Middag uit Sabiepark

Atlete met leeueharte? Atlete so taai soos ratels?

Hoe ook al: Die duisend of wat atlete wat Saterdagoggend die 25ste Skukuza-halfmarathon in die Kruger-Wildtuin uitgespook het, sal seker almal saamstem dis nie jou gewone Saterdagoggend-draffie hierdie nie.

Nie met ‘n helikopter vol bespieders met kragtige verkykers wat bo jou kop duik en dreun nie. Ook nie met ‘n gewapende veldwagter elke kilometer om vir dreigende gevare dop te hou nie. Met die inry Skukuza toe is ons juis by ‘n troppie buffels langs die pad verby.

Wanneer die leeu brul (darem geblik) spring die atlete weg in Skukuza se personeeldorp waar ‘n kermis-atmosfeer op die sportveld heers. Die NGK Skukuza verkoop kerrie en rys; die skool worsbroodjies en so.

Die roete loop verby Lake Panic. Dan swaai die atlete links op die hoofpad tussen die Krugerhek en Skukuza. Die wedloop eindig waar dit begin het. Die wenners word soos Comrades-helde met ‘n gejuig verwelkom.

Op die frokkies lees jy die name van klubs oor die hele land. Houtbaai was daar om die Wes-Kaap te verteenwoordig. Bethlehem namens die Vrystaat. Gauteng en Mpumalanga oorheers. Van die deelnemers kom glo uit die buiteland.

My lojaliteit was by die Sabieparkspan van vyf sekuriteitspersoneel onder aanvoering van Alfred Mathebula (almal medaljes losgehardloop). Ook die klomp Tukkie-frokkies laat ‘n ou man se hart warm klop – veral die langbeen-nooientjies met die rooi, blou en goud strepe oor die bors.

Ouderdomme wissel van piepjonk tot duidelik nie meer so jonk nie. Opvallend baie van die gryses draf in frokkies wat op die een of ander kerkverbintenis lui: Run for Christ, Agape, ens.

Vir die Van D’s was dit seker hul tiende of meer Skukuza-halfmarathon – darem nog almal as toeskouers. Toe ‘n jong man glimlaggend verneem of ek ook hardloop, kon ek antwoord: Nee, ek is gediskwalifiseer oor my drie bene. My eerste een met ‘n kierie in die hand gewees!

Tokkie was darem in ‘n sekere sin ‘n deelnemer.

Sy het op haar tweeplaat-gasstofie in Sabiepark dertig koppies rys vir die kerk se kerrie-en-rys-tafel gekook.

Dit het ons in koffer Skukuza toe karwei. Ek het fluks foto’s geneem van Tokkie by haar rystas – in hierdie verband geen spelfout nie!

(hvd)

Deel dit: