Skoenmaker hou jou by jou lees. Na nog ‘n naweek van Super-frustrasie moet ek egter van die hart kry wat deesdae al hoe swaarder daarop druk. My vraag is eenvoudig: hoe op deeske aarde kan Suid-Afrika wereldkampioen in rugby wees, maar ons spannetjies ploeter so voort in die Super 14?
Ja, ja, ek weet die Stormers kom nou mooi aan en Nuweland juig weer. Maar Saterdag was dit ook maar ‘n gesukkel hier in die Kaap. Twee oomblikke van briljantheid het die verskil tussen triomf en trane beteken.
Speel weer met Bolla Conradie in die beginspan en verloor is die Stormers se voorland – veral nou met Schalk Burger ook nog op krukke. So ‘n harmansdrup-diens aan ‘n losskakel het ek nog selde op so ‘n senior rugbyvlak moes aanskou. En ek het al vrot skrumskakels gesien, hoor!
Oor die Bulls swyg ek liewer. Gaan voorverlede Saterdag se oplewing voortduur of nie? Wat ook al gebeur, is dit in elk geval te laat vir trane. Op Loftus is dit ‘n Seisoen van Pyn. Dalk eerder ‘n Seisoen van Skande.
Die Sharks het gedink hulle is onoorwinlik. Wel, daardie ballonnetjie is vinnig geprik. Nou wag die Crusaders vir die manne van Durban. Hul vryval uit die boonste vier gaan kwalik teen so ‘n bulspan gestuit word.
Cheetahs en Lions – ag nee wat, julle is uit jul diepte.
Wat hierdie rugbyleek die meeste kwel, is dat niemand probeer ontleed wat agter ons droewige vertonings sit nie.
Wat werklik verregaande is, is hoe die Suid-Afrikaners in die laaste paar minute van elke wedstryd uitrafel. Ons het die kuns om in die laaste minuut ‘n wedstryd deur die vingers te laat glip – of ‘n bonuspunt te verbeur – dalk nie uitgevind nie, maar wel vervolmaak!
Word die teenstanders afgerig om tot die eindfluitjie te speel en ons spanne om maar op te hou as hulle glo die koeel is deur die kerk? Is dit arrogansie of onnoselheid?
‘n Ongelooflike klomp wedstryde is hierdie seisoen al in die laaste paar minute – of die heel laaste minuut – verloor. Rugbyskrywers soos Herman le Roux en Frikkie van Rensburg (die beste van hul era, volgens Dok Craven) sou hierdie kwaal lankal raakgesien en op die tafel gesit het.
Frikkie, ‘n rugby-statistikus sonder weerga, sal dalk die antwoord onmiddellik kan verskaf as iemand hom net wil bel.
Maar vandag se rugbyskrywers gaan klaarblyklik vir mooi skryf eerder as ontleding. Mooi skryf is natuurlik ‘n uitstekende kamoeflering vir gebrek aan kundigheid.
Dis deel van hierdie rugbyliefhebber se naweek-frustrasie. Kom ons los dit egter maar daar. Die jong generasie verkies mos om nie aan hul tekortkominge herinner te word nie.
Stormers, selfs hierdie ou stoere Blou Bul is nou aan julle kant. Julle is al wat ons eer nog so ‘n klein bietjie kan red. Los tog net vir Bolla Conradie uit jul span, asseblief! (HvD)
