Die lekker wysie van Smokie se trefferliedjie van lank-lank gelede Living next door to Alice draai in my kop. Die liedjie handel oor die skaamste vryer denkbaar, maar dit is nie my assosiasie nie. Die Alice wat by my spook, is die Oos-Kaapse dorp met daardie naam – die tuiste van die Fort Hare-universiteit.
Tot dusver was die trustgebiede aan die soom van die Nasionale Krugerwildtuin vir my die outentiekste stukkie Afrika in Suid-Afrika. Elkeen wat al deur Numbihek is, sal weet wat ek bedoel. Moenie die pad na die Krugerhek weggooi nie. Of die ou dorp van Hazyview.
Die straathandel daar is uniek. Lewende hoenders word sommer uit ‘n draadhok agter op ‘n lendelam fiets bemark. Kos word op oop vure in konkas op die sypaadjies berei. Haarkappers werskaf met hul knippers op straathoeke. Kruiwaens met vragte hout is die wëreld vol. Beeste en bokke dwaal oor die paaie. Die malende mensemassa laat die keel toetrek – veral op bankdag as die tou eindeloos tot doer ver krul. Dan dra die winkels hul klanktoerusting na buite en die musiek dawer oorverdowend oor die pleine. Ex Africa semper aliquid novi!
Nou het Alice (en in ‘n effens mindere mate Fort Beaufort) in my boekie by Mpumalanga oorgeneem. Alles wat jou in Mpumalanga laat terugdeins, is ook hier teenwoordig, net meer gekonsentreerd. Die rommelhope lyk groter. Die verkeer is skrikwekkender. Die sukkelende gekronkel deur Aliceweens blykbaar nimmereindigende padwerke is ‘n nagmerrie. Die rye gehawende ou woonwaens wat in die hartjie van die dorp as allerlei soorte winkels (en sypaadjietuistes) dien, is ‘n onuitwisbare herinnering van ‘n onplesierige reiservaring.
Mpumalanga het darem‘n positiewe kant. Moderne sakesentrums, asook top-hotels en –blybeurtoorde, dui op vooruitgang. Hazyview spog met ‘n boetiek-buurt op Perry’s Farm en vakansiebestemmings soos die Krugerpark Lodge waar elke Westerling tuis sal voel. Alice (en Fort Beaufort) lyk of hulle net agteruitboer.
Albei stukkies Afrika is poorte tot gewilde vakansiebestemmings. In Mpumalanga lê anderkant die Afrika-ervaring die Wildtuin waarna toeriste in hul tienduisende stroom. Verby Alice (en Fort Beaufort) wag die woude, blommeweelde, kunstenaarskolonie en koloniale karakter van die romantiese Hogsback.
Living next door to Alice. Dit is of die kontraste tussen Derde Wêreld en Eerstewêreldse sofistikasie vir jou iets in die oor wil fluister van wat Suid-Afrika in sy wese is – ‘n unieke kombinasie van beskawings en kulture.
Nou hoor ek by vriende Alice (en Fort Beaufort) was op hul dag bekoorlike plattelandse dorpies waar mense graag wou gaan aftree. Weerskante van die rustige straatjies was ouwêreldse wonings met stoepe en “broekielace”-gietysterwerk. Ek hoor ook om by Fort Hare se kampus in te ry, is ‘n gerusstelling dat om van Afrika te wees, nie noodwendig agteruitgang beteken nie.
Wat hierdie reisiger betref, is dit egter dankie maar nee dankie. Alice (en Fort Beaufort) sien hom nie weer nie. Ook vir die aangename, karaktervolle Hogsback is dit dus hallo en tot siens.
Op die foto hierbo is die NG kerk op Cradock. Dis ‘n groter replika van St. Martins-in-the-field op Trafalgarplein in Londen. Werklik indrukwekkend. Op die sypaadjie voor die kerk sit ook maar lemoensmouse. Maar dis tog of jy hier (en in ‘n pragtige stad soos Grahamstad) in ‘n ander tydsone is as in in Alice (en Fort Beaufort), net ‘n paar uur se ry daarvandaan.
Waaraan die geweldige kontras toe te skryf is, wil ek liewer nie probeer uitpluis nie. Dit help egter nie om daaroor swartgallig te raak nie. Dis immers die hartklop van Suid-Afrika: aan die een kant ‘n Alice, aan die ander kant ‘n sierlike St. Martins-in-the–field in die Karoo. Eerste en Dêrde Wereld hand aan hand. (HvD)
