Soms kom uit onverwagte oord ‘n prikkel wat die sluise van herinneringe volstoom ooptrek. Vanoggend se Eiendomme-bylae tot Die Burger was so ‘n prikkel uit die bloute.

Heerlike herinneringe is aangewakker. Ek het boonop na ou foto-albums gegryp, ‘n versie opgediep wat ek jare gelede geskryf het, en my in my bosboek Buurman van die Wildtuin rondgeblaai – spesifiek die hoofstuk op bl. 84 met die opskrif Vuurplesier.

Buffelsbaai praat al sedert sesuur vanoggend kliphard met my – alles weens die foto (hierbo) uit ‘n ongewone hoek van daardie seer geliefde stukkie Suid-Kaap waar die Van Deventers van 1972 tot met hul koms Kaap toe 20 jaar later, en daarna nog ‘n paar keer, onvergeetlik vakansie gehou het.

Die foto van die seekant af – d.w.s. seker van ‘n bootjie af geneem – versier die bylae se buiteblad. Heel links onder steek ‘n piepklein stukkie uit van Kop-bo-Water – prof. Bethel Muller van Stellenbosch se wit huis met die blou dak, wat die wondere van Buffelsbaai vir ons ontsluit het. Net regs van hom, die donkergeel huis, is Kammarus. Dit het behoort aan prof. Vaatjie du Toit, in lewe ginekoloog van Bloemfontein en later dekaan van Matiese se mediese fakulteit, en sy vrou, Lida. Weens logistieke redes het ons in ‘n stadium Kop-bo-Water vir Kammarus verruil.

Marisa was nog nie gebore nie toe ons die eerste jare Kop-bo-Water toe is. Johan was ‘n baba. Ons pak albums van daardie jare vertel ‘n storie van die kinders se grootword. Op letterlike honderde foto’s van luilekker uurtjies op die strand, vuurtjies, sonsondergange, wandelinge, stormsee en wat nog kan jy die babatjies sien uitrank tot jong mense … en die paartjie, Hennie en Tokkie, eers bloedjonk, stelselmatig sien ouer en ouer word.

By daardie twee strandhuise, wat ons soos ons eie gekoester het, het ons heerlik saam met vriende gekuier – en, gelukkig, ook dikwels saam met ons ouers. Toe Pa Malan sterwende was aan kanker, was Buffelsbaai die bestemming van sy heel laaste vakansie. Hy was broos en Ma het om hom gekloek. Die laaste dag het hy haar ontglip. die skuifdeur stilletjies soos ‘n stout kind oopgestoot, op die dek gaan staan en behaaglik die vars, sout seelug ingeadem. Sy oe het geblink – vir oulaas.

Ek onthou hoe teleurgesteld ons was toe wyle Walter Muller, prof. Bethel se wewenaar-oom. ons in Februarie 1972 die eerste keer Kop-bo-Water toe bring. So eenkant!

Ons was jonk en naief, en het geglo jy moet op die swemstrand wees om behoorlik vakansie te hou. Later het ons ontdek daardie eenkant strandjie – destyds politiek inkorrek (en onnodig onvriendelik) bekend as Meidebaai – is ‘n plek vir engele. Dis soos ‘n eie private strandjie. Eksklusief joune. Dis naby aan die hemel.

(Die M-woord kom van die huishulpe, kinder-oppassers en dies meer wat saam uit die binneland kom vakansie hou het. Dis waarheen hulle in los tydjies ontsnap het om geselskap op te soek.)

Van engele gepraat. Dit bring my by die versie waarna ek hierbo verwys. Verskillende weergawes bestaan, met onder meer ook ons eie huidige twee plekke van melk en heuning, Melkbosstrand en Sabiepark, daarin verewig. Die oorspronklike was egter oor Buffelsbaai. Die muse het my een oggend gepak na ‘n wandeling Brenton-on-Sea se kant toe.

Die titel is Hemel en dit lui soos volg:

Die trein stoom in
by die stasie Hemel:
dis berg, see en sand,
’n bonte mensegewemel;
‘n engel knik goedig –
“Oom’t reg geraai,
die hemel is nes Buffelsbaai.”

Vir Buurman van die Wildtuin het ek van die rak gaan afhaal om met ‘n wrang glimlag die volgende paragrafie te soek: ” Sy (dis nou my vrou, Tokkie) weet hoe rou haar man se ego is oor die dae (gelukkig ver-ver in die verre verlede) toe skoonma Marietjie van Wyk meer as een aand op Buffelsbaai ‘n papierbord moes staan en waai en waai om ‘n trae Van Deventervuurtjie ‘n bietjie aan te wakker!” (bl. 90)

Ja, die onhandige gesukkel om soms in die seebriesie ‘n vleisie gebraai te kry, is deel van ons skat van Buffelsbaai- herinneringe. (Tokkie beweer dit was nie onhandigheid nie, maar eenhandigheid. In die een hand was konstant ‘n glasie!)

Na die braai is in die donker straatjies gestap en daarna by lamplig Monopoly of kaart gespeel. Ek was ‘n kranige versamelaar van Monopoly-eiendom. Dit was voor TV. Dit was trouens voor enige vorm van elektrisiteit op daardie idilliese kusdorpie. Die enigste liggies op Buffelsbaai was lampe (gas of lampolie) en flikkerende kerse.

Ons herinneringe is oorheersend welaangenaam. Een lei egter die gedagtes terug na die middag van die Groot Skrik toe ‘n reuse-fratsbrander skielik bo -oor die hoe preekstoelrots voor Kop-bo-Water breek en opdrifsels tot teenaan ons voordeur aanspoel.

Tokkie sien ‘n swart plastieksak in die skuimende water dobber en dink dis Johan se baadjie. Sy storm onstuitbaar die see in…. Gelukkig kon die bure vinnig gerus stel: die kinders is veilig. Hulle is skaars ‘n minuut voor die fratsbrander in ‘n ander rigting.

Om Buffelsbaai binne te ry, was net een keer sonder ‘n lied in die hart. Ons is die Sondagmiddag weg Bloemfontein toe na ‘n laaste braai en ‘n vinnige ogies toemaak. Op pad van Knysna Uniondale toe – ek was lief vir daardie ongelooflike mooi roete deur die bos en oor die berg – ry ek by Diepwalle met my sjampanjekleurige Audi 200 van die pad af. Skoonma Marietjie se voorkop bloei kwaai. Tokkie, die bloeiende ouma en die twee kinders kry ‘n geleentheid op ‘n oop klein bakkie terug Buffelsbaai toe. Ek sit eensaam en alleen vir die noodvoertuig en wag, en kom laataand eers tuis – stukkend oor my mooi kar (wat afgeskryf is).

My kollega Johan van Wyk van Stop van Mynefaam het oor Buffelsbaai ‘n mooi grappie vertel wat ek nou nog soms met sukses aanhaal. Volgens hom het jy drie dinge nodig gehad vir ‘n wintervakansie op Buffelsbaai. Dis ‘n blondine, ‘n bottel Old Brown-sjerrie en ‘n “baaisiekel”. Vra jy hom: “En die baaisiekel dan?” was sy antwoord: “Om die blondine te stuur om nog Old Brown-sjerrie te gaan haal as dit opraak!”

Deesdae kom ek maar min op Buffelsbaai, maar in 2008 MOET ek weer ‘n slag daar langs ry. Dit sal voedsel wees vir die siel.

Ironies genoeg is die opskrif op Die Burger se Eiendommebylae by die skilderagtige Buffelsbaaifoto: Kuseiendom verloor sy glans. Nooit! Buffelsbaai sal nooit sy glans vir hierdie verslaafde verloor nie. (HvD)

Deel dit: