Op 3 Januarie verjaar die uwe – sal liewer verswyg hoe al hoe nader aan 70 die jare begin aanstoot. Wel, dit kon nogal ‘n fees gewees het ingevolge ‘n “eksklusiewe” aanbod wat in die pos opgedaag het.

Hoe klink dit: ek word met ‘n limousine gehaal by my huis in Kernkrag (sic), word ‘n reuse-bos blomme in die hand gestop, word dan na ‘n restaurant gebring, nog al die tyd in Kernkrag (sic), en dan, om alles te kroon, ‘n tjek van R100 000 gegee om te doen daarmee wat ek wil?

Een klein “formaliteitjie” moet net eers afgehandel word. Ek moet net die een en ander katoeter uit die ingeslote katalogus bestel en ‘n lysie met vriende se name en adresse insluit dat hulle ook op die “spesiale” manier vir hul goeie ou vriend geskenkies kan bestel!

Heel vernuftig, so met die verjaardag-invalshoek!

Maar wat is R100 000 nou? Enkele dae tevore was in die posbus ‘n “cash payment notification” wat by my aandring om te roer en vinnig my R130 aan “registrasiegeld” te stuur – anders verbeur ek my aanspraak op ‘n “guaranteed cash award” van R154 350,00.

Wat eintlik ook nog maar kuikenkos is. Want sien, plus-minus dieselfde tyd was in my inmandjie in Outlook Express ‘n nog asemrowender mededeling uit Engeland. In die Britse “Online Games Lottery” het ek ‘n hele 252 000,00 pond sterling losgeslaan. Maal maar met so rondom 11,12. Dis mos ‘n klein fortuin!

Ongelukkig ken ek uit ervaring die verloop van die “due processing” wat na so ‘n mededeling moet plaasvind. Die een of ander tyd sal die eis op die tafel kom: hoes net gou soveel en soveel vir “administrasiekoste” of wat ook al.

Almal van ons kry deesdae hierdie klas pos en e-pos by die armsvol.

Die eerste keer het ek nogal gesluk-sluk oor die groot geluk wat my getref het. ‘n Groter geluk is dat ek twee verstandige vriende, Eric Wiese van die Kaap en Piet Henning van Chiredzi in Zimbabwe, se advies ingewin het. Eric se reaksie was ‘n meesterskuif van ‘n hoofbestuurder (finansies) wat sy storie geken het. Bied aan jy betaal jou verskuldigde bedrag by ‘n Londense prokureur in. Hulle doen dieselfde. Op ‘n bepaalde moment vind ‘n ruiltransaksie dan plaas: jy kry jou (baie) en hulle kry hul (min). Dit was die laaste woord – wat nie vreemd was nie in die lig van die gebrekkige Engels wat Piet se St. Johns-oog (hy was daar tot matriek) in die amptelike brief raakgelees het – klein jakkalsies wat nooit by ‘n rasegte Engelsman sou verbyglip nie.

Al hierdie dinge noem ek net om by nog een van my vele versugtinge oor die goeie ou dae uit te kom. Die dae toe ek nog jonk en mooi was (nou’s ek net mooi!), toe die ou lyf dit nog kon vat, toe fatsoenlikheid nog in die mode was, toe ek nog Afrikaans kon praat en skryf soos ek wil, toe wen nog wen beteken het….

So van die middel 60’s af tot die middel 70’s was op HvD se wenlys die volgende: ‘n vakansie vir twee by die Victoria-watervalle (met komplimente van Tanganda Tea), ‘n skottelgoedwasser (met komplimente van General Electric), ‘n ’73 Dodge SE (‘n deftige maroene met ‘n bruin vinieldak, met komplimente van die Vrystaatse NP – wat toe nog wel ‘n GROOT party was!), ‘n ’74 Valiant Charger (tweedeur en seksie, met komplimente van die Vrystaatse Universiteit) en ‘n erf in Helderkruin, Roodepoort (met komplimente van die Roodepoortse stadsraad).

Moet my nou nie staan en kwaad maak met opmerkings soos: “Og. maar jy’s gelukkig nie.” Geluk het hier g’n rol gespeel nie, liewe vriend. Elkeen is met inspanning verdien. Ek moes werk: met slagspreuke, limerieke, versies en wat nog.

Dit daar gelaat. My punt is dit: as jy gewen het, het jy gewen, kort en klaar. Nie dan nog hier soveel in hierdie bankrekening inbetaal of daar ‘n klomp van jou vriende brutaal staan en verraai nie.

Met die karre kon ek wegry. Vir die erf moes ek bloot ‘n dokument by die stadsklerk gaan teken. Die vliegtuigkaartjies vir die Victoria-waterval is huis toe gepos. Die skottelgoedwasser is in Maroelastraat, Randburg, afgelewer.

Wonderlike, goeie ou dae, waarna ‘n mens verlang – en waarna die verlange al hoe brandender word hoe nader daardie magiese 70 vir jou naderkom! (HvD)

Naskrif: Kernkrag is nie die naam van ‘n buurt nie, maar slegs van ‘n poskantoor. Die manne (dalk, as ek gelukkig was, mooi vroue) van Lifestyle Home Shopping sou werklik moes soek na my huis — en nog meer na daardie spogrestaurant waarheen hulle my met die limousine wou neem. Kernkrag, hier kom ons!

Deel dit: