Plastiek is, in die algemeen gesproke, uiters eko- onvriendelik. Almal weet mos: plastiek-besoedeling is een van die ergste aaklighede waarteen buitelug-mense ‘n ewige stryd stry. Vir een stukkie plastiek wil ek egter ‘n loflied aanhef. Dit is die “Wild-kaart” van Infinity wat die draer toegang tot Suid-Afrika se wonderlike nasionale parke verleen.

Vir ‘n Sabieparker, soos die uwe, is die Wildkaart vir eers die paspoort tot die Krugerwildtuin. Jy kan heen-en-weer inwoerts by die Krugerhek net 2 kilometer van Sabiepark af. Vriende kan jou bel en roep: Kom kyk gou hier! Dan is jy binne minute op die toneel. So het ek al leeus afgeneem op pad na Skukuza wat ander kamera-verslaafdes se monde laat water.

Die Wildkaart stel Sabieparkers in staat om te kan spog dat hulle as ‘t ware in die Krugerpark woon. Wie nie glo nie, kan gerus kom kyk. Bel darem net eers om te hoor of die Van D’s tuis is in Tarlehoet (ons bosplekkie se naam) of nie.

Die Wildkaart het my jare gelede die uitgestreke Karoopark in die koppies buite Beaufort-Wes laat ontdek. Wat ‘n verkwiklike oornagplek is hierdie stuk “haai Karoo” tussen die noorde en die suide nie. In sy gasteboek het eks-Suid-Afrikaners geskryf: voor hulle weg is oorkant toe, het hulle maar net altyd haastig verbygery. Op ‘n tuisbesoek aan die land van hul vadere het hulle die eerste keer ingedraai. Hulle het oorgeloop van verwondering.

Nou het die Wildkaart nog ‘n nasionale park tot my lang lys gunstelinge bygevoeg. Dis die Bergkwaggapark, buite Cradock. Buiten die sowat 300 seldsame bergkwaggas, ‘n bedreigde spesie, wat aan die proklamasie van hierdie park in 1937 hul oorlewing te danke het, loop hier troppe, troppe buffels, elande, koedoes, swart wildebeeste (darem ‘n aansienlik aansienliker dier as sy blou boetie!) gemsbokke, rooi hartebeeste, blesbokke en springbokke.

Wees ook maar in die pasoppens vir die swart renosters (wat bra humeurig kan wees) en die cheetahs wat in 2007 hier hervestig is – en juis nou ‘n werpsel welpies grootmaak.

Een skemeraand op pad na die kamp toe (met heerlike, netjiese en gerieflike tweeslaapkamer-huisies sommer woeps in die veld), sien ons vlugtig ‘n dier in die gras skarrel. “Hiena,” roep my vriend Chris van Rensburg van Bloemfontein. “Bakoorjakkals,” waag ek. Uiteindelik was Chris nader aan die kol. Dit was ‘n aardwolf – my eerste. Moet se: die ore is darem baie in die “gearendheid” van ‘n bakoorjakkals, soos Cas Jacobs van Centurion sou se!

Die Bergkwaggapark laat nie net reg aan sy naam geskied met die kwaggas wat hier rondloop of die plek aan hulle behoort nie. Ook die berg-element is sterk teenwoordig. Op die einders le hulle blou ingeryg. Vat jy die Kranskoproete van sowat 28 km (wat op die oomblik opgegradeer word) is jy in die berge – tussen die rietbokke, grysbokke en ander kleiner diersoorte wat graag saam met die arende die hoogtes van die plato opsoek. Die park spog met 200 voelspesies.

Die valleie van hierdie park van 28 000 hektaar lewer skilderagtige natuurtonele – jy wil net gedurig in alle rigtings kiek. In die lente, vertel die mense, is die blommeweelde iets om oor huis toe te skryf. In die winter sneeu dit gereeld op die bergtoppe. Dan is dit prentjiemooi, glo ek.

Die wonder van die Wildkaart is dat ‘n mens ‘n parke-vakansie met ‘n groot verskeidenheid van natuurgenietinge soos krale aan ‘n snoer kan ryg. Ons was in ‘n Melbosgroep wat danksy Lourette Ellis se Oos-Kaapse wortels ‘n pakkie kon geniet wat die Karoopark, die Bergkwaggapark, Addo-olifantpark en Tsitsikamma by die Stormriviersmond insluit. (Ons was ook by Hogsback wat hoogs bereikbaar is van Cradock af) .

Ons het die fout gemaak om net een nag in die wonderskone Tsitsikamma te oornag. ‘n Mooier kus sal jy ver moet gaan soek en die rustige woude (wat ook vir die Knysnaloerie ‘n tuiste is) is salwend vir die gemoed. Dis nou Tuinroete met ‘n hoofletter T.

Dan kan jy, as jy die tyd en inklinasie het. sommer nog in die skone Knysna- en Wildernisparke ook vertoef. Hulle is ‘n klipgooi ver.

Oral kan jy net jou Wildkaart wys om binne te kom. As jy ‘n senior burger is en jy kies jou tye reg, kry jy nog by die parke ‘n ruime afslag vir pensioentrekkers. Terselfdertd verdien jy belonings (rewards) wat sommer ‘n groot hap afvat as jy na ‘n jaar ‘n nuwe Wildkaart moet aanskaf.

Ek bemark waarlik nie Wildkaarte teen kommissie nie. As ek plek-plek na die hiperbool neig, wees dan gerus: dis presies hoe ek voel. Suid-Afrika se parke bly ‘n sieraad – en die Wildkaart is die beste ding wat uitgevind is sedert appelkooskonfyt. op warm plaasbrood. (HvD)

Deel dit: