en wat nog.
Colleen is jonk, blond en huppelend van hulpvaardigheid. Ek kondig somber aan ons soek net alles wat standaard is en daarmee basta. Geen enkele sent wil ek op daardie steen-des-aanstoots onnodig bestee nie.
Sy wys hoopvol na ‘n bordjie met ‘n verskeidenheid mosaïeks.
“Standaard?”
“Nee, dis ekstra.”
“Dan soek ek dit nie.”
Sy kry die boodskap. Alles verloop flink en vinnig totdat ons by die stoof kom. Die standaard-stoof is swart, deel sy mee en kyk vraend na ons. “As hy swart is, is hy swart.” Afgehandel.
En die gordynrelings? Baie mense verkies hul eie dekoratiewe kappe, stawe en dies meer, julle weet. “Standaard,” se ek streng.
Nou breek die tyd aan vir ligte uitsoek. Daarvoor ry ons na Vernon na wie ‘n plan van die huisie gefaks word om die seleksie te vergemaklik. Hy noem ‘n bedrag (die sogenaamde pc-bedrag, wat dit ook al beteken) vir ‘n D1 en ek moet se dit klink bra min. “Almal gaan oor,” kondig hy joviaal aan.
“Ons gaan nie oor nie,” vat ek hom kort. Laat ons die operasie dus uit die staanspoor reg aanpak, asseblief. Dit help nie ons begin duur ligte kies en ontdek teen die einde is ons tien of honderd of ‘n duisend rand oor nie. “Ek wil nie weer voor begin nie.”
Vernon steeks sy verbasing goed weg en lei ons na ‘n sysaaltjie met ‘n klaarblykliker goedkoper reeks as die versameling kristalkandelare en allerlei moderne blink ontwerpe wat die toonkamer versier. Dis dan hierdie of hierdie, beduie hy. Albei baie basies.
Binne vyf minute – dalk korter – is die ou takie afgehandel. Hy trek sy sompompie nader – ons is R100 kort, wat ‘n rekord moet wees. Twee klein bolletjies word tot die volgende grootte opgegradeer, en siedaar, ons is reg tot op ‘n sent (BTW ingesluit).
Sulke ekonomiese konserwatisme het Vernon nog nie gesien nie. Hy staar ons agterna – die arme drommels wat hul sentjies so klaarblyklik moet omdraai. Ek glo hy vertel sy vrou gisteraand van die vreemde klante … en verkry opsluit haar instemming om voortaan elke maand ‘n ietsie meer vir die spaarbussie af te knyp. Want so wil ‘n mens darem waaragtig nie meet en pas as die jare jou begin inhaal nie ! (HvD)
(Naskrif: Het ek dan niks positiefs oor die oord te se nie, vra Tokkie eendag toe ons in grimmige stilte tussen die skare bouers en hope bourommel op die perseel deur ons pad vind. Ek dink ‘n rukkie. “Ja, ek het,” antwoord ek. “Die dakpanne – ek hou nogal daarvan.” Na nadenke voeg ek egter by: “Maar bedpanne is vir ‘n ou mens uiteindelik seker belangriker as dakpanne…!” Toe lag sy darem.)
