So rofweg 20 keer in my lewe het ek ‘n nuwe kar gekoop. Elke keer was – heerlike anglisisties – ‘n rooiletterdag. Maar dis ‘n anglisisme met ‘n motief. Ek wil die werklike, letterlike rooiletterdag uitkom toe vroulief Tokkie verlede Saterdag haar karneoolrooi Avantgarde 180C K by Mercedes gaan haal het,
Dis natuurlik die spogwa op die foto’s hierbo. Op die boonste foto kry sy haar eerste opwindende loertjie in. Onder is sy agter die stuur terwyl sy sy by die “Taj Mahal” in Century City (so noem verkoopbsbestuurder Henry Uys die indrukwekkende Mercedes- glaspaleis) uitry huis toe.
Die gebrek aan nommerplaat in daardie stadium was met komplimente van die Kaapse “misipaal”. Die rekenaar- netwerk was “af”, soos veral soms. Intussen het die rooie CA 299-047 geword.
Laat my eers dit se: daardie rooi laat ‘n mens se bloed bruis. As die son op hom skyn, verskyn ‘n goue tintel in die donker karneool. En ek WOU vir Tokkie – VIR OULAAS – ‘n rooi kar koop. “Tooi jou in rooi my rooibloedvrou, om my vir altyd aan jou voete te hou…..” (Vir oulaas? Omdat die volgende tjek deur die volgende eggenoot uitgeskryf sal moet word!)
Dat dit ‘n rooie moet wees, het ek en Tokkie dadelik saamgestem. Henry vertel van ‘n ander paar wat gesukkel het om oor daardie aspek konsensus te bereik. Dinge het begin warm raak. Toe gee die eggenoot (heelwat ouer as sy wulpse blonde gade) maar boedel oor: “Give the bitch her red car!”
En van tjeks gepraat. Eendag koop ‘n man ‘n duur vuurwa by Henry. Aan wie moet hy die tjek uitskryf? “Ag, sommer aan Henry Uys,” grap laasgenoemde. Maar toe die tjek kom, toe is dit werklik aan Henry Uys – en dis bankgewaarborg. Het nogal ‘n geskarrel afgegee.
Mercedes se mense weet om van die oorhandiging ‘n okkasie te maak. Dis ‘n lang, liplek-lekker lusmaker. Uiteindelik as die seil met die rooi lint gelig word en die nuwe ryding in al sy glorie daar staan, voel jy soos bloubloed.
Nie almal hou van so ‘n seremonie nie. Veral een manlike koper was kopsku, onthou Henry. Maar “nee man,” het Henry volgehou: “Ons doen die hele ding met ‘n meisie wat uit die koek kom en al.” Op daardie oomblik spring die ou se adamsappel senuweeagtig. “Kry dan maar liewer vir my ‘n Chippendale, asseblief!”
As die kar klaar oorhandig is, kom die geskenkies. Een is in ‘n mooi houer, wat die nuwe eienares (klaarblyklik ‘n kerkmens) nou die dag laat opmerk het: “A, net reg om my Bybel in te sit!”
Maar perde koop. Dat kar koop nie perde koop is nie, beweer ek om twee redes.
Die eerste is dat hulle die goed deesdae so ongelooflik gesofistikeerd bou. Dis ‘n rekenaar op wiele. Ek het simpatie met die ou wat by ontvangs van sy nuwe C-klas moedeloos uitgeroep het: “I’m IT challenged, you know!”. My arme vrou is ook “IT challenged”. Maar sy kan darem al loshande die klankstelsel beheer en flink van RSG na die CD van haar keuse oorglip.
Moet se ek beskou myself nie as buitengewoon “IT challenged” nie, maar ek bewonder haar. Baie van die goeters in daardie handleiding slaan my dronk. Nou die dag wou ons bloot van binneliggies ontslae raak wat bly brand en bly brand. Ek vat toe vol selfvertroue die handleiding. Uiteindelik kom sit ek voor die rekenaar en stuur vir Henry ‘n navraag per e-pos.
Interessant genoeg, bemerk ek toe in die handleiding die beskrywing “cockpit” wat vroeer net met vliegtuie ge-asosieer is. ‘n “Cockpit” is dit deesdae in ‘n kar ook inderdaad – hoewel alle “cockpits” natuurlik ook nie meer “cockpits” is nie.
Dalk het julle ook die tekengrappie iewers gesien van die ou wat by die lugwaardin kla daar is dan net drie vroue in die “cockpit”. Uit die hoogte deel sy hom mee: “It’s not a cockpit anymore, sir. We now call it the box office!”
‘n Tweede rede vir my perdekoop-versugting is hoe ‘n kar se prys eenvoudig bly klim en klim. Jy begin hier, jy eindig daar! Elk keer word ‘n nuwigheid genoem “wat deur ons aanbeveel word”. Elke keer hoor jy in jou verbeelding die sompompie kletter. En hy kletter, broer, hy kletter.
My seun, Johan, stuur juis daaroor ‘n oulike e-pos van ‘n Vrystaatse boer wat ‘n nuwe Merc uitgetrek het. Hy was vies oor al die ekstras wat die prys so opjaag. Later koop ‘n direkteur van “Driepuntster-motors” by hom ‘n koei vir sy naweekplasie. Die boer lewer toe ‘n faktuur: Koei – R2 400; twee kleure (swart en wit) – R150; leer – R100; melkopgaartenk – R50; vier kraantjies – R50; twee horings – R30; outomatiese vlieeplak – R30, ens., ens. Die totaal is R2 490.
Vrystaatse boer, HvD weet presies waar jy vandaan kom!
Ewenwel, Tokkie ry nog voorspoedig – anders as ‘n ander vroulike nuwe eienaar wat sommer by die eerste straathoek in Century City met haar nuwe C-kar voor ‘n vragmotor beland het. (My vriend Toy Vermeulen van Bloubergstrand het met ‘n nuwe Honda dieselde teenspoed oorgekom – net op ‘n ander plek).
Die nuwe Audi TT-Turbo van vriend Ben van Rensburg van Langebaan se dogter, Madeleen, het nie eens die toonkamer gehaal nie. Dit is nog op die afleweringswa so plat soos ‘n pannekoek geval toe die hidrouliese stelsel ingee. Gelukkig het sy nog nie betaal nie!
Maar ek se mos: kar koop is nie perde koop (of koei koop!) nie. (HvD)
