“Wit Terroris Dries Kriel (63) dood na hartaanval.” So lui ‘n SMS wat ek gister van oud-kollega Sarel Venter van Bloemfontein ontvang het. Dries Kriel – die naam sal dalk by min ‘n klokkie lui. Wit Terroris – wat beteken dit?

Andries Stefanus Kriel was egter aan my goed bekend. Hy het my as ‘n vyand gebrandmerk en dit op hom geneem om as ‘n soort Nemesis meedoenloos teen my op te ruk. Geen mens het my nagrus (en sielerus) meer as hy versteur nie.

Die Wit Terroris het vroeg in 1988 openlik in my lewe gekom met ‘n skerp brief aan Die Volksblad waar ek destyds redakteur was. Sy boodskap was dat hy as’t ware brand om die koerant aan die brand te steek. Vir my was sy boodskap: “Lig slaap en rondkyk. Die Boere is op jou.”

Om gedreig te word, was in die onstuimige jare 80 nie vir ‘n koerantmens buitengewoon nie. Die Afrikanerpolitiek was troebel. Die AWB het uit sy pad gegaan om Die Volksblad en sy mense te viktimiseer. Maar Kriel se brief was ekstra venynig. Dit het ‘n krieweling langs die ruggraat afgestuur.

Toe begin die dreigoproepe na my huis. Jaar in en jaar uit. Meesal snags. ‘n Nimmereindigende stroom – soms tot 10 oproepe in 15 minute. Ek is gewaarsku dat ek die volk verraai. Ek moet in my spoor trap; ek moet my van dwalinge bekeer of die gevolge dra. Soms is die telefoon sonder ‘n woord neergesit. Soms kon jy ‘n gehyg hoor of is net liederlik geswets. Die invloed van versterkwater kon dan bespeur word.

Op ‘n dag is my dogter, Marisa, oor die telefoon gekonfronteer. Hoe laat kom sy van die skool? Watter paadjie loop sy? Sy was ontsteld. Vir ‘n ouer se gemoedsrus is so iets allesbehalwe salwend.

Kort daarna kom aan die lig dat die briefskrywer Dries Kriel oorkant Die Volksblad ‘n woonstel gehuur het – so naby dat “ek op julle dak kan spoeg as ek kwaad raak.” Ek erken dat ek ge-ys het as ek wintersoggende in die pikdonkerte van my parkeerplek na my kantoor by daardie woonstel se vensters verbybeur. My rug was kromgetrek. Soms het ek gedrafstap.

‘n Keer het hy laat weet hy was in ons gebou. Hy het op die een of ander manier ‘n los werkie in die fotograwe se donkerkamer bekom. Nou weet hy presies wie sit waar…

Goed soos die Wit Wolf se wilde skietery op Kerkplein en sy doodvonnis het hom klaarblyklik aangevuur. Dan reen die briewe. Ons, die Afrikaanse media, is skuldig omdat ons regse Afrikaners in ‘n blik wil druk. Sy “kameraad” Barend Strydom se bloed en die bloed van sy slagoffers is op ons.

Die Veiligheidspolisie is op die naamlose dreigoproeper se spoor gesit. Toerusting was egter nie so gesofistikeerd soos vandag nie. Die herkoms is nagespeur tot die omgewing van Die Volksblad se kantore. Dries Kriel is verdink en ondervra. Hy is nooit vasgepen nie.

Later het sy ware kleure na vore gekom. Hy was nie net met die pen en die telefoon ‘n aktivis nie. In die AWB se teer-en-veer-bende was hy ‘n voorste lid. Hy was ook ‘n aktiewe saboteur en bomplanter aan die Rand, Pretoria en Noordwes-Transvaal. Sy teikens was poskantore, ‘n skool en treinspore.

Hy het hom aan die Wes-Rand (as ek reg onthou) in ‘n lokval vasgeloop, is skuldig bevind en agter tralies gesit. Ek is intussen Kaap toe. Suid-Afrika het verander.

Jare later – sewe jaar later om presies te wees – lees ek ‘n brief van ene Dries Kriel in Beeld raak. Hy teken apologie aan vir sy aandeel om die volk te verdeel en gee Afrikaanse koerante ‘n pluimpie omdat hulle vir die Afrikaner gereeld ‘n lansie breek en die nuus in hul moedertaal bring.

Ek was in daardie stadium uitvoerende hoof van Naspers se koerante. Ek skryf toe vir die heer Kriel by sy nuwe adres in Pretoria-Noord, loof hom oor sy nuwe insigte en vra uit na die Bloemfonteinse episode.

Hy antwoord lakoniek: ja, ek is gedreig, maar soos ek vandag seker weet het van daardie dreigemente maar min gekom! Hy vertel ook dat hy ‘n boek geskryf het: Dagboek van ‘n wit terroris. Kan ek nie ‘n uitgewer aanbeveel nie?

Dit gaan nie by my verby nie dat die titel van sy boek en die opskrif oor hom in my loopbaanboek, Kroniek van ‘n Koerantman (foto bo), woordeliks dieselfde is!

Geen uitgewer of tydskrifredakteur stel egter belang nie, en ek vergeet stadigaan van Dries Kriel en sy boek. Totdat ek nou die dag op die internet ‘n paar insiggewende uittreksels raakloop.

Hy erken in sy “Dagboek” dat hy die geheimsinnige oproeper was. Hy is egter nie spyt dat hy Hennie van Deventer so verpes het nie. Laasgenoemde se “gekonkel teen sy volk” was die regverdiging daarvoor. Nou skroom Van D. nie om die “gekonkel” in Kroniek van ‘n Koerantman te openbaar nie. “Sy boek is steeds net so arrogant soos sy joernalistieke styl was.”

Kriel verwys in die boek na ‘n “Judasloon” wat ek “oor die jare vergader het”, en spreek ‘n onheilspellende oordeel uit: dat ek “eendag voor die Groot Regter verantwoording sal moet doen”.

Ook: as ek weer sy pad moet kruis en in sy volk se pad na vryheid staan, sal hy my “aanvat sonder om ‘n oog te knip.”

Nou is Dies Kriel dood – daardie boek is finaal toe. Sedert gister loop ek en tob oor wyle Andries Stefanus Kriel (1945 – 2008). Grepe uit die geskiedenis spoel voor my geestesoog verby. Ek wonder hoe ek moet reageer.

Verligting ervaar ek nie, want enige bedreiging uit daardie oord bestaan lank nie meer nie. Blydskap? Nee aarde, ‘n mens is darem nie bly oor ‘n medemens se dood nie. Afsydigheid? Dis is nader aan die kol. Die jare 80 le immers diep onder die stof begrawe – waarom sal ‘n mens nou weer opnuut oor ou stryde opgewonde raak?

By die afsydigheid is dalk ook ‘n tikkie hoop. Daardie hoop is in die sug tot versoening wat in die laaste Krielbrief aan Beeld vasgevang is; die klaarblyklike stryd in sy eie binneste oor die vrugteloosheid van sy opstand. As dit sy ware hart is wat hy daar openbaar, is seker ook ander goeie harte agter bose uiterlikes weggesteek – vandag nog. Party mense met goeie harte slaag mos maar daarin om dit deksels goed te kamoefleer!

Dries Kriel, jou blikskater, laat ons maar die onenigheid en konflik wat daar tussen ons, dan ook hiermee ter ruste lê, soos jy nou te ruste gaan. Vrede vir jou. (HvD)

Deel dit: