Kerk in dreigende reen op ‘n verlate koppie op die oop vlakte; piekniek knus in die kerk tussen die kerkbanke. Raai waar gebeur iets so raar?

Goed, hier’s ‘n leidraad: in die nimlike kerk is so twee weke gelede ‘n vlakvarksog en ses kleintjies per ongeluk toegesluit. Die besorgde moeder het later benoud teen die deure begin stamp.

Die leraar, ds. Carl Louwrens, is ontbied om die onverklaarbare geluide te kom identifiseer. Toe die oorblufte ds. Carl oopsluit, sien hy net krom tande. Die verligte vlakvarke is na die herderlike ontsetting op stertjie-orent op ‘n drafstappie Skukuza se personeeldorp in.

Waar anders as in die wonderlike Kruger-wildtuin? Om presies te wees: waar anders as in die NG gemeente Krugerpark in Skukuza – die Van Deventers se bosgemeente wanneer ons in Sabiepark kuier.

Sondagaand was ons en ons gaste, Herman en Rina le Roux van Randburg, bevoorreg om op die indrukwekkende Granokoppie tussen Skukuza en Pretoriuskop die gemeente se viering van Palmsondag mee te maak – des te meer ‘n spesiale geleentheid omdat dit vir die Van D’s persoonlik ook ‘n baie besonderse naweek was.

Vir eers kon ons met vreugde en dankbaarheid terugdink aan ‘n verbintenis van presies 10 jaar met Sabiepark. Ons het op 15 Maart 1998 die ou naam “Ukuthula” (Vrede van binne) met “Tarlehoet” vervang. Ten tweede was dit vroulief, Tokkie, se 62ste verjaardag, wat met daardie heuglike herdenking saamval (sien die webjoernaal hieronder).

In die Wildtuin het die kwik Sondagmiddag skielik dramaties getuimel. Teen 17:00 kon jy die reen in loodgrys vlae uit die verte sien aankom. Die skraal windjie het aan jou sambreel geruk. Maar die Gideonsbendetjie op Granokoppie het dapper deurgedruk.

Met palms in die hand is entjies, entjies teen die steilerige koppie opbeweeg om die gebeure van die Paastyd treffend met woord en lied in herinnering te roep.

“Hy’s die bruidegom. Ons is die bruid wat wag op Hom.” Ek kan nie beskryf hoe mooi kerkliedere soos hierdie met kitaarbegeleiding so in die naderende aand in die bos klink terwyl die eerste druppels jou hare nat spat nie (foto bo). Dis ‘n sielservaring om oor huis toe te skryf.

Ds. Carl is ‘n man vir simboliek. Toe ons op 14 Maart 2004 ons eerste Paas-sangdiens op Granokoppie bywoon, is brood gebreek wat deur sy vrou, Sarah, gebak is. Spykers is ook uitgedeel om ons aan Golgota te herinner. Hierdie keer het ons kruise ontvang wat kunstig uit palmtakke gevleg is.

Sulke aande eindig tradisioneel met ‘n piekniek-ete onder die sterre. Die gemeente – wat al deur Tokkie as ‘n “uitgebreide familie” beskryf is – bring hul opvoustoele, mandjies kos, en ietsie vir die keel. Dan word ‘n hond uit ‘n bos gekuier!

Twee jaar gelede toe Brent en Marisa hier was, het duisende stinkbesies teen die einde op die gemeentelede toegesak. Hulle moes vinnig die aftog blaas en in Skukuza verder gaan kuier. Hierdie keer was dit die weer. “Kerk toe,” het ds. Carl gebied, en daar trek ons toe met ons stoele, mandjies en wat nog.

Piekniek in ‘n kerk? Dit was ook ‘n eerste in hierdie man se lewe. Sedert ons Sabieparkers geword het, was daar al baie eerstes – glo my! (HvD)

Deel dit: