“Heyta da al julle leka dingetjies. Die naam is Adri en ek is di nuwe jeugwerkertjitji hie bydi kerk.
“Daar is n paar leka goetrs wat ons wil doen ini kwartaal soos soki hou, dalk n road trip, kamp. battle of the pool geeks, LAN- aande en moenie wory ni, di deurnagte gan nogsteeds da wees
“So, as julle verby di kantoor loop,ko groet, show ur beautiful face baby. Laat mens welkom voel hie man, hoe jo hart dan ?
“Mwah.”
Op Sondag 13 Januarie 2008 het hierdie ou gryse in die ouderlingsbank se hare omtrent orent gespring toe hy o.m. hierdie mededelings in sy (NG) gemeente se Nuusbrief sien. Hierdie harde inisiasie in sms-taal (fixit-taal?) was die begin van ‘n gemeentelike taalstryd waarin harde woorde al geval het.
Waar in die debat die uwe hom bevind, sal niemand wat hom ken seker vra nie. Een van die leraars wou weet of ‘n mens dit nie tog maar as ‘n nuwe soort morsekode moet sien nie. Daarop het ek vir hom kort en kragtig laat weet:
Goeie ou dae – morsekode; Nouse dae – morsige kode!
In elk geval, morsekode of morsige kode – ‘n kode is/was mos geen skryftaal nie. Eersgenoemde is ingespan om telegrafiese of radiografiese seine te stuur. Laasgenoemde se funksie is om bondige sms’e rond te blits. Dis al.
Kommunikasietaal op skrif met die jeug van ‘n gemeente? Kan mos nie wees nie.
Later het nog skokke gekom. “Enjoy Sondagskool! Mwah mwah A3’tji.” So is die jongklomp byvoorbeeld twee weke later aangemoedig.
Nog ‘n week later word ‘n Valentynsdans (dans!) aangekondig – “mwah mwah jule leka dingetjies”.
“Mwah mwah. Dit klink vir haar nogal verleidelik – so met die Sondagskool saam, ” is die rubriekskryfster Martie Meiring se kommentaar.
Maar alle grappies op ‘n stokkie. Is ek werklik ‘n verstokte ou reliek van ‘n verbygegane era as sulke goggas my so teen die bors stuit?
Buiten vir die klaarblyklike opvoedkundige implikasies – o.m. op die arme skole se stryd om ‘n nie-lesende kindergenerasie tog net te leer spel – sien ek immers in hierdie “morsige kode” ook verskeie ander rooi ligte.
Een van die kwellendste is die impak op dissipline. Ons kla graag oor dissipline wat oral by skole wyk voor wanorde. In dieselfde asem keur die kerk wanorde en dissipline-loosheid op die taalakker goed. Dit rym mos nie?
Liewe blog-lesers, ek wil julle nie verveel nie. Ek hou my storie kort en bondig. Moet darem net meld dat ek my vasloop in argumente soos dat hierdie sogenaamde “idioom van die jeug” kinders teruglok kerk toe. Alle ander oorweginge is dus sekonder.
Bring egter asseblief tog vir hierdie “oom” wetenskaplike bewyse dat prysgawe van taalstandaarde al iewers die towerstaffie was wat die jeug vir die kerk herower het. Watter gesaghebbendes kan aangehaal word? Watter ander gemeentes dien as model? Watter steekproewe is gedoen, ook onder die jeug self?
Moet die kerk dan agter elke nuwe smaak aandraf om kinders se guns te probeer wen? As die “smaak van die dag” is om openlik ‘n dampie te slaan of met dwelms te eksperimenteer, geen ons dan ook maar toe omdat “dit is wat die jeug wil he?”
Ek is 67, grys, passievol oor my taal, besorg oor kommunikasie-vaardighede wat onheilspellend tuimel en ongemaklik met allerlei nuwerwetsighede in die kerk. Dis teen daardie agtergrond wat ek hier hard en duidelik wil se: ek glo die kerk se taak is om die brood te bring, nie om vulsels na elke smaak aan te bied nie.
Want as jy eers begin toegee en toegee, beland jy op ‘n gladde glybaan. Waar trek verantwoordelike grootmense uiteindelik die streep?
Vir my lyk dit regtig of ons te maklik na strooihalms en foefies gryp. Die vraag is: wat gaan ons doen as ons na ‘n jaar ontdek ons het agter ‘n eendagwonder aangehardloop? Hoe gaan ons die gedane skade dan omkeer? En skade is onvermydelik as selfs die kerk nou al begin leer ons kan maar met spelling bak en brou soos ons lus het.
“Anything goes,baby. We’re cool, man, cool. Mwah.mwah!”
My e-pos-adres is hvandeventer@mweb.co.za . Pak my daar oor hierdie standpunt as julle wil. Ek belowe om kennis te neem van alles wat na my kant toe geslinger word – en daarop te reageer. (HvD)