Jy se vir iemand: “Hef ‘n bedpan”. Is dit “in swak smaak, grof, ontfatsoenlik en beledigend?” Beteken dit, om dit brutaal te stel, dieselfde as: “Gaan dinges”?

Oor hierdie komplekse strydvraag moes ‘n edele regter, Oscar Galgut, in 1982 uitsluitsel gee na ‘n klag teen Die Volksblad by die destydse Persraad deur dr. Herholdt Pauw, ‘n nier-spesialis van Bloemfontein.

Dr. Pauw, ‘n latere benoemde LP van die Konserwatiewe Party , is pas op 73 oorlede. Die nuus oor sy dood het die “hef-n-bedpan”-sage in herinnering geroep. Die hele storie is opgeteken in my eerste boekie, Scoops en Skandes (hierbo), wat in 1993 by Tafelberg verskyn het, en ek het – opnuut met heelwat plesier – dit daar gaan nalees.

Die klaer was, soos reeds genoem, die voormelde dr. Pauw. Beskuldigde nommer een was daardie vabond-rubriekskrywer Johan van Wyk wat die rubriek Stop van Myne in Die Volksblad behartig het. Regter Galgut was voorsitter van die Persraad. Die uwe was advokaat vir die verdediging.

My taak was nie eenvoudig nie. Vir regter Galgut – so Engels as kan kom – was Van Wyk se humor onbekend en totaal Grieks. En ek moet erken, “hef ‘n bedpan” het by nadenke nogal naby daaraan gekom om iemand subtiel (?) ‘n gesonde opelyf toe te wens!

Destyds was my redakteursreputasie op die spel om die regter tot ander insigte te bring. Ek val toe weg om eers hoogdrawend te verduidelik waar daardie woorde oorspronklik vandaan kom. Dis ‘n lang, verwikkelde storie.

Om kort te gaan, spruit alles uit ‘n leser se klagte dat Stop van Myne so ‘n “Ingelse” streep kry – die naam kan gerus maar verander word tot “Hef ‘n siegret”. ‘n Nuwe Van Wyk-seding is terstond gebore. “Hef ‘n sigret” het skielik links en regs in sy rubriek begin opduik. Toe kom “hef ‘n mietpaai” by, asook “hef ‘n banana” en “hef ‘n vetkoek”.

Daarvandaan het die gebruik onstuitbaar ge-eskaleer en is verskeie nuwe variasies op die tema algaande deur die “Oom” (soos Van Wyk homself genoem het) geskep. Skryf hy byvoorbeeld oor die hartoorplanter Chris Barnard (hoofsaaklik oor die viriele dokter se ander soort hartsake as sy beroemde operasies), sou hy uitroep: “Hef ‘n heart”. Skryf hy oor melk-kwessies (hy was self so tussenin ‘n melkboer) was dit “hef ‘n ding-dong-day”. As “mekennieks” aan die beurt was, was dit “hef ‘n bobbejaan-spanner”.

Toe hy oor hospitale skryf en dr. Pauw by name vermeld, was “hef ‘n bedpan” na my oordeel in die konteks van sy eiesoortige skrywes nie ongewoon of neerhalend nie. ‘n Bedpan was in daardie verband bloot ‘n hospitaal-simbool. Hy kon net so wel eskryf het: “Hef ‘n koorspen”. Of “hef ‘n stetoskoop.”

Vir Herholdt Pauw was die begrip bedpan (en die funksie van daardie beskeie stukkie metaal) egter soos ‘n rooi doek vir ‘n bul. Hy het “verneder” gevoel en het op ‘n apologie aangedring. Regter Galgut was ook maar bra skepties oor my verweer. Ek kom toe met ‘n kompromie: Goed, ons sal in Stop van Myne verduidelik dat Johan nie bedoel het die geagte dokter kleinhuisie toe te stuur nie. Ons sal ook nederig ons spyt betuig as hy die woorde so (mis-) verstaan het. Ek sukkel net om die regte formule te kry.

Baie lesers het immers nie Van Wyk se woorde so aards verstaan soos die dokter nie. Om dit nou vir hulle in dier voege uit te spel, gaan die vrolikheid daaromheen ten koste van die klaer laat uitkring. Dit sou, trouens, teenproduktief wees en die verleentheid wat hy ervaar, net groter maak.

Dr. Pauw het vasgeskop. Hy wou die woord “ekskuus” uit Johan van Wyk pers. Niks minder sou sy gekneusde eer herstel nie.

Uiteindelik, twee maande later, het dr. Pauw toe sy apologie gekry. Jammer, dr. Pauw, dat u daarin ‘n onfatsoenlike strekking gelees het. Dit was nie so bedoel nie. So het Van Wyk (of in werklikheid Van Deventer namens Van Wyk) in Stop van Myne ‘n buiging na die veronregte gemaak.

Soos die uwe voorspel het – want soos Churchill gese het: “I have not always been wrong” – is egter toe veel wyer geproes as aanvanklik.

Ek is bly om te kan getuig dr. Pauw het darem nie te lank kwaad gebly nie. Later kon hy die snaaksigheid self raaksien. Ek glo hy is na sy graf ook met ‘n glimlaggie in sy hart oor daardie episode. “Hef ‘n smaail, dok!” (HvD)

Deel dit: