Moedersdag en daardie klas van ding was nooit juis vir my nie. Selfs verjaardae glip amper ongesiens by my verby.
Die eerste keer toe die ma van my skool- en Tukkiemaat Giel de Swardt – by wie ek gekuier het – my dwing om op Moedersdag huis toe te bel, was ek ongemaklik. Ek het geweet my ma sou die oproep vreemd vind omdat sy haar kind ken. Ek het nie werklik geweet wat om te se nie. Toe prewel ek maar iets soos: “Gelukkige Moedersdag, Ma.”
Teen daardie agtergrond is ek nogal verbaas dat ek voel om die stukkie hieronder vir Moedersdag op my webjoernaal te sit. My ma is ook al amper 15 jaar oorlede. Die foto hierby is in 1946 geneem. Sy was toe n weduwee van 26 en ek n seuntjie van vyf. Ons was daardie tyd in Kimberley waar my pa kort tevore skielik dood is. (HvD)
EERS BAIE JARE LATER HET EK BESEF …
Toe Pa Seun in 1946 dood is, moes Ma Baby moet uitspring en gaan werk. Dit was in Kimberley se sentrale. Sy het tussen ons skakelhuisie in Diagonalstraat en die poskantoor fiets getrap, want motor kon sy nie bestuur nie. Sy het botweg geweier om eers te probeer leer – al was sy ‘n bekwame vrou.
Verwese is die seuntjie Hennie ses maande na die begrafnis skool toe – die Laerskool Diamantveld oorkant die ou begraafplaas met die baie sipresse; die lang wit skool met die inspirerende leuse: “Concordia res parvae crescunt” (Deur gesamentlike inspanning kom groot dinge tot stand.). Vandag is dit verkort tot: “Van krag tot krag deur samewerking”.
Op my eerste skooldag gee Ma Baby my vroegoggend ‘n vinnige drukkie, klim op haar fiets en ry in Diagonalstraat af stad se kant toe vir ‘n vroeë skof by die telefoonsentrale. ‘n Ouer boetie of sussie om my hand vas te hou, is daar nie. Ek is alleen. Ek het haar kwalik geneem.
Weeskind of nie, skool akkordeer met die jonge Jakob, soos ek deur my eerste onderwyseresse op grond van my doopname genoem word. Spel en lees is my kos. Na ses maande is ek een van die twee of drie “spring-kaantjies” wat vroegtydig na die Sub B-klassie promoveer. Toe ek trots by die huis opdaag met die rapport en die groot nuus, is ma by die werk. Ek het haar n tweede keer kwalik geneem.
Aan die einde van die eerste skooljaar bring ek twee diploma’s huis toe: een vir tweede hoogste klasprestasie in Standerd B1, die ander vir vordering en (onverklaarbaar) vir kuns. Ek is later bed toe sonder om die blye nuus met haar te kan deel. Ek was opnuut bitter ongelukkig.
Eers baie, baie jare later het ek besef: sy het dit vir my gedoen – vir my kos en my klere, dat ek ook so netjies kon aantrek soos my klasmaatjies. Ek sou graag vir haar wou dankie se. Maar dit was te laat. Sy was toe ook al dood.
* Maria Petronella (Baby) Malan is op 1/11/1993 oorlede (HvD).
