Middag uit Sabiepark
PLAISIR D’GENEPI
Augustus 25, 2014 in Uncategorized
Ons het ‘n lekker Brekfis by Balule geniet waarop ek graag ‘n heildronk met ‘n knertsie verfrissende génépi uit die westelike Alpe wil instel.
Die sjarmante Franse gesinnetjie aan tafel saam met die Van Deventers en Van Rensburgs (Philip en Nancé) van Sabiepark was ewe verfrissend as die geurige Franse “witblits”. Dit kom van Alpynse kruie wat in die somer op ‘n hoogte van 2 000 meter groei – die hoogste plant in die Alpe (wetenskaplike naam Artemisia, in Engels bekend as wormwood).
Die Franse het oornag Franse vriende geword met wie adresse uitgeruil is. Hulle is Didier Charvet, sy sjarmante vrou, Emilie Anxionnaz, ‘n skaapwagter se dogter wat sonder lopende water in die huis grootgeword het, en hul twee flukse meisiekinders, Myrtille (10) en Melisse (7). Vir die génépi waarvan ons mildelik uit ‘n pragtige vlekvrye staalflessie geniet het, het hulle self die Alpe naby hul tuiste, La Rosiere de Bourg, aangedurf op ‘n gevaarlike klimroete waar ander génépi-soekers al met hul lewens geboet het. Soos ek verstaan, is dit in die omgewing van St. Maurice.
In my Sabieparkse drankkabinetjie is nou so ‘n kosbare flessie génépi vir baie spesiale okkasies, soos die lank afgewagte besoek deur ou Bloemfonteinse vriende, Andrew en Christine Murray, die naweek. In my boskar is ook ‘n CD met vrolike Franse kabaretmusiek. Didier is voor die clavier. Hy takel die klawers met vernuf en entoesiasme. Op die omslag is ‘n afbeelding van ‘n Hadu, ‘n mitologiese Alpynse bok met een been langer as die ander. Dis glo om beter te kan vastrap teen die steiltes!
Die brekfis met vars vrugteslaai, spek en roereier was die enigste floue teenprestasie wat ons kon aanbied. Darem gelyk of veral die vrugte goed afgaan by Myrtille en Melisse. Die twee het ‘n wederkerige bederfie verdien. Die vorige aand het hull eons bederf. Onder die skouspelagtige sterrefirmament, terwyl die hiënas buitengewoon luidrugtig om Balule se grensdraad kaperjol, het hulle, bo en behalwe al die ander gebare van welwillendheid, in hul soet kinderstemmetjies vir die Suid-Afrikaners gesing: Bambali, bamba, soli bali bamba, bambali, bambayé, yé ouvana souli bayé, ouana souli bayé, ouana souli bayé… Klink soos ‘n Zoeloe-wiegeliedjie in Frans.
Die reis na Suid-Afrika het sy oorsprong in Myrtille se geboorte tien jaar gelede. Die ondernemende jong ouers het terstond besluit as sy tien word, moet die gesin dit herdenk met ‘n reis wat sy nooit sal vergeet nie. Australië is oorweeg maar verwerp weens sy gebrekkige dierelewe. Ook ander lande in Afrika was op die tafel. Die goedkoop rand het die deurslag gegee.
Hulle het in die Kaap begin en dadelik op Chapmanspiek aan die verkeerde kant van die pad in ‘n ongeluk beland. Ná die vroeë teenspoed was die reis ‘n fees … robbe by Houtbaai, pikkewyne by Simonstad, walvisse by Hermanus, leeus en olifante in die Wildtuin … Die hoogtepunt? Die walvisse, sê Didier dadelik. Dis die enigste wat jy nie in ‘n dieretuin kan sien nie.
Maar Balule se hiënas het darem ook Didier se Canon laat oortyd werk en die dogters laat rondhôl terwyl hulle uitbundig jil van plesier. Trouens, hierdie ou oom wat die middag nadergestaan het om die skamerige nuwe intrekkers in rondawel 3 in die kamp te verwelkom, het nogal daaroor ‘n teorie. Hy glo een van die redes waarom hy en sy geselskap so op die hande gedra is, was juis daardie aand se “wilde kabaret” langs die grensdraad. Ek het hand en mond belowe die koddige diere sou opdaag, en toe kom hulle in getalle … hulle rol in die sand, karnuffel mekaar speels en lag dat dit dreun tot tot wie weet watter tyd.
‘n Bekoorlike kuiertjie met bekoorlike nuwe vriende uit ‘n verre land op die bekoorlikste plek in die Wildtuin. Ai, hoe bevooreg is ‘n mens nie!
• In Wikipedia kom ek die volgende teë oor génépi: Génépi can be made at home through the simple addition of prepared herbs to vodka or grain alcohol. The chopped, dried wormwood flowers are sold in southwestern Europe in small sachets similar to tea bags. Home-brewing instructions, as well as ingredients, can be found online. For the more adventurous, the flowers and herbs can be harvested in July and August. After drying and chopping, the herbal mass can be enclosed in cheesecloth for steeping. Each Alpine mountaineer has a recipe for génépi, but a generic recipe for a liter would require forty flowers and forty sugar lumps to be added to 40% alcohol by volume.
LEEUVANGS X 2
Augustus 20, 2014 in Uncategorized
Twee-sebras-met-een-vangs-bokveld-toe-laagte. Met die naam sal ek voortaan ‘n leegtetjie naby die skilderagtige Marheya-drinkplek tussen Tshokwane en Satara onthou.
Op pad na Balule het ons Vrydag op die H1-3 ‘n troppie leeus raakgeloop wat sommer twee sebras op een slag platgetrek het. Een karkas was sowat 100 meter van die ander. Ons het op die toneel aangekom sowat 45 minute ná die vangs, is ons deur ‘n toeskouer meegedeel. Die eerste blik was op drie leeus wat in die koelte aan ‘n sebrakarkas lê en vreet. ‘n Paar ander het ‘n entjie agter toe sonnetjie gaan soek.
Gelukkig was die vangs ewe bedagsaam in ‘n leegte sodat die insittendes van die fris klomp motors wat vinnig opgedam het, goed kon sien en foto’s neem.
In dieselfde gees van bedagsaamheid gee ek my goeie plek later aan ‘n laatkommer prys. Toe ek wegtrek, bemerk ek ‘n leeuwyfie in die veld langs my draf. ‘n Entjie kruie ek so saam met haar aan. Toe swenk sy oor die pad en mik vir ‘n bossie teenaan die teer, vlakvoor die Honda verby. Dis daar waar ons toe die tweede sebra gewaar, maag nog nie eens oopgeskeur nie. Dalk nog op die teer platgetrek en soontoe gesleep. Die leeus se oë was seker maar groter as hul mae.
Soos ‘n moeder so opreg het Mevrou Leeu eers ophou eet om eers te gaan seker maak alles is nog in orde by die koskas. So onverwags was haar verskyning op die teer dat ek total onverhoeds betrap was. Tyd om lense om te ruil, was daar nie. Met die lang lens was sy so naby dat sy te groot was vir die skermpie. Die uwe het vinnig die Honda se elektriese ruitknoppie gedruk toe hy daardie spoegbek en slagtande deur die lens sien.
Twee uur later is ‘n vriend by dieselfde leeuvangs kwadraat verby. Wat hy gesien het, was ‘n presiese herhaling van die oggend se gebeure. Ook hy het ‘n ruk die feesmaal dopgehou en toe gesien hoe die wyfie oor die pad draf om sake by sebra nommer twee te gaan monitor. Klaarblyklik het sy die taak ernstig opgeneem!
‘n Kilometer of twee verder het ons ‘n jong leeutjie gekry wat bra verwese tussen twee bome senuweeagtig die wêreld om hom bespied het. Ons glo hy is alleen daar agtergelaat terwyl die volwassenes op die jag uit was. Hoop hy het ‘n lekker karmenaadjie gekry.
Met die terugkomslag Sabiepark toe Maandagoggend het ons agt leeus teenaan die water by Marheya gekry. Jy kon sommer sien hulle is behaaglik trommeldik gevreet. Klaarblyklik dieselfde troppie van Vrydag. Sebra nommer twee was nie meer onder die bos langs die pad nie. Maar toe staan ‘n wyfie gedoriewaar op en begin oor die pad aanslenter die bosse in. Koshuis was waarskynlik intussen tot ‘n meer private eetplek verskuif, en sy het net gou weer gaan seker maak.
Altyd lekker om Olifants se kant toe te ry. Ons het ‘n entjie voor die Nhlanguleni-afdraai die seldsame voorreg beleef om swartwitpense by die water te sien bondel. Digte takke het dit, helaas, onmoontlik genaak om te tel of om foto’s te neem. By een van on sander Balulegangers verneem daar was 20. Wees maar ekstra waaksaam, mense, as julle in daardie kontrei rond ry. Ons het hierdie trotse spogdiere al voorheen naby Tshokwane gekry.
Die tog het onder meer ook drie groot troppe buffels, hope olifante en kameelperde en digte plate sebras en blouwildebeeste opgelewer. Die S1 was, soos altyd, ‘n vreugde. Nie verniet nie, bly dit een van my gunstelingpaaie in die ganse Wildtuin. En Balule? Balule bly bobaas, al is die laagwaterbrug oor die Olifants STEEDS vir verkeer gesluit.
PYN OOR ‘N PROOI
Augustus 11, 2014 in Uncategorized
Verskoon tog maar as hierdie Sabieparkse kroniekskrywer vandag ietwat mistroostig klink. Hy verwerk maar swaar die jongste roofdier-ongeval in ons eie paradysie hier aan die soom van die Sabierivier: ‘n kameelperdjie van ‘n maand en iets.
Net ‘n stukkie vel is gevind. Die outjie het waarskynlik luiperdkos geword. Later sou hongerige hiënas wel vinnig kom “opruim” het. Luiperds is die laaste ruk buitengewoon aktief hier rond. Hiënas is onheilspellend volop.
Dat die uwe hom die dood van die diertjie so aantrek, kan vir sommige oordrewe klink. Die meeste wilde diere kom tog wel vroeër of later gewelddadig om, sou hulle kon redeneer. As jy ‘n dier is wat in die veld moet probeer oorleef, word jy die een of ander tyd deur roofdiere gevang, verskeur of opgevreet. Dis mos die wet van die natuur. Of wrede stropers kom jou by …
Twee dinge maak die kameelperdjie-ongeval vir my taamlik emosioneel. Vir eers het hierdie enetjie pas ‘n week of twee tevore uit leeukake ontsnap. Sy ma het haar stert verloor in haar onverskrokke verdediging van haar knopknie-kleinding teen vyf indringers uit die Wildtuin, ons oostelike buurman. Wie kon dink ‘n ander aanvaller of aanvallers sou so gou kom slaag waar die leeus misluk het?
Ten tweede is nou net drie skamele kameelperde in Sabiepark oor. Toe ons in 1998 ingetrek het, was die langnekbevolking 36. Jy kon skaars iewers in die park beweeg sonder om ‘n tros aristokratiese nekke bo die bome te sien uittroon.
Uitdunning weens ekologiese redes het wel wee keer voorgekom, maar sommer baie vangste het plaasgevind. Allerlei ander teenspoede het getref. Een het in ‘n rioolput getrap en in daardie onwelriekende grafkelder vasgekerker bly sit totdat die krokodille uit die Sabie opgedaag het. Een patriarg, ook nie meer so rats nie, het op ‘n rots gegly en sy nek gebreek. ‘n Ongelukkige is deur kragdrade doodgeskok.
Jong kameelperdjies is deur die jare as ‘n maklike maaltyd geteiken. In 1999 het vyf vorige leeubesoekers ‘n outjie platgetrek wat Tokkie pas afgeneem het. Die oulike diertjie poseer soos wafferse modelletjie, met die naelstringetjie wat nog onder die pensie hang. Die foto pryk in ons woonkamer. Daarop het ek net een word geskryf: Leeukos.
Daardie eersgeborene in ons Sabiepark-era was seker nie die eerste klein kameelperdjie wat al in Sabiepark gevang is nie en die jongste slagoffertjie sal seker ook nie die laaste wees nie. Ons weet onder meer van twee wat deur ‘n vorige parkhoof, Gerrie van Niekerk, name gegee is, Lulu en Spikes. Nog ‘n baba wat roofdiere (waarskynlik hiënas) ten prooi geval het, is een waarvan ons Kaapse kinders en kleinkinders die hele skouspelagtige geboorte in 2011 dopgehou het: vandat die voete te voorskyn gekom het totdat die hele lyfie drie meter na benede gestort het.
In die agteruitboerdery aan die kameelperdfront staan nog een faktor uit. Dit is die raaisel van die 12 vermiste kameelperde – iets waaroor van ons ouer eienaars steeds hope onbeantwoorde vrae het. Dit het in 1998 gebeur. Terwyl die helikopters besig was om in die eerste uitdunning 12 na die vanghokke aan te keer, het ‘n bykomende 12 geheimsinnig verdwyn. Spoorloos. Soos wanneer ‘n kulkunstenaar sy towerstaffie swaai. Poef ….
Die destydse parkhoof, David Zeller, kon nie lig werp nie, buiten waag dat hulle dalk oor die rivier kon gestap het Kruger toe – wat werklik uiters vreemde gedrag sou wees.
Hoe ook al, van 36 het ons kameelperde oornag gekrimp tot 12. In ‘n stadium het daardie 12 nege geword. Toe stoot drie geboortes die getal darem terug op tot 12.
In Augustus 2014 loop, helaas, net drie in Sabiepark rond. Jy is skaars van hul teenwoordigheid bewus. Twee van die bittereinders het ‘n rukkie gelede met lang hale oor my werf kom stap. Ek het hulle so agterna gekyk toe hulle die bos in verdwyn. Dis toe dat die mistroostigheid oor die gevalle kleintjie my van nuuts af pak – en ‘n lawwe hersenskim my te binne skiet. Ek sien in my geestesoog hoe 12 kameelperde meteens in formasie deur die Sabie aangewaad kom Sabiepark toe …
VYF GROTES
Augustus 5, 2014 in Uncategorized
Op my bedkassie in Tarlehoet is Jeff Gordon se 101 Kruger Tales waartoe die uwe ook ‘n uiters beskeie bydrae gelewer het. Ysingwekkende, hartroerende en humoristiese wildtuinverhale in daardie boek. Kry hom – en bekoor almal langs die kampvuur met jou stories.
Op bladsy 327 word amper terloops genoem van ene Sharmeli Ramchander wat in die eerste drie uur van haar eerste besoek die Vyf Grotes raakgeloop het. Nie sommerso nie. Luiperd bekruip wildebees; leeus vreet aan ‘n karkas; dertig olifante storm deur die bos; renoster merk sy gebied reg langs die pad; net die buffels was onaktief – het lui in die gras lê en herkou.
Sharmeli is blykbaar sommer met twee (vyf?) goue lepels in die mond gebore. Maar nou-ja, die gelukgsdodin glimlag op sommige meer as op ander (ook partykeer meer as ander kere). Ekself het darem al op stil dae drie uur gery en kwalik ‘n rooibokkie in die verte gewaar.
Sondag was weer een van daardie gawe uitsonderings. Amper laat gewees vir kerk met vertragingsfaktore soos die twee leeumannetjies op die S3, ‘n renoster op die Doispanepad, asook twee troppe olifante, ‘n luiperd en ‘n trop kameelperde op die Skukuzapad. Waar was die buffels tog, het ek myself afgevra.
Laatmiddag stap ons na ons geliefde piekniekplek toe. Rustiger kan ‘n Sondagmiddag kwalik as daar langs die Sabierivier – boonop, soos Sondag, met twee troppe olifante 100 meter uit mekaar, en grootvoete voor, langs, agter en om die uitkykplekke oor die rivier en die oorkantste oewer.
Bewonder nog die betowerende olifanttonele so, toe: Voila! Hier stap twee “dagghaboys” (ou modderbekoekte bulle wat merendeels in rivierlope woon) uit die bos, en later sommer vir ‘n toegif in die sakkende son verby ‘n klompie olifante op die rivier se oewer. Toe haal die Van D’s darem ‘n Groot-Vyf-dag – ons eerste in ’n taamlike rukkie.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, asseblief. Die wildtuin bestaan uit veel-veel meer as die Vyf Grotes, en die algemene gejaag na veral leeus met behulp van krakende tweerigtingradio’s staan hierdie wildtuinliefhebber nie juis aan nie. ‘n Trop swartwitpense sal elke keer vir my ‘n groter prys wees as selfs daardie indrukwekkende kraagmannetjies wat ons oop en bloot op die rivierpad gesien het.
En die tienstuks kameelperde langs die Skukuzapad – een fier kleintjie onder hulle – was, eerlik gesproke, eintlik ‘n mooier toneel as die luiperd wat tussen ‘n dosyn of meer versamelde safarivoertuie en motors soos blits oor die pad geseil het.
Tog – die Vyf Grotes is die Vyf Grotes. Om almal die een na die ander af te tik, bly tog maar ‘n heimlike lekkerte. Ook vir hierdie ou gryse veteraan met hope wildtuinbesoeke agter die blad.
(My storie in Jeff Gordon se boek heet An Astonishing Confluence of Killers en vertel van ‘n episode langs die Salitjepad lank-lank gelede met leeus, ‘n luiperd en ‘n krokodil as hooffigure.)
(hvd)