Kuiergaste kan krampe wees in die onnoembare doolhowe van ‘n mens se lyf. Is dit nie vreemd nie dat gaste dikwels goeie maniere by hul huise vergeet? Die oomblik as hulle oor jou drumpel stap, sit hulle die slegste voet voor. Die gevolg is kuiers wat meer frustrasie as vreugde veroorsaak.
Amper almal kan seker saampraat oor vriende se aweregse “bedagsaamheid” wat hulle al moes verduur. Die afgelope vakansie het vele gashere ongetwyfeld weer op die tande gekners, gewurg, stilletjies gemor en amper hardop geswets.
Laat ek eers die Van D’s se kaarte op die tafel sit. Ons is lief vir kuier en om kuiergaste te ontvang. Liewe vriende, moenie nou wegbly nie! Aan ons eie basse het ons dit egter ook al gevoel hoe kuiers kan ontaard. Die herinneringe spoel terug na aanleiding van ‘n reaksie op Saterdag se webjoernaal waarin terloops opgemerk is dat Duitse humor, volgens sommige, nie iets is om oor te lag nie.
Jy praat nog – ek kan vir jou baie van Duitsers met geen humorsin vertel! So laat weet ‘n Kaapse kennis wat die vakansie aan die ontvangkant was van ‘n gas uit daardie wyke se onvergenoegdheid.
Sy vertel: “Elke Desember kry ons besoek van ons Switserse vriend (Dani) wat uit die kloue van die Europese winter wil ontsnap. Hierdie jaar vergesel sy vriendin van die afgelope 10 jaar hom toe na SA. Watter ramp! Sy kla oor als, van die feit dat ons met geslote motordeure ry tot ons lekker braaivleis wat sy vir die honde gevoer het.
“En sy het amper in die winkel flou geword toe sy sien ons koop melk in boksies van die winkelrak af. Melk hoort mos in ‘n yskas!!
“Die sjokolade wat hulle vir ons van Switserland gebring het, het al ‘n bitter smaak in my mond.”
Simpatie, liewe vriendin. Kos en karritte – dis twee dinge waaroor in ons eie kaia ook al aan die hand van veeleisende gaste allerlei beproewinge verduur is.
Een gas het onverwags op Melkbos opgedaag, net betyds om vir ‘n doodgewone middagete saam aan te sit. Op die spyskaart was tuna-lasagne. “Eet nie tuna nie, jammer.” Wat van ‘n skeppie slaai dan? “Dankie, hou nie van slaai nie.” A, in die yskas is heerlike, suikersoet spanspek. “Spanspek is die een vrug waaraan ek nie my mond sit nie.”
Die dame het haar uiteindelik darem ‘n snytjie brood laat welgeval. Dankie daarvoor.
Amerikaanse gaste wat la-a-ank gekuier het, het die eerste oggend Tokkie se ontbytkosse een kyk gegee en neus opgetrek. “Shit,” het die man deur sy tande gesis (hy noem sneeu dieselfde lelike woord – “white shit”.)
Toe ontstaan ‘n patroon. Soggens as die gasheer vroeg moet roer om om den brode in die Kaap te gaan kripvreet, ry die twee saam. Hulle moet by die ou Cape Sun afgelaai word. Die rojale ontbyt-buffet (sien foto) is meer na hul smaak as Post Toasties en ‘n roosterbroodjie. Daarna verskuif hulle na die Waterkant vir ‘n uitgerekte middagete met bottels yskoue sauvignon blanc om die gees op te beur.
Lank voordat die dag se arbeid verby is, kom meld hulle hulle by die uwe se kantoor aan, klaar half sleeptong maar ongeduldig om by die huis te kom waar die gasheer se wynrak – so het hulle al vasgestel – gelaai is met goeie (gratis) pinotage.
Ek neem twee dae vakansie om hulle Buffelsbaai te gaan wys – een van my lieflingplekke op aarde. Maar J., my gas, bou al hoe meer wrewel op soos die kilometers kom en gaan. “Hennie, why are we driving so far?”
Op Riversdal hou die Amerikaners uiteindelik kajuitraad oor die kwessie van koste. “We want to make a contribution.” “It’s not necessary, really.” “No, no, we wish to.” Toe word ‘n R20-noot aangebied as bydrae vir brandstof!
Na Melkbos is die tweetjies in hul ontwerpers-safaridrag vir n week Mala Mala toe – een van die heel duurste private reservate in die Bosveld.
Nog ‘n gas wat nie die einde van sy kuier geken (of aan ons wou openbaar nie) was ‘n Suid-Afrikaner met wie nie juis ‘n warme vriendskapsband gehandhaaf is nie. Hoe weier ‘n mens egter as jy onverwags van iemand uit die verre verlede ‘n oproep ontvang?
Toe hy na twee weke nog lekker kuier en boonop ons Telkom-telefoon vuurwarm bel na die selfone van sakekontakte, steek ons ‘n vriendin op om hom te pols hoe lank hy nog wil vertoef.
Sy doen dit. Hy kyk haar stip aan en antwoord sonder ‘n sweem van ‘n glimlag: “Volgende vraag”.
Geeneen van bogenoemde gaste is ooit weer genooi nie. Al die ander wat nie hier genoem word nie, is meer as welkom. Kom gerus! (HvD)
