Vir die tweeling Jacob en Thomas Claassens se vierde verjaardag het elkeen ‘n kaart soos die een op die foto hierbo van Oupa Hennie en Ouma Tokkie gekry. Dis sommer deur Oupa op die rekenaar saamgeflans.
Agter daardie speel-speel-kaartjies is egter ‘n storie wat iemand by Nationwide soos ‘n skurk behoort te laat voel.
Jacob en Thomas sou op 2 Julie saam met Oupa en Ouma van Kaapstad na Kruger Mpumalanga vlieg vir ‘n vakansie in Sabiepark. Die Nationwide-kaartjies was hul regte, egte presente vir hul vierde verjaardag op 26 April.
Die kaartjies is al op 15 Oktober 2007 gekoop en per kredietkaart betaal. Die bewyse is in Oupa se sogenaamde “Saamvat Sabiepark”- legger in sy kabinet in die studeerkamer.
Jacob en Thomas tel al hoe lank die slapies. Hulle ken Sabiepark en is lief vir die plek. Die bos is ook in hul hartjies soos in Oupa en Ouma s’n. Toe hulle verlede Julie saam met Oupa en Ouma daar was, was dit ‘n fees: Witnek die duiker het gereeld kom pitjies soek, elke aand het die nagapies by die pendoringboom langs die stoep aangeswerm gekom vir hul skyfies piesang, by die pieknieplek langs die Sabierivier is die tweetjies ewe kordaat by twee olifante afgeneem…
Elkeen het met sy eie albumpie propvol dierefoto’s by hul speelskooltjie opgedaag – sebras, kameelperde, koedoes, bobbejane, bokkies. Noem maar op. Daardie foto’s is nou nog van hul kosbaarste besittings.
Toe het ons met Nationwide gevlieg. Vlug CE0803. Die kamera het geklik van ons aankoms op Kaapstad se lughawe tot by die afklimslag in Mpumalanga. Op dosyne foto’s is die Nationwide-embleem breed op die agtergrond. Trouens, die afbeelding op Oupa se speel-speel-kaartjie kom juis van een van daardie foto’s.
Thomas was selfs in die stuurkajuit (Jacob was effens lugtig). Hy is selfvoldaan afgeneem by die glimlaggende vlieëniers (seker nou werkloos).
Nationwide is vir Jacob en Thomas ‘n towerwoord. Elke vliegtuig wat oor Pappa en Mamma se huis in Welgemoed dreun, word deeglik bekyk. Daar’s ook SAL, Kulula, Mango en wat nog. Hulle ken almal. As hulle die Nationwide-stert herken, hoor jy egter ‘n vreugdekreet.
Daardie vreugde is nou weg uit hul lewens. Vir altyd. Vir die Julievakansie moet ander planne gemaak word. Hoe verduidelik jy immers aan kindertjies dat van al jou beloftes en al hul droompies niks gaan kom nie oor iets soos ‘n lugdiens se “likwidasie”? Al “likwi” wat hulle ken, is Liqui- Fruit!
Watter planne ons al maak (en hoeveel duisende ekstra Oupa en Ouma nou sal moet opdok) gaan iets oorlaat om te verduidelik – hoe weet ek nie. Dit is: Hoekom is dit nie Nationwide nie, Oupa?”
“Omdat Nationwide ‘gevou’ het, my seuntjies”. Dit klink mos simpel.
Nationwide, weet dat van al julle teleurgestelde passasiers Jacob en Thomas Claassens julle dalk die heel meeste gaan mis.
“Trane rol oor Nationwide,” berig Die Burger vanoggend op sy voorblad.
Ja, trane rol inderdaad oor Nationwide. (HvD)
