Ons draai vandag die horlosie ver-ver terug – tot in 1961 toe die uwe redakteur van die Tukkie-studentekoerant, Die Perdeby, was. Daardie bytjie zoem nou al 70 jaar, en aanstaande week word daardie verjaardag saam met U.P. se eeufees gevier. Dis ‘n feesprogram om oor huis toe te skryf.
Daan van der Merwe, Studenteraadsvoorsitter en latere L.V. van die Konserwatiewe Party, ontbied my aan die begin van 1961 na sy kamer in Sonop-tehuis en gee my die nuus. Ek willig dadelik in, wetende dat ek vir my kursus B.A.(Hons) in Sielkunde net Donderdagaande klas sou hê. Lekker baie tyd om koerantman te speel.
Wat ‘n jaar word dit nie! Suid-Afrika word ‘n Republiek — ‘n droom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek Suid-Afrika se bande met die Statebond. Kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk. Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.
Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. H.F. Verwoerd kom kuier twee keer — die Maandag voor die referendum en toe weer op 29 Mei om ‘n gedenkplaat te onthul. Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen, en kom ontvang die eerste uitgawe van die jaarblad, Trek, (op die foto ook ‘n jong Frits Gaum, redakteur van Die Kerkbode; destyds lid van die Trek-redaksie).
Dr. Anton Rupert is die spreker op Lentedag. Hy bepleit ‘n “nuwe rassebenadering” en stel, in botsing met Verwoerd, nywerheidsvennootskap met onderontwikkelde Bantoegebiede voor. N.P. van Wyk Louw praat op gradedag oor wie en wat ‘n intellektueel is. Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.
Oor Cottesloe word op Woensdagaand 8 Maart ‘n monstervergadering gehou, waarheen etlike honderde Tukkies opruk. Ferdi Hartzenberg, latere KP-leier, stel ‘n mosie dat die Bantoe geleer moet word hy sal nooit op direkte politieke regte kan aanspraak maak nie, en dat die enigste blywende oplossing vir die land geleë is in “uiteindelike totale skeiding van blankes en nie-blankes en ‘n gedifferensïeerde ekonomiese ontwikkeling van die naturel in sy gebied”.
Die meerderheid stem ten gunste van die Hartzenberg-mosie en Die Perdeby bevind: “Hiermee het die vergadering ‘n magtige mandaat in die hand van die VSR. (Verteenwoordigende Studenteraad) gelê om namens die studente van UP, deur middel van die ASB. (Afrikaanse Studentebond), sterk aan te dring op selfs drastiese maatreëls ten einde die apartheidsbeleid ten volle te verwesenlik.”
Onthou: Dit was 1961 en die redakteur was nog nie mondig nie!
In dieselfde uitgawe van 17 Maart, verskyn ‘n voorblad-hoofartikel wat Tukkies oproep om op die lughawe Jan Smuts (nou die O.R. Tambo) aan dr. Verwoerd “hulde te gaan betuig vir die onverbiddelike standpunt in belang van ons vaderland wat hy (oor die Statebondskwessie) op die Premierskonferensie in Londen ingeneem het.” Die Tukkies ruk drie dae later met tien munisipale busse na die lughawe op, en Die Perdeby van 24 Maart jubel dit uit: “Magtige skare verwelkom ons premier — grootste uittog in geskiedenis.”
Op die hoofartikelblad het ‘n gereelde rubriekie verskyn, waarby ‘n tekening was van ‘n vet Meksikaan met ‘n hangsnor en ‘n rokende pistool in die hand. Hy sê: “Ek skiet jou as nie saamstem nie ….” In die uitgawe van 24 Maart moet daar eenstemmigheid wees “ dat ons nou almal Commonwealth Old Boys-kleurbaadjies kan dra!”
Die Perdeby was darem nie net politiek nie. Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het en by wie ‘n verliefde redakteur in ‘n stadium knaend flikkers gegooi het, tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Dit is seker ‘n rekord in nepotisme, maar het ongetwyfeld die koerant versier. Sy het mev. Gerdia Pretorius geword en het tussen Klerksdorp en Lichtenburg verongeluk.
Sosiale nuus was o.m. dat die naelloop-kampioen Sep Serfontein gekroon is tot 1961 se Mnr. Asterhof . Vir die eer moes hy daardie koshuis se ses verdiepings op en terug in minder as 46 sekondes.
Op die sportblad duik ‘n speler sierlik oor die doellyn nadat hy uit ‘n lynstaan weggebars het in ‘n naelbyt-wedstryd teen Diggers van Johannesburg. Dis niemand minder nie as Hans Smith, later die grootbaas by Yskor, ‘n ratse slot wat ook vir Transvaal uitgedraf het. Tukkies het daardie ene gewen met 25 teen 20.
Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom. Maar lof vir Die Perdeby het uit verskillende oorde opgedaag. Jan Grobler, gewese Nasionale LV wat met dr. Andries Treurnicht in sy ministersdae oorhoops geraak het, het geskryf: “Namens vele Tukkies wil ek u geluk wens met die wyse waarop u gevlieg het: soms so hoog dat die President daar kon bykom, soms so laag dat selfs ‘n ienk dit kon verstaan. “Laat nagte was vir u nie te veel moeite nie, laat bydraes kon nog altyd iewers ingedruk word. “Die beste ‘By in die afgelope ses jaar wat ek al hier rondlê. Baie, baie geluk.”
Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lof uitgespreek: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”
In my eie laaste hoofartikel was ek half weemoedig. “’n Mens raak lief vir die ‘By. Dit is nie alleen jou verantwoordelikheid nie, maar ook jou trots. Die verskyning van elke uitgawe word ‘n persoonlike bevrediging soos ‘n kunswerk vir sy skepper.”
Dat 47 jaar intussen verloop het, stem my opnuut weemoedig. (HvD)
