JAN SE MONUMENT
Julie 8, 2015
Een van wyle Jan Scholtz se monumente by Volksblad is die stylvolle redakteurskantoor met sy meubels van stinkhout en birmaanse kiaat. Die meubels is deur die meester-vakman Jan gerestoureer met die opgradering van die gebou in 1986. My voorreg gewees om in daardie deftige kantoor my dagtaak te verrig tot 1992.
Elke oggend ‘n gevoel van weldadigheid gekry as ek daardie kantoordeur oopsluit.
Dankie, Buurman.
Naskrif: Dr. AJR van Rhijn het un die 40’s by dieselfde lessenaar gesit. Was toe ‘n skoolseun in Kimberley – sonder die vaagste benul dat dit my ook beskore sal wees. Huidige redakteur, Johanna van Eeden, sit steeds by die lessenaar. Kantoor is ook feitlik onveranderd. Deesdae minus asbak. En natuurlik is die rekenaar in die plek van die tikmasjien.
HARTJIE VAN ONS BOS
Julie 6, 2015
In Maart 1999 op sy eerste besoek n Sabiepark het Jan Scholtz – ‘n man wat met hout kon toor – vir my ‘n kierie saamgebring: ‘n meesterstuk uit Transvaalse kiaat. Die handvatsel is ‘n bielie van ‘n gladde, skitterwit vlakvarktand. Van toe af is ek en my kierie in Sabiepark ‘n onskeibare tweemanskap. Sabieparkers verneem jaloers na sy herkoms.
In Augustus 2001 was Jan en Marleen weer hier. Daarna, weens allerlei omstandighede, nooit weer nie. In middel Augustus, 14 jaar later, sou hulle weer kom, saam met die res van ons hegte hoofredaksie van die vroeg-80’s vir ‘n re-unie hier en in Balule. Ons organiseer al ‘n jaar lank daaraan. Nou sal Jan nie meer kom nie. Die Byl het in die hartjie van ons bos gekap.
Ek groet hierdie beminlike, onpretensieuse Boesmanlander met ‘n seer hart – dubbel seer oor die saamkuier waarna ek so vol verwagting uitgesien het, maar wat nou nie meer sal wees nie.
SKIELIK, NET OLIFANTE!
Junie 22, 2015
Sit vanoggend, ons tiende dag hier, skuins voor 09:00 by die piekniekplek, omring deur die formidabele rooi-essenhoute, ens. Luister na die rivier op sy melodieuse kronkelgang na Mosambiek.
Skielik roep Tokkie: Daar’s die olifante. Vyftien grootvoete kom uit die bos, stap doelgerig deur die riete en waad die rivier in Sabiepark se kant toe. Indrukwekkend.
Op pad piekniekplek toe is ons in Wildevy by rooibokkies, koedoes en kameelperde verby. Toe ons ontwaak, was wildebeeste en rooibokkies rondom ons huis. Alles tussen 07:00 en 09:00. Dis wat ek saligheid noem.
Tien dae is verby, maar nee, die luiperd was, na ons wete, nog nie weer op Tarlehoet se stoep nie. Tony Park het hom wel gister om 12:36 by die piekniekplek afgeneem.
Op die stoep was wel al ‘n bobbejaan of twee. Een het trouens by die voordeur ingeglip toe dit in ‘n onbewaakte oomblik oopstaan. Gelukkig was Tokkie op pad ondertoe met die trappies. Die ontmoeting van aangesig tot aangesig het ta ontsenu. Hy het het vinnig laat spat. Gelukkig nie ook op die ander manier laat spat nie!
Rondom die stoep(e) was daar kameelperde, sebras, wildebeeste, rooibokkies, bosbokke en duikers. Nagapies kom gereeld. Vrugtevlermuise duik en swoep. Die bosnagaap het al ‘n paar keer kom piesang soek. Hiënas se spore meng met die van die muskeljaatkatjie in die sagte sand by ons ingang. Jy hoor hul geweeklaag elke aand.1-IMG_2336
Bloukuifloeries sorg vir groot plesier. Vertoef lank in die reuse-rosyntjie by die drinkgat, roep hul hees kok-kok-kok-roepe en wys hul reënboogkleure vir die son. Hulle drink gereeld uit die watergat in die geselskap van die sebras, vlakvarke en ‘n peloton gebande muishondjies – opgewonde soos altyd – wat ook al by die watergat gesien is.
TvD is feitlik seker die yslike voël wat sy vlugtig by die watergat opgemerk het, is ‘n breëkoparend – dalk op soek na een van die vet tarentale at daar ronddwaal.
Wat nie onvermeld kan bly nie, is vir eers die stormloop van dagbesoekers aan die wildtuin verlede Sondag in die Jeugdagnaweek. Tokkie was ‘n uur in die ellelange tou by die hek – die langste wag nog. Ek moes omtrent voet in die hoek sit om betyds te wees vir kerk.
Ten tweede is die bakkievrag hout wat by Tarlehoet laat aflaai is vir die amper drie maande se kuiertjie. Kos my ‘n pakkie. Kan darem spog dat in 18 jaar nie by Tarlehoet soveel hout was nie (foto). Die kinders sal hul lippe aflek.
(hvd)



