Die opskrif van Die Burger se hoofartikel vanoggend (Saterdag 23/2) is: ‘n Taal sterf. Ons lees in die artikel van die die taal Ejak wat op 21 Januarie gesterf het toe sy laaste moedertaalspreker, Marjorie Smith op 89 na die graf is.
Nog nooit van Ejak gehoor nie? Wel, die uwe ook nie. Nou weet ons egter dis ‘n taal wat in die suidoostelike Alaska gepraat is deur ‘n stam in ‘n gebied wat aan weerskante deur Eskimo’s en Tlingits bewoon is.
Hierdie blog handel nie oor Ejak nie – en ook nie oor die taal Catawba wat deur ‘n soortgelyke lot getref is toe sy laaste spreker, Red Thunder Cloud, ‘n Indiaanse sanger en storieverteller van Massachusetts, Amerika, ter ruste is nie.
Vir meneer Thunder Cloud se hond, Blazing Arrow, arme ding, was sy baas se heengaan, terloops, ‘n verwoestende slag. Skielik was sy lewe in ‘n Babelse chaos, want al wat hy verstaan het was opdragte in Catawba!
Maar dis ook nie oor die Blazing Arrow se droewe lot wat ek dit hier het nie. My tema is Henwi (dalk Henvi) – ‘n “taal” wat volgens oorlewering net twee sprekers gehad het (die twee jong manne op die foto). Nou in hul grysheid kan nie een ‘n snars daarvan onthou nie.
Die “taal” Henwi (Henvi) het inderdaad net …poef ..van die aardbol verdwyn!
Miskien is dit vermetel (en/of ligsinnig) om ‘n diepsinnige tema soos die heerngaan van ‘n regte, egte moedertaal as kapstok te gebruik vir my storie oor Henwi (Henvi) – en die ontsteltenis in sekere kringe oor sy spoorlose verdwyning.
Vergewe dan tog maar die vermetelheid (en/of ligsinnigheid). Na die lees van Die Burger se hoofartikel was die versoeking vir so ‘n koppeling eenvoudig net te groot.
Die Henwi(Henvi)-sage begin toe ‘n matriekmaat van 50 jaar gelede, Ferdinand Gustav Preller – nou sy edele regter G.F. Preller van Pretoria – my uit die bloute per e-pos meedeel: “Ek wonner annerdag of jy nog Henvi kan praat?”
Ek antwoord kort en kragtig: “Dit frustreer my uitermate om te moet vra, maar wat de d…. is Henvi?”
Dit is toe dat die e-posse begin vlieg.
Preller: “Ek is nie seker van die spelling nie, want dis nooit aan ons geopenbaar nie. Kan wees Henwi of Henvi, ek dag jy sou weet. Oukei, dis die geheime taal wat jy en Wiekie Moolman (my kamermaat, regs op die foto) destyds geskep het. Een van die frases wat ek nog kan onthou, was ‘onicum faco’ (aanvarende soos destyds dat die taal onder jou aanvoering losweg op Latyn gebaseer sou wees, maar die spelling kon anders gewees het.) Ek het julle dit gehoor praat, maar het nooit iets in skrif gesien nie. Onthou jy nou?”
Van Deventer: “Moet bely, as ek iets onthou, is dit bitter, bitter vaag. Deur ‘n newel.”
Preller: ” Kan jy dit regtig nie onthou nie? Ek het by die laaste re-unie die indruk gekry dat ek meer dinge as meeste van die ander ouens kan onthou, veral van wat lank gelede gebeur het. Koot (Bosman) onthou weer beter as ek wat by vorige re-unies ‘n paar jaar gelede gebeur het. Ek weet nou nie of dit goed of sleg is nie, maar ons almal se geheues werk seker maar verskillend.”
Van Deventer: “Blikskottel. Jy’t my nou skoon op hol. Ek het met persoonlike opoffering en moeite vir Wiekie Moolman aan die Suidkus opgespoor waar hy vakansie hou. Onthou hy ….? Wa..a..a.t? Hy lag. Nee hy onthou nie. Treurige verhaal: ‘n Spesiale taal wat net twee mense geken het. Nou’t albei vergeet.”
So maklik gee Preller nie bes nie. Nadat hy ook by sy kollega regter Willie Hartzenberg ‘n bloutjie geloop het, stuur hy ‘n boodskap aan die nimlike Koot Bosman en nog ‘n matriekmaat, Giel de Swardt:
” Hallo julle twee bejaardes,
“Ek skryf nou maar uit desperaatheid aan julle twee in die hoop dat die verkalking van julle breine nog nie so ver gevorder het as in die geval van Hartzenberg, Van Deventer en Moolman nie.
“Ek onthou dat Hennie en Wiekie gewerk het aan ‘n geheime taal wat net hulle twee kon praat en wat hulle Henwi (of Henvi) genoem het. Julle sal begryp dat dit tyd vat om ‘n hele taal te skep, en hulle het eintlik nooit verder gekom as enkele frases wat hulle by elke moontlike geleentheid rondgegooi het met sulke ‘knowing smiles’ as niemand anders dit verstaan nie.
“Een van die frases was ‘onicum faco’. Ek spel dit maar op zyn Latyns omdat ek aanvaar dat Die Taal onder Van D. se aanvoering min of meer op Latyn geskoei sou gewees het. Sover ek weet, was daar geen publikasies in Die Taal nie. Probleem is nou dat Van D. nou niks daarvan kan onthou nie (weens die jare se drank?) en beweer dat my navraag aan hom hoogstens ‘n paar vae rimpels veroorsaak het op die oewerlose moeras van vertwyfeling wat in die plek gekom het van sy destydse geheue.
“Hartzenberg kan niks onthou nie en Van D. het vir Moolman opgespoor waar hy aan die Suidkus vakansie hou, maar laasgenoemde lag net en onthou ook niks. Ek weet dat jy, JPB (Koot Bosman), ‘n beter herinnering het as ek van allerlei dinge wat op ons re-unies in die verlede gebeur het, maar dis waarskynlik omdat die goed wat jy onthou hoofsaaklik iets met vroue te doen het, wat baie dinge verduidelik.
“Gieljam, ek kan nie onthou hoe jy by die re-unie gevaar het in die geheue-stakes nie, maar ‘n ou wat so skoon geleef het soos jy en wat deur die jare minder liters alkohol deur jou brein laat spoel het as party van die ander onthou dalk iets.
“Laat gaan bietjie julle gedagtes wanneer julle weer ‘n nugter oomblik beleef en laat weet asb. as julle iets kan onthou. Ek stuur ook ‘n afskrif hiervan aan Jakob H. (dis nou ekke) om hom op hoogte te hou.”
Na ‘n paar dae se bars van nuuskierigheid, doen ek by Preller navraag: “Nog niks van Koot en/of Giel gehoor nie?”
Preller: “Koot ontken dat die spoeg spat. Het nog niks van Giel verneem nie en neem aan hy is besig om voltyds te peins en sy geheue te ondersoek.”
Twee dae later rapporteer hy: ” Ek het pas van Giel verneem dat hy kan onthou dat julle twee julleself ten koste van die ander vermaak het met ‘ ‘n soort ’emmertaal’ wat kinders vandag nog gebruik.
“Dit lyk ook nie of hy onthou dat dit spesifiek Henwi/Henvi was nie, maar daar is wel stawing vir my herinnering van ‘n geheime taal. Lyk dus of die ware feite (afgesien van my herinnering daarvan) vir ewig weggesink het in die sand van die tyd.
“Dink net, as ek die dag dood is, is waarskynlik niemand meer oor op aarde wat enigiets van die hele petalje onthou nie!”
Gewigtige woorde en stof tot nadenke, voorwaar. Wel, dis hierdie opmerking deur my vriend Ferdinand Gustav wat die aanknoping met Ejak en Catawba verskaf, en my vanoggend op Henwi (Henvi) se spoor gelei het.
Raai, terwyl ek skryf, was dit of iets deur die”grys newels” wou-wou deurbreek. “Onicum faco?” Klink tog bekenderig, of verbeel ek my nou? (HvD)
