‘n Skilder hou by ‘n karaktervolle kremetart in die Kruger-wildtuin stil om dit vinnig te skets. Op daardie oomblik daag ‘n stowwerige motor met ‘n GP-registrasie op. Binne is pa, ma en vier kinders. Dit lyk of dit vir die verwaaide gesinnetjie ‘n lang, frustrerende dag kon gewees het.
“Wat sien julle?” vra die nuwe aankomeling hoopvol. “Ons kyk na die boom,” antwoord die skilder. “F….. boom,” brom die Gautenger. Toe trek hy weg met ‘n vaart wat sy verontwaardiging verraai.
Wildtuinbesoekers kan erg uiteenlopend wees. Een sarsie soek net leeus. ‘n Ander sal amper bo-oor ‘n leeu ry om ‘n roofvoël te kiek (of ‘n boom te skets). Jy kry diegene wat net rondry van vroeg tot laat asof iets hulle jaag, en diegene wat die rustigheid van ‘n koelteboom by ‘n watergat verkies. Jy kry mense met eerbied vir die natuur en die etiek van wildbesigtiging. Jy kry wildewragtigs wat geen snars omgee nie en reëls buig en breek soos hulle lus kry.
‘n Kategorie wat aan my onbekend was en seker maar kleinerig in getal is, is die ware veld-eksperts – die kenners wat die wetenskaplike name van elke denkbare grassoort kan afrits, wat presies kan uitstippel watter boom of struik jy waar kan teëkom en hoekom, en dan blitssnel kan bereken hoeveel kameelperde, sebras, vlakvarke en wat nog per 10 vierkante kilometer daar behoort rond te loop.
Hulle ken daardie Wildtuin soos die palm van hul hand en hulle kyk na hom soos ‘n vingerafdrukkenner na ‘n vingerafdruk kyk. Elke lyntjie verraai iets.
So iemand is Ben Coetzee (65) wat in die laat jare 70 ‘n plantkundige in die Wiltuin was, maar in 1999 saam met sy vrou, Jeanette, sak en pak Amerika toe is. Hulle woon in Memphis, Tennessee, waar hy in die rekenaarwese vir hom ‘n nuwe loopbaan uitgebeitel het.
Sy droom was altyd om ‘n wetenskaplike Wildtuinboekie te skryf wat darem nie té wetenskaplik is nie en aanklank by die gewone publiek kan vind. Die boekie het uiteindelik in 2005 gerealiseer na ‘n herbesoek saam met sy seun, Dirk, aan daardie dierbare lappie Afrika wat die Sentrale Distrik van die Wildtuin steeds vir hom is. Die titel is Birth of an African landscape – a safari to the Kruger National Park led by Ben Coetzee.
In vyf dae in 2005 het pa en seun elke toeristeroete in daardie gebied gevolg, seker gemaak dat Ben se kaart van landskappe akkuraat is en wonderlike foto’s geneem, onder meer van ‘n jong berghaan op ‘n hardekoolstomp wat die omslag vir sy safariboek gelewer het – presies soos hy in sy verbeelding twee ou persoonlike gunstelinge gekombineer het.
Ek was so gelukkig om ‘n eksemplaar van African landscape uit die bloute present te kry. As ‘n leek put ek uit die Wildtuin hope lekegenot. Maar hierdie is ‘n formidabele boek deur allesbehalwe ‘n leek. Gesaghebbendheid en kennis drup uit elke blad. Om die Wildtuin aan te durf met soveel kundigheid en insig in die ekologie, moet aan elke besoek ‘n ekstra dimensie verleen.
Kyk net wat die boekie alles in 115 bladsye bied:
Die eerste 27 bladsye bevat die outeur se perspektief oor hoe die ongerepte dele van die wêreld aanmekaar gesit is. Die terugblik oor 300 miljoen jaar is fassinerend. Dan word vertel hoe hy en sy kollegas te werk gegaan het met hul opnames. Dit bied ‘n eenvoudige model vir wetenskaplikes, bewaarders en andere om eenvormig en akkuraat oor plantegroei, ruigheid en dies meer te kan gesels, maar ook ‘n gesaghebbende relaas vir die vakkundiges. Daarna kom die landskappe van die Wildtuin se Sentrale Distrik aan die beurt.
Versprei deur die boek is staaltjies van eie ervaringe. Daarin had hierdie leek veel plesier. My gunstelingstorie is hoe Ben op ‘n nie-amptelike staptoer saam met vriende met ‘n hart wat in sy keel klop die attensies van ‘n omgekrapte olifant met ritmiese handeklap afgeweer het. Later hoor hy die kinders se weergawe: hy het heldhaftig die olifant gekonfronteer en boonop doodsveragtend hande geklap vir die ou se befoeterde stormlope!
‘n Nuttige wenk is oor bosluise en in watter gras hulle heers. Met my nuut verworwe kennis gaan ek dié pestilensies voortaan probeer vermy.
Ek is lief vir die blinkblaar-wag-‘n-bietjie, maar die gelofie wat Ben aanhaal oor dié Bosveld-staatmaker se kwaliteite as weerligafleier het ek nog nie tevore gehoor nie. Kom daarop neer dat weerlig ‘n voël is wat weet hoe kwaai die w-‘n-b bedoring is. Vermy hom dus liewer!
Dankie, Ben, plek-plek was jy ietwat bo my vuurmaakplek. Dit moet ek erken. Maar ek het die buitengewone ekskursie saam met jou geniet en ek glo ander sal ook. Dat African landscape groot waarde tot my Sabiepark-boekery gaan toevoeg, is ‘n feit soos ‘n seekoei!
Ben se webadres vir die boek is www.anafricanlandscape.com (HvD)
