Ses weke nadat die pot hier in HvD se Blog geroer is oor Mxit-taal en die aanslag daarvan op beskaafde kommunikasie, basiese grammatika en die respek vir dissipline is hierdie gryse se onrus allesbehalwe besweer. Trouens, tot my afgryse het ek nou aan Mxit selfs ‘n donkerder kant as net sy skadelike opvoedkundige impak ontdek.

Dit tref dat in minstens twee hartseer-insidente van ‘n losbandige lewenswyse onder jong mense die naam Mxit opgeduik het.

In Pretoria is ‘n 16-jarige verkrag na ‘n Mxit-afspraak met ‘n gesiglose vreemdeling. In die Kaap is baie trane gestort oor die dood van ‘n ma en haar dogter, ‘n oulike skoolmeisie van Milnerton, wat deur ene “Lee-Roy, haar Mxit-vriend van Delft” swanger gemaak is. Hulle is op pad dokter toe in ‘n fratsongeluk op die N1 deur ‘n tenkhouer vol wyn papgeval. Na die ongeluk is die Mxit-pappa net tjoepstil.

Dit sou onbillik wees om al die onheil op Mxit-taal se brood te wil smeer, net soos die blote bestaan van vuurwapens nie blameer kan word vir die moorde wat daarmee gepleeg word nie. Daardie goggataal met sy “heytas” en “mwa-mwa’s” kan egter nie sy hande in onskuld was nie. Sulke SMS’e is klaarblyklik ‘n kernelement van ‘n nuwe kultuur waarin jongmense ter wille van die avontuur toenemend waardes uitdaag en seksueel al hoe meer met vuur speel. Meisies is in daardie opsig glad nie teruggetrokke nie.

Dat SMS-boodskappe in Mxit-taal tussen volslae vreemdelinge instrumenteel was in die verkragting in Pretoria en die swangerskap van die Milnertonse skoolmeisie kan die vurigste protagonis tog nie ontken nie. Dit skep klaarblyklik nog ‘n gevaar waarop ouers, opvoeders en verantwoordelike volwassenes in die algemeen bedag behoort te wees.

Wat ek tevore hier oor Mxit as ‘n formele kommunikasietaal in kerkverband van my bors gekry het, wil ek nie herhaal nie. Belangstellendes kan eenvoudig terugblaai tot die webjoernaal van 14 Februarie. Druk net telkens die skakel “next” tot by webjoernaal nommer 17.

Nietemin, groot ongelukkigheid het in die gemeente ontstaan omdat die gemeente self sowel as die jong jeugwerkster in my skrywe geëien kon word. Die jeugwerkster (knap, ondernemend en suksesvol in haar bediening) was in trane. ‘n Diaken het in ‘n stomende brief aan die leraars gepleit dat hulle “ingryp” om ‘n “taaldebat” in die gemeente te keer. Een jong gemeentelid wou opsluit ‘n petisie begin om hierdie afwykende ouderling “onder sensuur” te laat plaas. Die dagbestuur van die kerkraad is byeengeroep.

Kort na die moles is ek Bosveld toe. Die uiteinde was dat ek na rustige besinning met ‘n wyntjie langs my kampvuur as ouderling bedank het. My sterk teenkanting teen Mxit as kommunikasietaal met die kerkjeug bly immers onwrikbaar. Ek kan my nie versoen met die moontlike indruk by wie ookal dat ek ook maar geswig en die weg van die minste weerstand ingeslaan het nie.

Langs dieselfde kampvuurtjie het ek ook ‘n ander insig gekry wat ek hier wil deel. Voordat ek daarby kom, meld ek darem net eers in die verbygaan prof. Wilhelm Jordaan se rubriek in Die Burger van 4 Maart waarin hy oor Mxit o.m. skryf: “Verban dit asseblief uit formele kommunikasie!”

SMS-taal floreer nou ook floreer in studente se werkstukke en vraestelle – dermate dat dosente al hoe meer “kodes” moet ontwar, skryf Jordaan in sy rubriek op grond van navorsing wat oor die kwessie gedoen is. “Gevaarligte is daar reeds. In baie studente se skryfwerk is die logiese opbou van ’n argument deur samehangende stellings afwesig. Wat dosente al hoe meer in werkstukke en vraestelle teëkom, is ’n telegramstyl en die losse opstapeling van bewerings waartussen geen duidelike verband gelê is nie, en bloot vaagweg op die vraag of probleem betrekking het.

Word studente hiervoor gepenaliseer, is hulle verbaas, selfs ontsteld. Met dié stellige verweer: ‘Maar al die feite is dan daar!’

“Dit is asof studente hul werk, en miskien die lewe in die algemeen, al hoe meer in SMS-lettergrepies bedink – flentertjies gedagtes wat op die een of ander magiese manier vanself tot ’n ordelike en verstaanbare geheel sal kom. Gaan dit só voort, kry ons dalk ’n nuwe spesie van die eens geroemde universitas magistrorum et studentium – ’n gemeenskap van geleerdes en studente, saamgesnoer deur die kuber-snelskrif van leë gedagtegange.”

Vir my was hierdie instemmende bydrae van die hoog gerekende Jorrie, ‘n oud-kollega van die jare her by Die Volksblad in Bloemfontein, soos manna. Ek het dadelik aan hom geskryf: “Ek lees jou rubrieke gewoonlik met plesier en instemming. Vanoggend se rubriek oor gemorstaal tref veral n sensitiewe snaar in my hart.” Hy was nogal verbaas om by my te hoor hoe diep die tentakels van taalvervlakking al strek.

Kom ons los dit daar. Terug na my tweede insig – een wat nogal aan my gevat het. Dit is eenvoudig dat nie ek of iemand van my geslag (die 60-plussers) hierdie Mixit-golf kan stuit of selfs net laat spoed verloor nie. Ons – die sogenaamde “un-cool ou omies” – het eenvoudig nie die geloofwaardigheid of invloed by jonger geslagte dat ons vermaninge hoegenaamd ernstig opgeneem word nie.

Die jonger garde bejeën ons generasie trouens afkeurend as uit die oude doos – die verpersoonliking van ‘n “ou orde” met uitgediende waardes, norme, standaarde, voorkeure en aksente. Hulle vertrou nie ons oordeel nie. Hulle bevraagteken wat ons dink en doen. Hulle reageer instinktief vyandig teen amper elke standpunt wat ons inneem – selfs as dit nie juis buitengewoon behoudend is nie.

Een jong man het daardie afwysende gesindheid brutaal gestel: “Ek sê altyd dis ‘n goeie ding as die ‘ou omies’ nie van ‘n jeug-ding hou nie. Dit bevestig dat dit ‘cool’ is.“

Nou-ja, jonger mense self sal nou maar moet opstaan teen hierdie onding Mxit. Hierdie “ou omie” gaan na dese sy mond daaroor hou – en hy weet in bepaalde kringe sal oor sy swye ‘n gejubel opgaan. Hy tree uit die debat met siddering oor die houding van so what as tieners nie kan spel nie, soos pas Maandag weer in Die Burger se jeugbylae Jip verwoord is.

Liewe jongmense en kinders, uit julle geledere moet ‘n volgende geslag professore, predikante, onderwysers, redakteurs, advokate en dies meer kom. Hoe op aarde wil daardie mense met hul klasse, gemeentes, lesers, howe en ander gehore beskaafd en verstaanbaar in “SMS-lettergrepies” en met “flentertjies gedagtes” kommunikeer?

Dis laat in die dag as hierdie tydsgees van kannie worry nie die heersende gees onder jongmense is – en dan nog gekondoneer word deur volwassenes van wie ‘n mens meer insig sou verwag het. (HvD)

Deel dit: