Hoe dieper ik poog te delven, hoe meer verderf ik ontmoet. So sprak de Hollanders mos. Oor Deon Meyer – MEESTER van die aksie- en spanningsliteratuur in Afrikaans – het ek diep gaan delf. Nie verderf het ek daar ontmoet nie, maar fassinrende feite.

Ek het o.m. ontdek watter enorme rol die letter M in sy lewe speel. Dis MERKWAARDIG.

Deon Meyer praat vanaand by ons Probusklub. Ek was een keer werklik spyt oor die uitnodiging – toe ek met die hoop stof oor die man voor my sit en besef Van Deventer dis nou jou joppie om dit tot ‘n sinryke en bondige bekendstelling te sif, maar tog een wat reg aan hom laat geskied.

‘n Mens kom te staan voor verbluffende statistieke. Ek wonder of Deon self weet in hoeveel tale sy boeke al vertaal is, hoeveel al verkoop is en watter pryse hy alles gewen het.

Ek was nie lank spyt nie. Wat ‘n boeiende oefening was dit nie!

M nommer een is vir Meyer – Deon Meyer. Ontmoet die vaal seun van Klerksdorp (gebore in die Paarl) wat ‘n Puk en ‘n Kovsie geword het, toe in die MEDIA sy loopbaan begin het as joernalis by Die Volksblad, toe skakelman was (o.m. by SANLAM), hom daarna in die NUWE MEDIA begewe het (as internet-ghoeroe), daarna sy eie onderneming NEW MEDIA DIGITAL bedryf het, daarna strategiekonsultant was en sedert 1 Januarie as heeltydse skrywer sy brood verdien.

In 2003 behaal hy ‘n M-GRAAD in Skeppende Skryfwerk by MATIES onder… wag daarvooor… MARLENE VAN NIEKERK.

Een storie uit sy jeug lui dat hy op 14 jaar sy eerste boek geskryf het en sy twee broers omgekoop het om dit te lees. Klaarblyklik was hulle nie hoogs beïndruk nie. Wie lag laaste?

‘n Tweede storie kom uit sy Volksblad-dae. Hy is gestuur vir ‘n onderhoud met De Wet Ras pas nadat Ras ten gunste van Errol Tobias oor die hoof gesien is vir die Springbokspan. Ras was woedend en het tydens die onderhoud telkens ‘n duif met ‘n windbuks omgeklits. Deon het in kleur en geur daaroor berig. Elke dooie duif was in sy storie – tot die ontsteltenis van die sportskrywers. Hulle het gevrees Ras se loopbaan is daarmee begrawe.

Wel dit was nie, en die jong Deon het hom met sy storie onderskei as begaafde joernalis. (Hy is terloops vandag nog ‘n Cheetah in murg en been.)

Die foto bo kom uit sy koerantdae. Kyk net hoe ‘n mooi oopgesig-seun was hy. Hier is hy saam met my, Tokkie en kollega Tom Ferreira by ‘n braaikompetisie in Bloemfontein seker so in 1981 rond.

Deon woon (amper incognito) hier tussen ons saam met sy vrou Anita, asook die Meyerspan Lida, Liam, Johan en Konstanz van wie drie tieners is. Oor sy vrou lap hy ‘n geheimpie uit: “Anita is die enigste wat my werk hoofstuk vir hoofstuk lees. Om te skryf, is om deel van ’n fiktiewe wêreld te wees vir ’n paar uur ’n dag. Anita is die enigste een met wie ek albei hierdie wêrelde deel. Sy is die een wat die proses minder eensaam maak.”

Melkbos figureer darem ook sy skryfwerk. In een boek (Feniks?) word ‘n man vermoor by die Kleine Zout oorkant die Ou Skip terwyl sy vrou, as ek reg onthou, vir ‘n Golden Arrowbus wag voor Ou Skip.

Die vernaamste M is misdaad. Dis sy brood en botter. Hy’t bewys “crime does pay”! Deon is nie net die meester van speur- en aksieverhale in die Afrikaanse letterkunde nie. Hy’s ook ‘n gerekende skrywer oorsee. Marita van der Vyver het hom al genoem ‘n “internasionale verskynsel”.

Feniks is bv. in Frans, Spaans, Roemeens, Duits, Nederlands, Italiaans, Tsjeggies en Bulgaars vertaal; met Orion het hy onlangs in Noorwee gedebuteer; in Duitsland en Frankryk trek sy verkope met sommige titels al oor die 50 000; in Frankryk het hy twee van die gesogste pryse vir misdaadfiksie gewen; hy is ook in Duitsland bekroon; in die VSA reel hulle vir hom outeurstoere saam met sterre soos Michael Connoly. Dan het jy in daardie groot land werklik ge-arriveer!

In SA het treffers soos Infanta, Feniks, Proteus en Orion huishoudelike name geword (ook karakters soos Bennie Griessel en al die Zatopeks). Drie ATKV-prosapryse en ‘n ATKV-draaiboekprys is deur hom ingepalm.

Die jongste uit die Meyerstal is Onsigbaar wat op die oomblik met ‘n kraglopie besig is.

Die TV-reeks Transito is van April op Kyknet te sien. Met as wegspringpunt ‘n transito-rooftog wat skeefloop, kan kykers ‘n goeie dosis aksie en spanning verwag. “Die lekkerste van hierdie reeks is dat almal, met die uitsondering van die polisieman, ‘n klomp skelms is – maar meesal is hulle dierbare skelms,” se Meyer self.

Sy vorige reeks was verlede jaar se Orion, wat geskep is van sy bekroonde boek. Daarmee het hy juis die ATKV-prys vir die beste draaiboek gewen.

Die volgende M is ‘n broem-broem-een – MOTORFIETSE!

Deon het ‘n passie vir BMW-motorfietse. Hy besit drie yslike ysters. Hy’t lank vir BMW motorfietstoere in onherbergsame kontreie gereel. Een van sy drome is om met ’n motorfiets deur Amerika en Suid-Amerika te reis.

Dan is daar MOZART. “Ek dink daar is baie meer mense wat motorfiets ry én klassieke musiek luister as wat daar oor die algemeen gedink word. Dis gekultiveerde mense wat nie drink en hulle vroue slaan, soos dikwels van motorfietsryers geglo word nie,” sê hy.

Hy voeg by: “Ek is seker as Mozart in die tyd van motorfietse geleef het, sou hy ook motorfiets gery het. En hy sou ’n BMW gery het – daarvoor kan ek jou ’n brief gee!”

Vanselfsprekend is nog een van sy drome om die Mozartfees in Salzburg by te woon – seker op ‘n BMW! (HvD)

Deel dit: