Iets wat by die koerant van die eerste dag af by my ingedril is, is om respek te hê vir mense se name. Dieselfde geld vir hul adresse. Jy maak dubbel seker. ‘n Fout is onvergeeflik.

‘n Vriendin wat ook joernalis was, Rina Koen van Langebaan, onthou as iemand sê haar naam is Anna, het sy altyd gevra: “Anna met twee n’s of een n?”

Ek dink daaraan toe ek van die oulike Melanie Viljoen van die De Doorns-wynkelder – sy is ‘n doring met die bemarking van De Doorns! – ‘n e-possie kry oor hoe haar nuwe selfoon by haar afgelewer is. Op die registrasievorm het gestaan: De Doorings Wynkelner, Heksrivier Vally

Sy het vooraf verduidelik dat die De Doorns- Wynhuis op die hoek van die N1 en Voortrekkerstraat geleë is. By die De Doorns-afdraai, is ‘n klein Kaaps-Hollandse geboutjie met die Info-teken op die gewel. Dit is waar sy werksaam is; waar sy opgespoor kan word.

Die fisieke adres op die koerier se vorm het gelees:

OPIGEWEL WYNHUIS
OP DIE HOEK N1 EN VOORTRE
DE DOORNS
6875

Gelukkig, skryf sy lakonies, is haar naam ten minste reg gespel. Nie ‘Mylani’ soos sy verwag het nie!

Ek is gewoond om as Van de Venter aangespreek te word, al is ek g’n Venter nie. Die Deventer kom van die stadjie Deventer in die provinsie (provincie) Overijssel in Nederland (sien foto). Ook die Van de Venters is dus eintlik Van Deventers.

Op skool het ‘n matrone altyd (winter of somer) vir my ‘n boodskappie oor die een of ander slordigheid gelos: Van D. Winter.

Op 10 April 2002 het ek ‘n brief van Bybelkor ontvang. Dit was koelbloedig gerig aan “Geagte Mnr. Van Deventer ‘Pens'”. Waarop ek toe aan ds. Hans Linde, Uitvoerende Direkteur, terugskryf: ” U skryf aan my as ….’Pens’. Ek kan kategories stel dat ‘Pens’ (met of sonder aanhalingstekens) nooit deel van my van was nie. Ek is ook onbewus van so ‘n bynaam, hoewel dit uit ‘n fisieke hoek nie misplaas sou wees nie.”

Die liewe ds. Linde skryf toe in alle erns terug: Die vlaggie ‘Pens’ verskyn agter meer as een naam op ‘n adreslys wat van ‘n ander instansie ontvang is. Hy vermoed dat dit ‘n aanduiding is dat die betrokke persoon ‘n pensioentrekker is.

Inderdaad, ds. Linde, inderdaad! So was dit op Huisgenoot se adreslys wat daardie vabonde blykbaar aan die kerk staan en verkoop het. En dis reg: Die vlaggie ‘Pens’ beteken pensioentrekker. Maar ek was darem nie regtig omgekrap nie.

Tokkie se naam skep ook soms probleme. Een dag bel sy ‘n vriend in Durban om te verneem na die welstand van sy vrou, ernstig siek aan kanker. Toe sy se Tokkie, roep hy ontsteld uit: “Dokkie, dokkie, my vrou is nou net oorlede.” Sy was wit in die gesig.

Ek het al briewe ontvang gerig aan dr. Van Deventer. Dan was dit die naam Tokkie oor die telefoon wat vir die misverstand oor my status verantwoordelik was. Tokkie van Deventer het geklink soos doktor (of dokter) Van Deventer.

‘n Joernalis by The Friend in Bloemfontein, Roland Solomon, kon om die dood nie onthou haar naam is Tokkie nie. Hy het haar altyd Klokkie genoem. Klokkie – dit was vir my nogal oulik.

Ons dogter is Marisa met ‘n s. Dit word Mariesa uitgespreek. Ons skoondogter is Mariza met ‘n z. Sy is bekend as Marissa. Fyntrap, hoor, fyntrap!

Tot al op hoerskool het die onderwysers vir Marisa ge-Marissa. Sy was raadop. Toe raai ek haar aan: Se vir hulle dis die Toring van Pisa nie die Toring van Pissa nie. Pisa, Pissa …. daarna het hulle onthou! (HvD)

Deel dit: